Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vrouemaand Ubuntu-dialoog ondersoek Black Lives Matter
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 24/08/2018
As deel van die Ubuntu-dialoogreeks en Vrouemaand het die Transformasiekantoor van die Universiteit Stellenbosch (US) en die US Museum onlangs ’n gesprek aangebied met Tiffany Caesar, ’n doktorale kandidaat van Michigan-staatsuniversiteit in die Verenigde State, as gas. Tiffany het oor haar insigte en ervarings uit die Black Lives Matter-beweging in Amerika sowel as haar akademiese navorsing oor verbandhoudende onderwerpe gesels.

Tiffany se praatjie het oor die algemeen gehandel oor eugenetiek, en hoe dit steeds die lewens en sosiale mobiliteit van die swart gemeenskap oor vastelande heen raak. Wat strukturele rassisme in die besonder en die invloed daarvan op die onderwys betref, het sy verduidelik hoe gesegregeerde, swak gefinansierde onderwys en hoër werkloosheidsyfers in swart gemeenskappe dikwels tot ’n bose kringloop lei, wat gekleurde mense lewenslank affekteer. As ’n mens boonop in gedagte hou hoe die polisie en die regstelsel die swart gemeenskap behandel, kan die impak op families en gemeenskappe geslagte lank voortduur.

Tiffany het na alledaagse voorbeelde van voortgesette strukturele rassisme verwys, onder meer ook in Suid-Afrika. Na aanleiding van die geval van Pretoria High School for Girls, wat in 2016 internasionaal in die nuus was toe die skool swart leerders se natuurlike hare as strydig met skoolbeleid bestempel het, het sy gevra: Waarom word wit haarstyle universeel as netjies en keurig beskou, en natuurlike swart haarstyle as wild en onnet?

Die soeklig is ook op die kwessie van meritokrasie gewerp, en die algemene narratief in Amerika dat mense uit swart gemeenskappe eenvoudig “uit eie krag” op hulle voete moet kom. Is dít billik of selfs moontlik in ’n omgewing waar swart mense met swak onderwys, hoë werkloosheidsyfers sowel as ’n openlik bevooroordeelde strafregstelsel te kampe het?

Ná haar praatjie het Tiffany met Nomzamo Ntombela, voormalige voorsitter van die Studenteraad, in gesprek getree. In die vraag-en-antwoordsessie met die gehoor daarna is kwessies aangeroer soos institusionele reaksies op die naamsverandering van wit magsimbole op kampusse wêreldwyd, en wat Tiffany as ’n “valse ideologie van kleurblindheid” beskryf. Haar ervarings in Amerika wat die stadige tempo van verandering in die hoëronderwyssektor betref, is dat “studente eers moet huil” voordat iets gedoen word om tersiêre ruimtes meer verwelkomend vir studente van alle rasse te maak.

*Die gesprek is voorafgegaan deur ’n oomblik van stilte uit eerbied vir Zondeni Veronica Sobukwe, een van die ikone in Suid-Afrika se vryheidstryd, en soulkoningin Aretha Franklin, wat albei kort vantevore oorlede is.