Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Lindy Heinecken as president van internasionale komitee aangestel
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 29/08/2018

Prof Lindy Heinecken, een van die voorste militêre sosioloë in Suid-Afrika van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie by die Universiteit Stellenbosch, is onlangs vir ʼn driejaartermyn as president van die Internasionale Sosiologievereniging (ISA) se Armed Forces and Conflict Resolution Research Committee (RC01) aangestel. 

Die doel van die RC01 is om professionele kontakte tussen sosioloë in gewapende magte en konflikoplossing oor die wêreld heen te ontwikkel;die internasionale uitruil van navorsingsbevindinge, teoretiese ontwikkeling en metodologieë in die sosiologie van gewapende magte aan te moedig; die onderrig van kursusmateriaal oor gewapende magte en konflikoplossing op voorgraadse en nagraadse vlakke aan te moedig; en internasionale vergaderings en navorsingsamewerking op die gebied te bevorder. Die komitee het net onder 200 lede en is die mees verteenwoordigende vakkundige liggaam oor die bestudering van gewapende magte in die samelewing, met lede uit Oos-Europa, Asië, Europa en Amerika. 

Prof Heineckensê sy het glad nie haar verkiesing as president van die RC01 verwag nie. 

Heinecken is in een van die enkele sosiologie-departemente in Suid-Afrika gebaseer om navorsing te doen oor en onderrig te gee in militêre sosiologie, en haar werk het aan haar sertifisering deur die ISA se vereniging vir toegepaste en kliniese sosiologie as ʼn geregistreerde gesertifiseerde sosiologiepraktisyn besorg.

“Dit is werklik ʼn groot eer om as president van een van ISA se navorsingskomitees verkies te word, want dit verbreed nie net ʼn mens se netwerke op die gebied van militêre sosiologie nie, maar bied ook die geleentheid om met presidente van ander navorsingskomitees van ISA te skakel." 

Heinecken is reeds vir die afgelope tien jaar by ISA betrokke: Sy dien op die Uitvoerende Komitee van die RC01 en was die programkoördineerder vir die vereniging se sosiologie-wêreldkongres vir die RC01, wat van 15 tot 21 Julie in Kanada plaasgevind het.

Sy sê sy gaan redelik sterk daarop fokus om die RCO1 in ʼn spesifieke rigting te stuur deur te wys hoe sosiologieteorie navorsing en praktyk rig en hoe dit beleide en besluitneming beïnvloed.  

Dit is immers ʼn navorsingsgebied waarin sy haar reeds meer as drie dekades verdiep het. As een van die toonaangewende militêre kundiges, het Heinecken as navorser by die Sentrum vir Militêre Studies (CEMIS) by die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie gewerk, en in 1996 tot 2006 as adjunkdirekteur en senior navorser oorgeneem. Sy het ook op die raad van die Suid-Afrikaanse Sosiologievereniging en die bestuur van die Inter-University Seminar on Armed Forces and Society gedien, en dien op die redaksie van die Armed Forces and Society Journalen Scientia Militaria, South African Journal of Military Studies.

Haar intreerede, wat in 2014 plaasgevind het, was getiteldThe military, war and society: The Achilles heel of sociology and the need for reflection en het enkele sake beklemtoon waarna Heinecken verwys. 

“Die bestudering van die leër, oorlog en die samelewing bly aan die rand van die dissipline sosiologie en is dikwels vir sosiologiestudente onsigbaar. Dit gebeur ondanks die feit dat oorlog steeds ʼn onpeilbare uitwerking op die mens het, ook op ons eie vasteland, waar gewelddadige konflik steeds mensesekuriteit en -ontwikkeling ondermyn. Dit is dus geen verrassing dat die tema van die ISA 2018-kongres “Power, Violence and Social Justice" was nie, wat klem gelê het op die noodsaak dat sosioloë meer aandag gee aan die bestudering van geweld en gewapende konflik in vandag se wêreld."

Op grond van hierdie fokus en haar rol in die RC01 het sy verseker dat die RC01-kongres oor gewapende konflik en konflikoplossing in 2020 in Stellenbosch gehou sal word. Die bedoeling is om vooraanstaande Afrika-vakkundiges na hierdie geleentheid te lok om die gevolge van oorlog vir die samelewing asook middele en metodes vir konflikoplossing te bespreek.

Volgens Heinecken het die RCO1 aanmerklike vordering gemaak met die bestudering van die leër in die samelewing. Verskeie waardevolle samewerkende en internasionale studies oor die leër is daardeur voortgebring wat ʼn ryk bron van inligting geword het – nie net vir akademici en beleidmakers nie, maar ook vir militêre praktisyns. 

Die navorsing wat deur die ISA-vaktydskrifte gedeel word, is ʼn belangrike bron om akademici en beleidmakers te help verstaan wat in die internasionale militêre arena gebeur en hoe verskillende lande verskillende sake verbonde aan die leër hanteer. Heinecken beplan die publikasie van haar boek, South Africa's post-apartheid military: Lost in transition and transformation, oor die uitdagings waarvoor die leër te staan kom in die aanpassing by die nuwe sekuriteits-, politieke, regs- en sosiale omgewing.

Foto: Prof Lindy Heinecken met prof Marina Nuciari van Italië met ʼn onlangse publikasie getiteld The handbook of sociology of the military, wat die bydraes van RCO1-vakkundiges insluit. (Verskaf)​