Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boek gedenk 100 jaar van natuurwetenskappe by die US
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 26/09/2018

'n Gedenkboek wat die spoor volg van die eerste pioniers wat die grondleggingswerk gedoen het vir opleiding en navorsing in die natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), is vanaf 1 Oktober 2018 beskikbaar.

Hierdie gedenkboek, 'n Besonderse Denkwyse, Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch 1918-2018, dokumenteer ook die bydraes van verskeie individue in die vestiging van navorsingsvelde soos kernfisika en polimeerwetenskap in Suid-Afrika.

Prof. Chris Garbers, oudprofessor in Organiese Chemie vanaf 1958 tot 1978 en president van die WNNR vanaf 1984 tot 1990, skryf in die voorwoord dat sleutelinstellings soos die US se Fakulteit Natuurwetenskappe daartoe bygedra het “om Suid-Afrika van 'n hoofsaaklik landelike gemeenskap tot 'n nywherheidsreus op die Afrikakontinent te transformeer.

“Die boek is 'n samevatting van 'n eeu se gebeure, uiteengesit in maklik verstaanbare taal, asook die dokumentering van anekdotes oor verskeie eksentrieke karakters. Daarby is ryklik geput uit toepaslike insette deur kundiges," skryf hy verder.


 

Die rooi linne hardeband boek wat met foelie gebosseleer is op die voorkant en rug, bevat boonop meer as 200 foto's en beeldmateriaal uit die US Argief, die Africana-afdeling van die US Biblioteek, en verskeie artefakte uit departementele versamelings, insluitend wetenskaplike beeldmateriaal van voormalige en huidige navorsing.

“Die leser kry 'n lewendige en treffende blik op die besondere denkwyse van die historiese en teenswoordige natuurwetenskaplike," verduidelik prof. Pieter Swart, emeritus professor by die US en een van die redakteurs van die boek.

Volgens prof. Louise Warnich, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, is die gedenkboek 'n poging om 'n omvattende oorsig te gee van die eerste eenhonderd jaar van tersiêre onderrig en navorsing in natuurwetenskappe by die US, en verskeie van die departemente se ontstaansgeskiedenis is nou vir die eerste keer gedokumenteer.

“In die proses het verskeie personeellede die uitdaging aangepak en in stoorkamers ou dokumente en toerusting afgestof. Só het ons byvoorbeeld afgekom op 'n kleinkasboek vir Soölogie, met inskrywings in 1918 vir die aankoop van onder meer 19 konyne en 20 duiwe; asook 'n foto wat dateer uit circa 1880 van die heel eerste professor in Wiskunde en Natuurkunde aan die ou Victoria Kollege, prof. George Gordon, omring deur agt van sy studente."

Sy sê die Fakulteit Natuurwetenskappe is terdeë bewus van die letsels wat deur apartheid gelaat is: “Nou, en oor die volgende paar dekades, het ons die geleentheid om dinge anders te doen. Die samestelling en skryf van hierdie boek het ons gewys dat dit wat ons vandag doen, en hoe ons dit doen, 'n verskil sal maak aan die lewens van diegene wat na ons kom."

Zoology expenditure book 1918.png
 

Hoe om die boek te bestel

Om 'n kopie te bestel, stuur 'n e-pos na science2@sun.ac.za, waarna jy 'n faktuur sal ontvang met betalingsbesonderhede en inligting oor die afhaal of versending van die boek. Indien die boek gekoerier moet word, sal die koerierkoste by die prys van die boek gevoeg word.

Boekspesifikasies

Die boek het 'n rooi linne hardeband met foelie gebosseleer op die voorkant en rug. Die glans stofomslag het 'n Franse vou. Die boek is individueel in plastiek verpak en is beskikbaar in Afrikaans of Engels. Slegs 'n beperkte oplaag boeke is gedruk.

Papier: Teks gedruk op 157 gsm Gold East Matt

Formaat: 280 mm diep en 280 mm wyd

Grootte: 200 volkleurbladsye plus skutblaaie

ISBN Engelse uitgawe: 978-0-7972-1731-7

ISBN Afrikaanse uitgawe: 978-0-7972-1730-0

Publikasiedatum: Oktober 2018

Prys: R780 (afslag beskikbaar op bestellings van vier en meer boeke)