Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ko-kurrikulum gee studente ’n groot voorsprong
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 22/08/2018

​In ooreenstemming met die Universiteit Stellenbosch (US) se voorneme om denkleiers vir die toekoms te kweek en ná 'n transkripsie-akkreditasieproses deur die Ko-kurrikulumkantoor, ontvang studenteleiers en vrywilligers nou een transkripsie by hul gradeplegtigheid.

Die US se verbintenis tot die kweek van leiers met 'n diep insig in wêreldkwessies, met innoverende maniere om hulle kreatiewe vermoë vir probleemoplossing te ontsluit en met die moed om betekenisvolle stappe in diens van die samelewing te neem, het tot die instelling se aanvaarding van die ko-kurrikulêre konsep gelei.

Dit beteken dat ervaringsopvoeding só geposisioneer word dat studente in staat gestel en aangemoedig word om krities betrokke te raak by kennis en kennistoepassing in die samelewing en geakkrediteer word vir die rol wat hulle as vrywilligers, leiers en mentors speel.

Die Ko-kurrikulumkantoor, onder leiding van me Ruth Andrews, sal dus deur die loop van die jaar skryfwerkswinkels aanbied vir studente ter motivering van waarom hulle hierdie akkreditasie verdien wanneer hulle gradueer.

Erkenning vir ekstra, ko-kurrikulêre werk wat studente by die universiteit onderneem, gee hulle waarskynlik 'n voorsprong bo hulle eweknieë en maak hulle meer geskik vir werk ná universiteit.

Me Andrews het aan Korporatiewe Kommunikasie gesê “die doel is om gegradueerdes te kweek wat effektief en krities kan dink", wat “diepte in 'n bepaalde kennisveld bereik het" en wat 'n “kritiese waardering het vir die maniere waarop ons kennis en begrip van die heelal, van die samelewing en van onsself verkry". Ons gegradueerdes moet ook “'n wye kennis van ander kulture en ander tye" hê en hulle moet “in staat wees om besluite te kan neem met verwysing na die wêreld in sy geheel en die historiese kragte wat daaraan vorm gee".