Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waarom die stryd teen seksuele geweld belangrik is vir die Suid-Afrikaanse dekolonisasieprojek
Outeur: Dr Azille Coetzee
Gepubliseer: 01/08/2018

​Grusame voorvalle van verkragting, seksuele aanranding en seksuele teistering is so algemeen in Suid-Afrika dat die land bekend is as die “verkragtingshoofstad van die wêreld". Eienaardig genoeg kry hierdie kwessies egter nie veel aandag in die Suid-Afrikaanse politiek nie.

Die politieke diskoers in die land stel die transformasie van rasseverhoudinge bo die transformasie van genderverhoudinge. Ras en gender word as twee afsonderlike projekte beskou, en die verbetering van rasseverhoudinge in die nadraai van apartheid en kolonialisme word as 'n dringender saak as die hantering van genderkwessies voorgehou.

Tog, soos die Suid-Afrikaanse feministiese vakkundige Shireen Hassim aanvoer, word die land in die war gestuur deur 'n tipe rassediskoers wat feministiese pogings om die werking van gendermagspolitiek te bespreek, probeer smoor en verplaas. Terselfdertyd, sê sy, bly politieke mag ten nouste gekoppel aan gender en manlikheid, hoewel niemand bereid is om dit te erken nie.

Heelwat feministiese vakkundiges het al daarop gedui dat gender intiem verweef is met die rassisme van die koloniale projek. Hulle navorsing doen aan die hand dat nóg die logika nóg die gevolge van rassisme in koloniale en postkoloniale verbande behoorlik begryp kan word sonder om die genderdimensie goed te verstaan.

Ek en 'n kollega het in 'n onlangs gepubliseerde navorsingstuk op die werk van veral drie sulke vakkundiges gekonsentreer: die Nigeriese sosioloog Oyèrónké Oyĕwùmí, die Argentynse filosoof Maria Lugones, en die Suid-Afrikaanse feministiese vakkundige Pumla Dineo Gqola.

Hulle voer op verskillende maniere aan dat die seksuele uitbuiting en objektivering van swart vroue deur koloniale moondhede, en die demonisering van swart manlike seksualiteit as dierlik, 'n kerndeel van die koloniale projek was. Wanneer 'n mens hulle werk in samehang lees, toon dit dat hierdie konstrukte van swart seksualiteit nie 'n blote historiese fout of misstap was[U1]  nie. Dit was weliswaar waarom die werking van koloniale mag gedraai het. En in die postkolonie duur daardie logika voort.

Geslag en die koloniale projek

Volgens Lugones het die Westerse onderskeid tussen manlik en vroulik vir die koloniseerders as 'n teken van beskawing gedien. Om “beskaafd" te wees, moes jy hierdie onderskeid, die gepaardgaande norme en waardes internaliseer.

Die genderkonfigurasies en samelewingstrukture van die gekoloniseerde het nie by die Westerse gendernorme ingepas nie. Ingevolge koloniale logika was dít 'n “bewys" van die gekoloniseerdes se dierlikheid en minderwaardigheid. Dit het beteken dat hulle deur Westerse verowering “gered" moes word.

In haar boek The Invention of Women beskryf Oyĕwùmí hoe die Britse koloniale administrasie in Yorùbáland, Nigerië, mans as vroue se meerdere uitgebeeld het. Administrateurs het vroue tot 'n identifiseerbare, duidelik afgebakende en voorafbepaalde regs-, maatskaplike en biologiese kategorie gereduseer en gehomogeniseer. Dié indeling het op hulle anatomie berus, en het beteken dat hulle altyd ondergeskik aan mans sou wees.

Die koloniseerders het die kategorie “vrou" bekend gestel. Daarmee is die veelvuldige identiteite van vroue in die prekoloniale samelewing van Yorùbá, wat nóg met hulle gender nóg hulle vroueanatomie verband gehou het, misken. Hierdie identiteite kon enigiets van boer en jagter tot ma, kok, kryger en heerser insluit – “alles in een liggaam". Oyĕwùmí skryf dat die skepping van die (Yorùbá-)“vrou" as kategorie een van die koloniale staat se heel eerste “prestasies" in Yorùbáland was.

Lugones en Oyĕwùmí se werk toon dus op verskillende dog aanvullende maniere dat die proses om “die inboorling te beskaaf" nie net met ras te doen gehad het nie. Dit was ook stewig op gender gegrond. Die treffende implikasie is dat kwessies van seksualiteit in 'n postkoloniale samelewing soos Suid-Afrika nie van ras en kultuur losgemaak kan word nie, en omgekeerd.

Blywende gevolge

In pas met hierdie argumente glo ek dat Suid-Afrika se probleem met seksuele geweld óók as 'n kerndeel van die koloniale nalatenskap verstaan kan word. Enige ernstige strewe na dekolonisasie behoort dus die hantering van hierdie krisis as 'n voorrangsaak te beskou.

In dié verband is een van Gqola se argumente besonder relevant. Sy verduidelik dat swart manlike seksualiteit in die koloniseerder se oë as dierlik en roofsugtig gedemoniseer word, met swart vroulike seksualiteit as teenbeeld. Dus is swart vroue altyd rééds verkrag, en gevolglik op paradoksale wyse “onverkragbaar" in die oë van die reg en die samelewing.

Met ander woorde, die seksualiteit van die gekoloniseerdes is in die kolonie so gekonstrueer dat niks wat aan 'n swart vrou gedoen is as verkragting geklassifiseer kon word nie. Daar was twee redes hiervoor. Eerstens is swart vroue as so primitief seksueel uitgebeeld dat geen seksuele toenadering onwelkom was nie. En omdat swart mans as “natuurlike verkragters" gedemoniseer is, het dít beteken dat swart vroue in alle gevalle reeds verkrag is, deur swart mans.

Hierdie nalatenskap leef voort in Suid-Afrika. Verkragting word deesdae genormaliseer. Die samelewing neem dit nie ernstig op nie, en die strafregstelsel laat dit meestal ongestraf.

Dekolonisasie en die hantering van seksuele geweld

Vakkundiges soos Lugones, Oyĕwùmí en Gqola leer ons dat die voortslepende koloniale produksie van rassehiërargieë steeds deurtrek is van die koloniale logika van dierlike seksuele kategorisering.

Die dekolonisasie van die Suid-Afrikaanse samelewing vereis dat ons seksuele geweld as 'n kernaspek van die kolonie erken en benader. Dit moet beskou word as 'n probleem wat ten nouste verweef is met koloniale swartsmeerdery, uitbuiting en vernedering van die rasbelaaide liggaam.

Artikel deur: Dr Azille Coetzee: Nadoktorale genoot, SARChi-leerstoel in genderpolitiek

*Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.