Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-danspaar wen Maties se Dancing in Style-kompetisie
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 10/07/2018

Latyns-Amerikaanse danse en baldanse kom vanself vir Sandra Josias en Thabiso Chidi van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US). Dié danspaar was die wenners van vanjaar se Dancing in Style-kompetisie, wat deur die Maties Bal- en Latyns-Amerikaanse Dansvereniging, oftewel die Maties Ballroom and Latin American Dance Society (MBLDS), gereël word.

Die talentvolle Josias en Chidi is albei van die FGGW – sy is 'n administratiewe beampte by die Sentrum vir Studente-administrasie, en hy is 'n MB,ChB-student in sy vierde jaar. Hulle het mekaar laat laasjaar ontmoet toe Chidi begin rondvra het na 'n danser om saam met hom aan die Dancing in Style-kompetisie deel te neem.

Hul dansagtergrond verskil en dit was Josias, wat nog altyd lief was vir dans, se eerste kennismaking met Latyns-Amerikaanse danse en baldanse. Chidi voel weer Latyns-Amerikaanse danse is die enigste danssoort waarmee hy regtig gemaklik is. Hy het dié dansstyl op hoërskool probeer “uit nuuskierigheid". “Toe ek in graad 11 was, het 'n matriekleerling my gevra om saam met haar aan 'n projek te werk wat Latynse danse ingesluit het. Ek moes in matriek dieselfde projek doen en het daarna besef hoe lief ek vir dans is."

Chidi het by die MBLDS aangesluit as US-student in 2015. Hy en Josias het in Februarie vanjaar begin oefen vir die dansvereniging se jaarlikse kompetisie, wat in April plaas gevind het.

 “Ons moes 'n skedule uitwerk wat ons albei pas," sê Chidi. “Sandra was baie toegewyd en sy was vasberade om die trofee te wen." Volgens Josias het hulle twee tot drie keer per week geoefen. “Ons het elke aand 'n ander dans vir die kompetisie geoefen en ons het tot laat daaraan gewerk," sê sy.

Danksy hul harde werk, toewyding en ure se oefening is die danspaar as die algehele wenners van die kompetisie aangewys. “Dans laat my goed voel oor myself. Om 'n nuwe danssoort te leer, gee my baie selfvertroue op die dansbaan. Dit was 'n lonende ervaring... die sweet en seer knieë was die moeite werd," sê Josias.

“Ons weet musiek is 'n taal, maar dans is 'n hele wêreld op sy eie," sê Chidi.

Hy sê dans het hom baie kosbare lesse geleer. “Daar steek meer agter Universiteit Stellenbosch, en veral die Tygerberg-kampus, as wat jy dink. Daar is iets vir almal hier."