Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-student wen eerste internasionale Anders Bäkstrom Prys
Outeur: Corporate Communications/Korporatiewe Kommunikasie (Rozanne Engel)
Gepubliseer: 23/08/2018

Eerw Mwawi Chilongozi, 'n PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), is die wenner van die internasionale Anders Bäkstrom Prys, wat pas die eerste keer ooit toegeken is. Die seremonie sal in Berlyn, Duitsland, plaasvind tydens die Internasionale Vereniging vir die Navorsing en Bestudering van Diakonie en Christelike Maatskaplike Praktyk se kongres van 12 tot 14 September vanjaar.

Anders Bäkstrom, emeritusprofessor in die sosiologie van godsdiens aan Uppsala Universiteit in Oslo, Noorweë, het die fonds in 2014 gestig ter ondersteuning van navorsing oor diakonie, Christelike maatskaplike praktyk, welsyn en godsdiens, en in die besonder van jong navorsers in die vakgebied. Aan die begin van 2018 het die direksie van die Anders Bäkstrom Fonds aangekondig dat 'n splinternuwe prys vir 'n uitmuntende meesterstesis in die vakgebied diakonale studies, welsyn en godsdiens toegeken gaan word.

Eerw Chilongozi se meesterstesis, wat sy in 2017 aan die US afgehandel het, is vir die prys aanbeveel deur haar studieleier, prof Nadine Bowers-Du Toit, by die Departement Praktiese Teologie. Die wennertesis fokus op die rol van die Presbiteriaanse Kerk in Malawi wat die gesondheid van moeders betref.

Eerw Chilongozi het haar meesterstesis binne een jaar afgehandel, wat 'n rekordtyd is, en 'n baie goeie punt vir die eindproduk ontvang. Die bevindings van haar meestersnavorsing gaan ook gepubliseer word as 'n hoofstuk in 'n boek wat binnekort verskyn.

“Dit is die heel eerste toekenning van die Anders Bäkstrom Prys, en om as die eerste ontvanger daarvan aangewys te word, is vir my 'n oorweldigende eer. Moeders se gesondheid is 'n sosiokulturele en ontwikkelingskwessie waaraan almal in 'n gemeenskap moet aandag gee. Ek dink dat die kerk in Malawi ook 'n rol te speel het om sterftes onder vroue wat geboorte geskenk het, te verminder, nie net die regering, VN-agentskappe en nieregeringsorganisasies nie," vertel eerw Chilongozi.

Eerw Chilongozi is 'n gelegitimeerde predikant in die Kerk van Sentraal-Afrika Presbiteriaanse Sinode van Linvingstonia (Malawi), en was in 2004 die tweede vrou wat in hierdie sinode gelegitimeer is. Sedertdien het sy die sinode al in verskeie leiersposisies gedien. Vanaf 2004 tot 2011 was sy ook lid van die Kerke in Malawi se Komitee vir Christelike Diens. Sy is tans in haar eerste PhD-studiejaar aan die US.

Volgens prof Bowers-Du Toit is eerw Chilongozi 'n uiters gedissiplineerde, intelligente en toegewyde student. Sy is opgewonde daaroor dat een van haar studente hierdie prys gaan ontvang. “Ek het groot bewondering vir haar duidelike visie vir haar tesis, want dit is 'n sleutel-uitdaging binne ons konteks in Afrika – een waaroor daar nie dikwels teologies nagedink word by die kruispunte van teologie, ontwikkeling en gesondheid binne hierdie verband nie."​