Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
De Jager een van 13 Afrikavakkundiges wat AfOx-genootskap ontvang
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 19/07/2018

Dr Nicola de Jager, 'n senior dosent in die Departement Politieke Wetenskap, is onlangs aangewys as een van 13 Afrikavakkundiges wat die gesogte genootskap van die Afrika-Oxford-inisatief (AfOx) van die Universiteit van Oxford ontvang. De Jager en 'n ander personeellid van die Universiteit Stellenbosch (US), dr Tongai Maponga van die Afdeling Mediese Virologie, is deel van die groep van 13 genote van 12 instellings in sewe Afrikalande wat uit 450 aansoeke gekies is. 

Boonop is De Jager een van net vier akademici op sosiaalwetenskaplike gebied aan wie die genootskap toegeken is.

Die genootskap is geskep “om navorsings- en onderriguitnemendheid te bewerkstellig" en “volhoubare samewerking tussen akademici by die Universiteit van Oxford en Afrika-instellings in die hand te werk". Die program betaal alle koste met betrekking tot die genote se navorsingsbesoeke aan Oxford, wat ook inwoning by die Oxford-kolleges insluit. De Jager sal in Brasenose-kollege tuisgaan.

“Dit is ongelooflik om hierdie genootskap by die Universiteit van Oxford te kan aanvaar. Ek's baie dankbaar vir die geleentheid," sê sy. 

“Ek het my die afgelope paar jaar daarop toegespits om blootstelling aan navorsing en akademici by verskillende instellings te kry, want dis regtig belangrik om nie eng te wees wat navorsing betref nie. Deur aan genootskappe soos dié een deel te neem, kan ek ander instellings besoek, ander akademici ontmoet en meer oor hulle navorsing leer, wat belangrik is om my eie navorsing en internasionale statuur te versterk." 

De Jager, wat vir die genootskap benoem is deur prof Laurence Whitehead, 'n toonaangewende kenner oor demokrasiestudies, sal nagenoeg ses weke van 5 Augustus tot 14 September by Oxford deurbring. Daar sal sy deelneem aan navorsing oor Protestantisme en burgerlike betrokkenheid, en die implikasies daarvan vir demokratiese ontwikkeling in Afrika suid van die Sahara.

“Die navorsing waaraan ek werk, konsentreer op die invloed van godsdiens op die politiek. Ons het bevind dat hoewel godsdiens in Europa oënskynlik al hoe minder belangrik word, dit in Afrika weer in belang toeneem."

“Die wêreldwye verspreiding van Christene sal na verwagting teen 2050 dermate verander het dat die grootste gedeelte van Christene – meer as 'n miljard – in daardie stadium van Afrika suid van die Sahara sal wees," verduidelik De Jager.

“In 2017 het 41% van alle Protestante reeds van Afrika gekom, en die skatting is dat 53% van alle Protestante teen 2050 in Afrika sal woon. Daarteenoor sal minder as 10% van Protestante teen 2050 na verwagting van Europa kom, ten spyte daarvan dat die Protestantisme in Europa ontstaan het. Historiese en empiriese studies, veral van Wes-Europa, dui op 'n positiewe verband tussen die hoeveelheid Christene – in die besonder Protestante – en die ontwikkeling van liberale demokrasie."

Volgens De Jager sal haar navorsing by Oxford deel uitmaak van 'n “groter navorsingsprojek oor staatsbestuur, demokrasie en godsdiens in Afrika suid van die Sahara wat binne die US se Transformasienavorsingseenheid (TNE): Suider-Afrika gedoen word". 

Die TNE is amptelik teen die einde van 2014 by die US tot stand gebring en is in die Departement Politieke Wetenskap geleë. Die Eenheid konsentreer op die vergelykende studie van Suid-Afrikaanse demokrasie in Suider-Afrikaanse streeks- en wêreldverband uit 'n politieke, ekonomiese en maatskaplike oogpunt. De Jager staan aan die stuur van die Suider-Afrikaanse onderafdeling van die TNE.

“My navorsing by die Universiteit van Oxford sal ondersoek instel na die verwantskap tussen godsdiens en burgerlike'assosiasionalisme' – synde 'n voorvereiste vir demokratiese ontwikkeling – in Afrika suid van die Sahara. Die kernvraag wat die navorsing sal rig, is: Indien die burgerlike samelewing 'n kerndeel van die ontwikkeling van liberale demokrasie uitmaak, watter godsdiens, indien enige, toon groter burgerlike betrokkenheid in Afrika suid van die Sahara? Met ander woorde, watter godsdiens lei tot groter burgerlike assosiasionalisme, en waarom? Op grond daarvan sal ons dan besin oor die groter vraag van watter implikasies die groei in die Christendom, en veral in die Protestantisme, vir die streek se demokratiese ontwikkeling inhou. Hoewel dit op demokratiese teorie sal berus, sal dit in wese 'n empiriese studie wees wat van sekondêre dataontleding van die Wêreldwaardesopname en Afrobarometer gebruik maak om te bepaal watter godsdienste groter burgerlike betrokkenheid toon. Albei opnames meet godsdienstige verwantskap en gebruik 'n aantal veranderlikes om burgerlike betrokkenheid te bepaal."

Foto: Anton Jordaan, SSFD