Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US wys meer as ‘100 maniere om ‘n impak te hê
Outeur: Sandra Mulder/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 23/07/2018

Personeel en studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het gewys daar is meer as '100 maniere om 'n impak te hê'. Personeel het nie net Madiba se 100ste verjaarsdag in die US se Eeufeesjaar herdenk nie, maar ook op vele maniere daartoe bygedra om 'n 'nalatenskap te vestig'.

Fakulteite, departemente en sentrums van die US het 'n groot aantal geleenthede op Mandeladag en die daaropvolgende dae gehou wat 'n impak op die samelewing het. Hulle gaan ook vir die res van Julie met hierdie geleenthede voort. Van 'n skynbaar geringe gebaar soos die gee van 'n teddiebeer aan 'n siek kind tot iets groots soos die verf van 'n hele gebou, is die US se maatskaplike-impakinisiatiewe in gemeenskappe rondom Stellenbosch en in Tygerberg en Bellville gevoel.

Drie weke gelede het die personeel van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) op Stellenbosch hul breinaalde uitgehaal om minstens 100 teddiebere en toiletware vir die kinders in die Tygerberghospitaal te maak.

CSCD bears for Tygerberg children hospital (4).JPG

“Dit was pret en terapeuties vir die personeel om oor middagete te vergader en die beertjies te brei. En gelukkig het ons ons doel bereik. Nou gaan ons weer begin om sagte speelgoed vir volgende jaar se Mandeladag te maak," sê Delisha van Neel van die Forum vir Maatskaplike Betrokkenheid by die SSVO. Delisha het die Breisirkelprojek saam met ander lede van die Forum begin.

Terwyl die personeel van die SSVO meer as 100 gebreide speelgoed en toiletware op Mandeladag na die Tygerberghospitaal geneem het, het die Fakulteit Natuurwetenskappe op 'n ander manier 'n impak gehad. Die wetenskaplikes prof Catharine Esterhuysen, me Peta Steyn, mnr Jabu Lukhele, dr Gurthwin Bosman en dr Pieter Neethling het vir  heerlike vermaak met chemie-demonstrasies en -speletjies aan die leerders van die Hoërskool Kylemore gesorg. Dr Rehana Malgas-Enus van die Department van Chemie en Polimeer Wetenskap het die geleentheid saam  Me Nontsikelelo Langa,  gereël.

IMG_4824.JPG


​Die Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof Louise Warnich, het haar ook by die geleentheid aangesluit. In haar toespraak het sy aan die leerders gesê dat die Fakulteit, nes die US en Madiba, vanjaar sy 100ste verjaarsdag vier. “Ons glo ook, soos Madiba, dat onderwys belangrik is. Die Fakulteit het ook klein begin, in een lokaal, waar die studente opgelei is en al die glasware en chemikalieë in 'n klein kas gehou is. Vandag, ná 100 jaar, het ons 'n verskeidenheid laboratoriums en die beste toerusting," het sy bygevoeg. 'n Reuse-verjaarsdagkoek met die nommer 100 daarop is saam met die leerders van Kylemore geniet, nadat die kersie op die koek  met 'n laserstraal aangesteek is. Die Fakulteit het ook glasware en chemikalië aan die skool se laboratorium geskenk.

Intussen het meer as 120 personeellede van die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur, sy kontrakteurs en personeel van die Afdeling Aankope en Voorsieningsdienste op die Kuyasa Horizon-ontwikkeling, 'n gemeenskapsprojek in Kayamandi, Stellenbosch, toegesak.

KuyasaMandeladay-69.jpg

Die vrywilligers het gehelp met die opknapping van die groentetuin en die omheining, die verwydering van rommel, onderhoud aan loodgieterswerk en reënwatertenks, die aanplant van bome, herstelwerk aan 'n lekkende dak, verfwerk, die opstel van 'n brandontruimingsplan en die aanbied van 'n brandopleidingskursus vir werknemers, elektriese herstelwerk, asook die skenking van rekenaars vir die rekenaaropleidingsfasiliteit.

Die Direkteur van Kuyasa, pastoor Nkosinathi Sixabayi, het gesê Kayamandi ervaar vanweë armoede en misdaad nie altyd die 'soetheid van die huis' nie. 'Kayamandi' beteken 'soet huis' in isiXhosa. Om meer hieroor te lees, klik hier.

Wat die aksie op die sportveld betref, was Maties Sport gasheer vir 'n Sportdag waaraan meer as 200 leerders van die Laerskool Devon in Stellenbosch deelgeneem het. Maties Sport-personeel en ‑afrigters was by die wedstryde betrokke. Die dag het afgeskop met 'n 'Stap saam met My'-pretstap van 67 minute. Klik hier om na die fotogalery te kyk.


Selfs die baie klein kinders het hul deel van die pret geniet toe die Sentrum vir Leertegnologieë (SLT) 55 kleuters en hul 5 onderwysers van die Siyanqoba Crèche in Kayamandi by die Stellenbosch Square Spur getrakteer het. Die vriendskap tussen die SLT en Siyanqoba bestaan reeds sedert 2016, met die SLT wat jaarliks na die crèche uitreik met aktiwiteite wat wissel van die verf van die skoolgebou, die verskaffing van leervoorrade, die bou van 'n Wendy-huis en die installering van 'n spoeltoilet, tot die reël van 'n oggenduitstappie na die Spur waar gesigverf, 'n lekker groot klimstruktuur, 'n pizza en 'n partytjiepak om huis toe te neem vanjaar op die kinders gewag het. Om meer te lees, klik hier.

Centre for Learning Technologies.jpg

In Tygerberg is inwoners van die Sarepta Huis vir Bejaardes heerlik bederf met skoonheidsbehandelings, terwyl ander vrywilligers die gebied onder die brug in Francie van Zijl-rylaan opgeruim het. Die Tygerberg Pantry-projek het 'n pretstap op die kampus gehou.  Die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het ook 80 komberse en verskeie kledingstukke aan die gemeenskap van Avian Park op Worcester geskenk. Die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid het in vennootskap met die firma, Price Waterhouse Coopers, om die Mandela Dag inisiatiewe te laat gebeur. Om meer te lees oor die aktiwiteite by Tygerberg, klik hier​.

Laastens het 'n rits ander fakulteite, departemente en afdelings troospakkies en voedsel aan studente op Stellenbosch en Tygerberg geskenk. Deurlopende skenkings van voedsel, sanitêre produkte en ander noodsaaklikhede word by die SSVO, die Transformasiekantoor, die Taalsentrum en die Tygerbergkampus gemaak. Hierdie skenkings is vir  behoeftige studente aan die US.