Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Landelike gesondheidsorg dikwels afgeskeep, meen US-kenner
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 05/09/2018

Ons moet meer aandag skenk aan die konteks van landelike gemeenskappe indien ons 'n verskil wil maak in die gesondheidsorg van mense in hierdie gebiede.

Dít was een van die gevolgtrekkings van prof Ian Couper, Direkteur van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) op Dinsdag (4 September 2018). Hy het sy intreerede oor die onderwerp Place in the sun: Reflections on relationships, rules, and rurality gelewer.

Couper het gesê landelike gemeenskappe, veral die voormalige tuislande, is agtergelaat in die stryd om 'n nuwe samelewing en mense in hierdie gemeenskappe se gesondheidstatus is dikwels swak vergeleke met dié in stedelike omgewings.

“Landelike gemeenskappe is een van die mees benadeelde in terme van toegang tot gehalte gesondheidsorg, met gevolglik swak gesondheidsuitkomste. Arm landelike huishoudings in 'n Mpumalanga-distrik spandeer tot 60% van hul maandelikse inkomste op herhaalde gesondheidsorgkonsultasies, hoofsaaklik omdat hulle baie reis en 15% van plattelandse gesinne in 'n nasionale opname lam gelê is deur uitgawes vir vervoer om toegang tot gesondheidsorg te verkry, ten spyte van gratis dienste.​"

“Landelike Suid-Afrikaners het hoër vlakke van MIV/Vigs- en TB-sterftes en ʼn stygende sterftesyfer weens nie-oordraagbare siektes. Daar is 'n hoë las van beroerte in landelike gemeenskappe, wat jaarliks sowat die helfte van die beroertesterftes in Suid-Afrika uitmaak."

Couper_Intreerede1.JPG“Toegang tot gesondheidsorg is 'n besondere uitdaging vir arm, landelike, gemarginaliseerde en gestremdes. Hierdie kwessies bied 'n uitdaging in die ontwikkeling van die Nasionale Gesondheidsversekeringsskema."

Couper sê daar is 'n internasionale tendens onder beleidsmakers om programme en beleide te ontwikkel sonder om die gevolge in landelike gebiede te oorweeg. Dit kan taamlik negatief wees, al is dit onbedoeld.

“ ʼn Bekende voorbeeld hiervan in Suid-Afrika was die aanvanklike uitrol van antiretrovirale terapie vir MIV/Vigs- pasiënte. Dit het basies verhoed dat groot getalle landelike pasiënte behandeling ontvang."

Hy het ʼn pleidooi gelewer vir die implementering van ʼn Landelike Impakstudie vir alle wetgewing, beleide en regeringsprojekte, soortgelyk aan die konsep van ʼn Omgewingsimpakstudie.

Couper sê meer aandag moet gegee word aan landelike gesondheid en die konteks van landelike gemeenskappe, veral wat die opleiding van gesondheidsorgwerkers en studente se blootstelling aan hierdie kontekste betref.

Hy het bygevoeg dat konteks kernbelangrik is en ʼn beduidende verskil maak in die opvoeding en opleiding van gesondheidswerkers vir landelike en afgeleë areas.

​“Landelike studente sien meer pasiënte en voer meer prosedures uit as hul stedelike eweknieë, ervaar omvattende sorg en bou sterk verhoudings met gesondheidsdienste, en groei in spanwerk en begrip van verskillende kulture."

Couper het gesê dit is belangrik om in ag te neem hoe die verskillende dimensies van landelike gemeenskappe die gesondheid van mense wat hier woon, beïnvloed.

“Ons reaksie op landelike gesondheidsorgbehoeftes moet die dimensies van gesondheidsbeleid, die struktuur van gesondheidsorgdienste en die aard van gesondheidsberoepe insluit."

Hy het gewys op die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid wat in 2002 gestig is en die Worcester Landelike Kliniese Skool, beide eerstes vir Suid-Afrika, as 'n manier om landelike gemeenskappe te bedien en gesondheidsorg vir mense in hierdie gebiede te verbeter.

Couper het die US aangemoedig om voort te gaan om leiding in die verband te neem, toepaslike hulpbronne beskikbaar te stel, landelike opleiding oor alle gesondheidsberoepsprogramme uit te brei, 'n kohort van landelike studente  te kies, en 'n multidissiplinêre instituut te ontwikkel om op plattelandse gesondheid as 'n breë multisektorale konsep te fokus.

  • Hooffoto: Pixabay
  • Foto 1: Prof Ian Couper (middel) saam met Proff Jimmy Volmink, Dekaan van FGGW, en Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, by die geleentheid.