Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Totsiens, Martie van der Linde
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 17/08/2018
Die Universiteit Stellenbosch (US) se eie “koningin van funksies” is nie meer met ons nie. Martie van der Linde, Bestuurder:  Verhoudingsbou in die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, is onverwags in die vroeë oggendure van Dinsdag 14 Augustus by haar huis op Onrusrivier oorlede.

Martie was 'n bekende personeellid by die US waar sy vir meer as 22 jaar gewerk het. Sy het begin as 'n persoonlike assistent en haar opgewerk na Hoof: Funksies en Openbare Skakeling in die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie voordat sy in 2015 by Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge aangesluit het. Gedurende haar tyd aan die US het sy onder meer die inhuldiging van drie US-rektore, professore Chris Brink, Russel Botman en Wim de Villiers en twee kanseliers, dr Frederik van Zyl Slabbert en dr Johann Rupert behartig. Sy is selfs gevra om die begrafnisse van Kanseliers, prof Elize Botha en dr Van Zyl Slabbert asook voormalige rektor prof Botman te organiseer.

“Ons innige meegevoel met Martie se geliefdes. Sy was ʼn legende by die Universiteit Stellenbosch  -  ʼn absolute instelling. Sy was ongelooflik lojaal en het vir jare uitstekende diens aan die Universiteit gelewer. Maar benewens haar professionaliteit, sal ons ook haar borrelende persoonlikheid en haar skrik-vir-niks-houding mis. Dit is ʼn groot verlies vir ons almal,” het die US-rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, gesê. 

Prof Niel Krige, Voorsitter van die Ontwikkelingskantoor, met wie Martie sedert 2015 nou saamgewerk het, het gesê sy is onvervangbaar. “Sy was in vele opsigte vir so baie jare die openbare gesig van die Universiteit en ʼn geliefde kollega in die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge. Ons het almal liefdevolle herinneringe van haar aansteeklike lus vir die lewe, professionaliteit, kreatiwiteit, en enorme empatie.”

Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, onthou hoe Martie kort ná haar 60ste verjaardag in April 2015 deel van haar span geword. Sy het die rol van Bestuurder van belangrike individuele skenkers aan die Universiteit vervul en met uitmuntende idees en haar kenmerkende entoesiasme by Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge aangesluit.

“Hoewel Martie vir baie jare met die Universiteit se Ontwikkelingsafdeling geskakel het, was fondsinsameling vir haar ʼn nuwigheid -  nie regtig bemarking nie, nie regtig kommunikasie nie, en tog iets wat haar soos ʼn handskoen gepas het. En sy was gretig om te leer, om te groei en te verken.

“In 2016 het ons die Kanselierskring, die sirkel van skenkers, geloods. Martie was die beskermvrou, met klas en ʼn duidelike doel in haar kenmerkende styl. Sy het belangrike ondersteuning aan prof Krige gebied en die twee van hulle het baie ure spandeer om praktyke en protokolle vir skakeling met skenkers te ontwikkel – hulle het in hierdie area ʼn nuwe standaard vir die Universiteit gestel.”

Bruns het gesê Martie het ervaring en ongelooflike varsheid na die Afdeling gebring en was altyd gewillig om nuwe idees en maniere van doen te toets. Sy het dikwels haar veel jonger kollegas uitgedaag om “buite die boks te dink”.

“Martie was altyd sjarmant en dit was lekker om in haar geselskap te wees. Die funksies wat sy gereël het was stylvol, foutloos en die hoogtepunte in die Rektor se dagboek. Ons is platgeslaan deur haar skielike heengaan en weet dat haar kollegas, die skenkers en alumni met wie sy gereeld geskakel het en die hele universiteitsgemeenskap haar onvervangbare sprankel sal mis,” het Bruns bygevoeg.

Susan van der Merwe, Direkteur: Kommunikasie en Belanghebberverhoudinge, wat vir meer as 12 jaar saam met haar in die destydse Afdeling Bemarking en Kommunikasie gewerk het, het gesê Martie sal onthou word vir haar ewigdurende jonkheid van gees. “Sy kon ʼn prentjie van ʼn funksie in haar gedagtes vorm en dit op ʼn gedetailleerde en kreatiewe manier maak werk. Martie het spesiale flair aan die inhuldigings van die US se Kanseliers en Visekanseliers verleen, maar ook terselfdertyd gemaklik met studentefunksies soos die Diversiteitsweek se Fees van Kleure. Sy was ʼn grasieuse en elegante dame.”

  • Die familie sal op ʼn later stadium die tye vir gedenkdienste bekend maak.
  • Fotograaf: Stefan Els