Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Steun aan die US oor generasies heen
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 08/08/2018

​Min families kan aanspraak maak op ’n geskiedkundige band met die Universiteit Stellenbosch (US) wat al só lank bestaan en só stewig is as dié wat die Roos-familie gevorm het nie. Vier generasies studeer sedert die 19de eeu aan die Universiteit en vyf generasies van die Roos-clan ondersteun die afgelope sowat honderd jaar Matiestudente deur volle of gedeeltelike beurse.​

Sedert 1987, toe Gideon Roos sr. ’n filantropiese verhouding hernu het wat sy oupa bykans 70 jaar gelede geïnisieer het, verleen die Roos-familie reeds finansiële steun aan studente in die wetenskap, regte en musiek aan die US, terwyl leerders en studente die geleenthede ontvang wat agtereenvolgende lede van die Roos-familie te beurt geval het.

Die beursfonds wat die familie voorsien, is 40 jaar gelede hernu toe Gideon Roos sr. met skok agter gekom het die kapitaalbasis van die fonds wat sy oupa ter nagedagtenis aan sy broer gestig het, is met die dekades dermate weggekalwe dat dit nie langer as ’n losstaande fonds kon deurgaan nie. Die Universiteit was dus genoop om die beursfonds met ander relatief klein skenkings aan te vul.

Roos, wat in 1930 ’n regsgraad aan die US behaal het en vasbeslote was om die familie se steun aan behoeftige studente te laat herleef, het ’n nuwe trust vir die voorsiening van beurse gestig.

In die afgelope jare is een-derde van die geld uit die beursfonds toegewys vir steun aan studente wat in die wetenskap en regte studeer; een-derde is gebruik vir die subsidiëring van ’n musiekbeurs wat ter ere van Gideon Roos sr. se vrou, die sangeres en aktrise, Esther Mentz, gestig is; terwyl een-derde toegewys is vir steun aan leerders van die Paul Roos Gimnasium op die dorp.

Die verdienstelike studente in die regte, musiek en sosiale wetenskappe word deur die Universiteit gekies; terwyl die Paul Roos Gimnasium, wat na die pa van die trust se stigter en voormalige rektor daarvan vernoem is – die oudSpringbok-rugbykaptein, Paul Roos – die verdienstelike leerders kies.

Die fonds het deur die jare gegroei en na ander steunareas uitgebrei, ofskoon die Universiteit Stellenbosch die fokus daarvan bly. 

Volgens die stigter van die fonds, wat later die direkteur-generaal van die Suid-Afrikaanse nasionale uitsaaier (nou die SABC) geword het, was ’n groot deel van wat hy later bereik het te wyte aan die volle Rhodes-toekenning van die Universiteit van Oxford waarmee hy sy nagraadse studie kon voltooi. Sy mikpunt met die stigting van die beursfonds was om dieselfde geleenthede vir behoeftige studente te skep deur finansiële steun vir hulle voortgesette studie.

Ná Gideon sr. se afsterwe in 1999 is die fonds deur sy twee seuns, Gideon jr. en Paul, asook twee onafhanklike trustees bestuur, voor ook die seuns onderskeidelik in 2014 en 2017 oorlede is, en dié se seuns op hulle beurt, as trustees by die fonds aangesluit het. Die toetrede van ’n nuwe generasie van die Roos-geslag tot die direksie het ’n verdere hernuwing van die fonds se fokus en doelwit tot gevolg gehad.

Tot onlangs toe is die steun deur middel van ’n klomp relatief kleiner skenkings versprei. Alhoewel dit die opvoeding van ’n hele aantal studente gesubsidieer het, het elkeen slegs ’n relatief klein bydrae tot hulle finansiële behoeftes ontvang. Die trustees het daarom besluit dat vanaf die nuwe akademiese jaar, en in pas met die oorspronklike wense van Gideon Roos sr., die fondstoewysings eerder vir ’n volle beurs aan kwalifiserende studente gebruik sal word.

Met ander woorde, alhoewel minder beurse toegeken sal word, sal die beurse voorsiening maak vir die volle koste van die betrokke studievelde vir die gekose akademies verdienstelike studente wat in finansiële nood verkeer. Die Universiteit kies sodanige studente vir studie in die regte, musiek en die landboukundige wetenskap.

"Die toekoms van die beursfonds sal gevolglik wees om ’n groter impak op gekose studente se lewe te hê deur soortgelyke geleenthede te skep as dié wat Gideon Roos in 1934 gekry het toe hy ’n Rhodes-toekenning (vir studie aan die Universiteit van Oxford) ontvang het," sê Maties-alumnus en beursfondstrustee Faans Roos, die seun van Gideon Roos jr.

Volgens Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge, is ’n hele klomp studente se lewe verander vanweë die gulhartigheid van die Roos-familie. "Daar is groot waardering vir die steun wat van die Gideon Roos-beursfonds ontvang word en die Universiteit sien uit na ’n voortgesette vennootskap."