Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA het nie strategie vir selfdoodvoorkoming
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 10/09/2018

Met ongeveer een selfdood elke uur in Suid-Afrika, is dit moeilik om te glo dat die land nie 'n duidelike en omvattende nasionale strategie vir die voorkoming van selfdood in plek het nie.

“Selfdood is 'n ernstige openbare gesondheidsprobleem, maar baie min lae- en middelinkomste-lande het nasionale strategieë vir die voorkoming daarvan, ten spyte daarvan dat 80% van selfdoodgevalle in hierdie lande voorkom. Suid-Afrika, soos die meeste lande in Afrika, het nie 'n duidelike en omvattende strategie om selfdood te voorkom nie," sê dr Jason Bantjes, ʼn senior lektor in die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Bantjes doen navorsing oor die voorkoms en voorkoming van selfdoodgedrag. Sy werk word deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad ondersteun.

Bantjes sê die staat het beleide soos die Nasionale Geestesgesondheidsbeleidsraamwerk en -Strategiese Plan, asook ander strategie dokumente oor die voorkoming van geweld en beserings ontwikkel, maar hulle spreek selfdood net gedeeltelik aan.

“Hierdie raamwerke ontbreek egter aan genoeg besonderhede oor die voorkoming van selfdood om effektiewe plaasvervangers te wees vir 'n nasionale selfdoodvoorkomingstrategie wat gefokus, omvattend en bewysgebaseerd is."

Bantjes sê Suid-Afrika het duidelik 'n omvattende en beslissende nasionale selfdoodvoorkomingstrategie nodig om doelwitte vir die voorkoming van selfdood te stel en 'n raamwerk vir belanghebbendes te bied om saam te werk.

“Ons benodig leierskap om die soort integrasie en samewerking te bewerkstellig wat nodig is om selfdood in ons land te verminder."

“Só 'n strategie is van kritieke belang veral in ag genome die Wêreldgesondheidsorganisasie se beraming dat elke jaar 800 000 mense wêreldwyd aan selfdood sterf en selfdood die tweede grootste oorsaak van sterftes onder 15 tot 29-jariges is."

“Vir elke selfdood is daar na raming minstens 20 selfdoodpogings. Elke selfdood affekteer 'n groter groep mense. Sommige studies toon dat soveel as 35 mense ernstig geraak word deur elke selfdood."

Bantjes sê ondanks die voorkoms van selfdood bly dit 'n raaisel waarom die staat traag is om hulpbronne te belê in die ontwikkeling van 'n omvattende en geïntegreerde nasionale selfdoodvoorkomingstrategie.

Hy voeg by dat die interdissiplinêre benaderings, veelvlakkige strategieë en samewerking tussen verskillende sektore wat nodig is om selfdood te voorkom, slegs kan werk as daar 'n duidelike en effektiewe nasionale selfdoodvoorkomingsstrategie en behoorlike leierskap deur die regering is.

Bantjes sê daar is enkele redes waarom 'n nasionale selfdoodvoorkomingstrategie belangrik is.

“Dit dui op 'n duidelike verbintenis van die regering om selfdood te prioritiseer en aan te spreek, terwyl dit leierskap en leiding verskaf rakende bewysgebaseerde benaderings vir die voorkoming van selfdood."

“Dit vestig ook die aandag op die omvang van die probleem en identifiseer belangrike gapings in bestaande data, wetgewing, diensverskaffing en opleiding. Verder identifiseer dit die menslike en finansiële hulpbronne wat benodig word en stel dit 'n robuuste monitering- en evalueringsraamwerk daar om te verseker dat vordering gemaak word om selfdoodgevalle te verminder."

“Uiters belangrik is die feit dat ʼn nasionale strategie aanspreeklikheid tot gevolg het deur diegene wat vir die voorkoming van selfdood in die land verantwoordelik is duidelik te identifiseer."

Bantjes voeg by dat 'n nasionale selfdoodvoorkomingstrategie ons ook kan help om 'n raamwerk vir 'n geïntegreerde en omvattende navorsingsagenda daar te stel wat kan help verseker dat navorsers die nodige bewyse versamel om selfdoodgedrag te bekamp.

Hy sê daar is reeds belangrike navorsing in Suid-Afrika gedoen oor die voorkoming van selfdood, maar op die oomblik is dit nie geïntegreer nie en word dit deur die belange en agendas van individuele navorsers gedryf.

“Omdat die voorkoming van selfdood ingewikkeld is en soveel faktore daartoe bydra, benodig ons 'n meer gekoördineerde navorsingsnetwerk om kapasiteit te versterk en selfdood-voorkomingspraktyke in Suid-Afrika te bevorder."

Bantjes meen hierdie is veral belangrik wanneer daar bepaal moet word hoe om bewysgebaseerde intervensies aan te pas om te verseker dat hulle kultureel aanvaarbaar en konteks sensitief is vir gebruik in Suid-Afrika.

“Dit is nie altyd moontlik om eenvoudig strategieë wat in ander kontekste ontwikkel is, te gebruik sonder om eers te dink oor hul toepaslikheid en wat nodig sal wees om hulle vir ons spesifieke konteks aan te pas nie."

Bantjes sê almal wat deur selfdood geraak word, moet die staat versoek om leierskap in hierdie belangrike area van openbare gesondheid te verskaf.

“Ons moet geleenthede soos Wêreld-selfdoodvoorkomingsdag (10 September) gebruik om 'n nasionale strategie en hulpbronne vir die voorkoming van selfdood te bepleit. Om aksie te neem ten einde die lewens van alle Suid-Afrikaners te beskerm, is 'n integrale deel van nasiebou en kernbelangrik vir die bevordering van demokrasie in ons land."

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Jason Bantjes

Departement Sielkunde

Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2665

E-pos: jbantjes@sun.ac.za

       UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za