Sewe verskillende bakterieë en verskeie gisse en fungi wat algemeen rondom – en binne – ons voorkom, is gebruik om 'n lewendige mikrobiese uitstalling te skep wat nou besigtig kan word in 'n glaskabinet in die foyer van die JC Smuts gebou by die Universiteit Stellenbosch, net tot hierdie Vrydag nog.

“Hierdie is 'n unieke geleentheid om 'n glimps te kry van die groot verskeidenhed van mikrobes in en rondo mons, almal saam in een uitstalling," verduidelik Dr Heinrich Volschenk, een van die span van personeel en studente in die Departement Mikrobiologie wat hard gewerk het om hierdie uitstalling van mikrobiese kuns tot stand te bring.
Geïnspireer deur die skeppers van die bakteriële advertensiebord vir die film Contagion, is die verskillende mikrobes spesifiek vir hul helder kleure, en veiligheid, gekies. Die eintlike rede vir die uitstalling is egter om die US se honderdjarige bestaansjaar te vier.
Tot dusver het die mikrobes almal se stoutste verwagtinge oortref.
“Weens die koue weer groei hulle stadiger as wat ons verwag het. Maar dit beteken dat die verskillende kleure beter vertoon, sowel as die verskillende morfologieë van die onderskeie mikrobes," sê Trudie Jansen, 'n dosent in die Departement Mikrobiologie.

'n Mens kan nou, byvoorbeeld, die groenerige skimmel herken wat op 'n lemoen vorm nadat dit vir te lank vergete in jou sak gelê het, of daardie blou-groenerige skimmel op verlede week se toebroodjies.
Indien jy van naby kyk, terwyl jy jou asem ophou, sal jy ook die spoortjies van mikroskopiese klein miete sien wat in tussen die vertoonkabinet gekolonaliseer het: “Hulle is in die lug rondom ons, maar ons kan hulle nie sien nie. Nou kan ons waarneem hoe hulle skynbaar uit die bloute verskyn het om op die oormaat van beskikbare kos te teer," vertel Jansen.
Op sosiale media kan mede mikrobioloë nie wag vir die volgende dag se foto's nie: “Dit is nou 24 uur later – ons super betroubare Serratia groei asof dit betaal word. Die heldergroen van Pseudomonas begin nou verskyn, en verskeie oranje en pienk gisse is besig om hul verskyning aan te kondig. Teen môre behoort die geel Micrococcus luteus ook sigbaar te wees", skryf Dr Shelly Dean in 'n Facebook inskrywing.
Daar is ook daagliks foto's op Twitter vanaf @Volschenk.
En vir 'n video oor hoe die uitstalling geskep is, besoek https://www.facebook.com/stellenboschuniversity/videos/699363127110615/

Die mikrobiese kunsspan van die US se Departement Mikriobiologie is, van links na regs, Odwa Biko, Zoë Bhana, dr. Heinrich Volschenk, Shakier Samie, Lindsay Faure, Ivan Harris, dr. Shelly Deane, Caylin Bosch, dr. Thando Ndlovu, Jane de Kock, prof. Alf Botha, Trudy Jansen, Wendy Wentzel, Monique Waso, Tersia Conradie, Kathryn Griessel, Warrick Sitzer, en Marisa Valentine. Ander spanlede wat nie op die foto verskyn nie, is prof. Wesaal Khan, Tania van der Merwe, Méshelle gey van Pittius, Ludwig Brocker, Alno Carstens en Elzaan Booysen.