Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Syfers vertel die suksesverhaal van die 2018 Schumann-medaljeontvanger
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 31/07/2018

Toe Gerben Draaijer, die ontvanger van die 2018 CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, as matriekleerder in Paul Roos Gimnasium moes besluit wat hy wou studeer, het hy geweet dit “moet iets met syfers te doen hê".

En syfers vertel dan ook die sukesverhaal van sy tyd as student in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Volgens prof. Garrett Slattery, hoof van Aktuariële Wetenskap, was Draaijer se akademiese punte oor die vier jaar uitsonderlik en het hy sowel sy voorgraadse as sy honneursgraad in Aktuariële Wetenskap in 2016 en 2017 onderskeidelik cum laude verwerf.

“Hoewel dit nie ongewoon is vir uitsonderlike studente om meer as 90% vir sekere modules te behaal nie, het mnr. Draaijer meer as 90% in die meeste van die modules van sy Baccalaureus-graad behaal, met punte van tot 100% in sekere modules en 'n gemiddelde punt van in die middel-90's.

“Hy was ook die topstudent in sy honneursjaar en is aanbeveel vir al die moontlike vrystellings van die Aktuariële Genootskap van Suid-Afrika se eksamens op grond van sy prestasies in gelykstaande universiteitmodules.

“Sedert die jaar 2000 het ons net drie ander studente gehad wat op dieselfde vlak as mnr. Draaijer presteer het, waarvan twee uiteindelik die Kanseliersmedalje ontvang het," het prof. Slattery in sy motivering geskryf.

Volgens Draaijer is daar net een manier om akademies goed te vaar, en dit is om hard te werk.

“Dit is ook belangrik om 'n plan te hê en seker te maak 'n mens is uitset-georiënteerd pleks van tyd-georiënteerd."

Draaijer het egter nie sy hele universiteitsloopbaan agter die boeke bestee nie. Hy was 'n lid van die manskoshuis Dagbreek se huiskomitee en ook die Aktuariële Wetenskap-honneursklas se klasverteenwoordiger in 2017.

Hy het van 2015-2017 op die bestuurspan van die Dempers Meyer-mentorskapprogram vir graad 11-leerders vanuit voorheen benadeelde agtergronde gedien en het in 2016 as deel van 'n uitreikspan na Transkei gereis om 'n winterskool vir matriekleerders aan te bied.

“Dit is vir my belangrik om iets te probeer teruggee, want ek besef almal kry nie dieselfde geleenthede nie. Dis ook lekker om 'n impak op mense se lewe te kan maak. Aan die einde van die dag kry 'n mens egter altyd meer as wat jy gee. Dit hou 'n mens nederig en laat jou die waarde van verhoudings besef."

Dit is een van sy toekomsambisies om 'n positiewe verskil in Suid-Afrika te kan maak.

Draaijer, wat tans by KPMG in Kaapstad werk, beskou dit as 'n groot voorreg om die Schumann-medalje, wat na die fakulteit se eerste dekaan vernoem is en sedert 1986 jaarliks toegeken word, te ontvang.

Sy pa Attie, ma Carina, suster Lize, en meisie Chané het die funksie wat op 27 Julie aangebied is, saam met hom bygewoon.

“Hulle het elkeen 'n belangrike bydrae gelewer tot die prestasie, so dit was baie spesiaal om dit met hulle almal te kon deel," het hy gesê.​

Foto: Anton Jordaan​