Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voortsetting van loopbaanvoorligtingprojek is van kardinale belang – projekspan
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 01/08/2018

Die sosiale impak van die projek “Om loopbaanbeperkinge en -kompromieë te oorkom", wat loopbaanvoorligting aan graad 9-leerders in gemeenskappe met min of geen hulpbronne gebied het – is so onontbeerlik dat pogings verdubbel moet word om te verseker dat die projek voortgesit kan word.

Dit was die gevolgtrekking van die span en befondser wat vir hierdie projek verantwoordelik is – 'n gesamentlike poging tussen die Departemente Sielkunde en Bedryfsielkunde by die Universiteit Stellenbosch (US). Meer as 80 studente en personeellede het vroeër vanjaar saamgewerk om materiaal te ontwikkel en werksessies te hou om loopbaanvoorligting aan meer as 1 000 leerders in agt histories-benadeelde skole in Stellenbosch, Franschhoek en Delft te bied om hulle te help om gepaste vakkeuses te maak.

Die projek is deur die Rupert-stigting gefinansier. 'n Terugvoeringsessie is Donderdag 26 Julie aan skoolverteenwoordigers, gemeenskapslede en die befondsers gebied.

Met die verskuiwing in onderwys na die Uitkomsgebaseerde onderwyskurrikulum (OBE), is een van die ernstige probleme in die hoëronderwysstelsel die gebrek aan beroepsvoorligting, het projekleiers mev. Michelle Visser en prof. Tony Naidoo gesê.

“In skole reg oor Suid-Afrika het lewensoriënteringonderwysers nou die taak om adolessente voor te berei om keuses oor hul toekoms te maak. Hierdie onderwysers word egter deur aansienlike beperkings op hul tyd in die gesig gestaar, wat bydra tot beperkte loopbaanonderrig.

“As gevolg van ongunstige sosio-ekonomiese toestande het baie leerders 'n beperkte perspektief op  loopbaanopsies en die paaie om hul loopbaanaspirasies te bereik, en is hulle geneig om hul potensiële keuses in te perk en te kompromitteer."

Hierdie ingryping is daarop gerig om leerders te help om, onder meer, hul beroepsbelange en ander loopbaaneienskappe te verken en te identifiseer, hul loopbaaneienskappe aan loopbaankeuses te koppel en ingeligte besluite rakende hul keuse van senior skoolvakke te neem. Die Lewensoriënteringonderwysers was by die projek betrokke om skoolkapasitasie te verseker.

“Ons beskou hierdie projek as deel van die sosiale- impakkontrak wat die universiteit met die gemeenskap het. Dit is een van die universiteit se strategiese doelwitte om 'n kennisvennoot te wees en om betrokke te wees by betekenisvolle interaksies met ons gemeenskappe waar ons dit wat ons onderrig en dit wat ons navors met diens kan verbind," het prof. Naidoo bygevoeg.

Studente wat deel van die projek gevorm het, het oor die impak op hul lewe en vooropgestelde idees vertel.

“Ons was dikwels verstom deur die leerders se uiteenlopende en oorvloedige potensiaal," het hulle gesê.

Me. Carin Venter, hoof van Hoërskool Kylemore, het die projekspan bedank.

“Julle het 'n hele nuwe wêreld vir ons leerders geopen. Die terugvoering van sowel ons leerders as onderwysers was baie positief en ons waardeer die ekstra myl wat julle saam met ons gestap het."

'n Groep ma's van leerders aan Hoërskool Rosendaal in Delft was ook dankbaar.

“Ons kinders gaan bo die massas uitstyg. Hulle gaan professionele mense kan word omdat hulle die regte vakke gaan hê om hulle vir tersiêre onderwys voor te berei," het hulle gesê.

Me. Priscilla Booysen, Direkteur van die Rupert Onderwysstigting, het genoem dat daar 'n diepgaande behoefte vir hierdie soort projekte is. Volgens haar word hulle dikwels gekonfronteer deur die uitdaging van leerders wat vir beurse aansoek doen sonder dat hulle die regte vakke het vir die loopbaan wat hulle wil volg.

“Ons moet definitief ondersoek instel hoe mens hierdie projek volhoubaar kan maak. Dankie dat julle ons toelaat om deel van hierdie pragtige, dinamiese proses te wees," het sy bygevoeg.

Foto: Die projekspan. Fotograaf: Anton Jordaan (SSFD)