Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rook en drank in swangerskap vererger kans op doodgeboortes, wiegiedood
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 06/07/2018

Die gebruik van alkohol en sigarette tydens swangerskap is selfs meer dodelik as wat voorheen gedink is. Die resultate van 'n nuwe studie, waarby navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) betrokke was, toon die gesamentlike uitwerking van alkohol en tabak verhoog die risiko vir doodgeboortes en wiegiedood, oftewel skielike-suigelingsterftesindroom (SIDS).

Dié internasionale studie het tussen 2007 en 2015 die rook- en drinkgewoontes van nagenoeg 12 000 swanger vroue in Suid-Afrika en Amerika ondersoek en die resultate met die uitkomste van hul swangerskappe vergelyk.

“Die studie is die eerste wat wys dat die kombinering van dié risikofaktore die negatiewe effekte van doodgeboorte en SIDS versterk," sê prof Hein Odendaal van die Departement Verloskunde en Ginekologie by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Odendaal het die Suid-Afrikaanse afdeling van die Safe Passage-studie gelei.

Swanger vroue wat alkohol drink én rook se risiko vir 'n doodgeboorte is ongeveer drie keer hoër ('n relatiewe risiko van 2.83) as dié van geheelonthouers, het die navorsers gevind. Rook het 'n relatiewe risiko vir doodgeboorte van 1.6 en drank het 'n relatiewe risiko van 2.2. Die risiko neem toe wanneer die gedrag ná die eerste trimester (12 weke) van die swangerskap voortduur.

Die studie het ook gevind dat die risiko vir SIDS twaalf keer hoër is indien vroue alkohol drink en rook gedurende hul swangerskap. Indien vroue alkohol gebruik, maar nie rook nie, neem die risiko vir SIDS met vier toe, en indien hulle rook, maar nie alkohol gebruik nie, is die risiko vir SIDS vyf keer hoër.

“Dis veral kommerwekkend dat dié gedrag baie algemeen by die vroue in die studie voorgekom het. Meer as die helfte van die vroue (52.3%) het soms alkohol tydens hul swangerskap gebruik en 17% van die vroue het hul alkoholgebruik volgehou vir die duur van hul swangerskap. Byna die helfte van die vroue (49%) het soms gerook gedurende hul swangerskap en 'n derde (33%) het aanhou rook vir die duur van hul swangerskap," sê Odendaal.

Die studie is deur die Amerikaanse Nasionale Instituut van Gesondheid befonds en die navorsers het die swangerskappe van 11 892 vroue bestudeer, vanaf die eerste prenatale besoek (gewoonlik in die 16de week van swangerskap) tot die baba se eerste verjaarsdag. Die meerderheid van die vroue (59.1%) is by 'n voorgeboortekliniek in die Kaapse voorstad Bishop Lavis in Suid-Afrika gewerf en die res van die vroue (40.9%) is van twee klinieke in Noord- en Suid-Dakota in die VSA afkomstig. Die studie is gedoen in samewerking met die Boston Kinderhospitaal en Harvard Universiteit in Boston, Columbia Universiteit in New York, die Universiteit van Suid-Dakota in Vermillion, die Universiteit van Noord-Dakota in Grand Forks, en 'n sentrum in Boston wat data insamel en ontleed.

“Daar was nog nooit van tevore so 'n groot prospektiewe studie wat die gebruik van alkohol and tabak gedurende swangerskap in soveel detail ondersoek het nie. Vroeëre studies oor alkoholgebruik en/of tabakgebruik tydens swangerskap het berus op data wat eers ná die baba se geboorte verkry is, en het dus staat gemaak op die moeder se geheue van gebeure. Dié studie is uniek omdat ons die data tydens die swangerskap ingesamel het en dit met die gesondheidsgegewens van die moeder, die fetus en later die baba vergelyk het," verduidelik Odendaal. “Die moeder en fetus is tot soveel as drie keer tydens die swangerskap ondersoek en ná die bevalling is die baba weer drie keer ondersoek – by geboorte, ná een maand en ná een jaar.

Die navorsers het gevind dat alkoholgebruik en rook die bloedvloei in die uteriene arterie en umbilikale arterie (twee van die hoofvate betrokke by fetale voeding en groei) verminder in swangerskappe van tot so vroeg as 20-24 weke. “Weereens is die saamgestelde uitwerking waargeneem," sê Odendaal. “Selfs geringe gebruik van alkohol en tabak het die bloedvloei in die umbilikale arterie beïnvloed en hoër gebruiksvlakke het die uitwerking op bloedvloei vererger."

Die studie het ook 'n verband getoon tussen rook en plasentale ontoereikendheid – 'n swangerskapskomplikasie waartydens die plasenta nie genoeg nutriënte en suurstof aan die fetus kan verskaf nie en dus nie die ontwikkeling van die baba ten volle kan ondersteun nie.

Volgens Odendaal is voortydige geboortes en plasentale loslating (wanneer die plasenta loskom van die baarmoedervoering) twee van die hoofoorsake van doodgeboortes in Suid-Afrika. Rook, en nou ook die kombinasie van rook en alkoholgebruik, word as risikofaktore vir albei dié toestande beskou.

“Swanger vroue kan hul risiko vir voortydige geboorte en plasentale loslating – twee toestande wat tot menige babasterftes in Suid-Afrika lei – verlaag deur hul blootstelling aan alkohol en rook te verminder," sê Odendaal.

Tydens die studie het die navorsers ook die volgende faktore uitgelig wat bydra tot 'n hoër risiko vir doodgeboortes:

  • Ligging – doodgeboortes het meer algemeen in die Suid-Afrikaanse kohort voorgekom as by die deelnemers in die VSA.

  • Opvoedingsvlak – minder skoolopleiding word verbind met 'n hoër risiko vir doodgeboortes.

  • Die duur van die swangerskap – hoe vroeër die bevalling, hoe hoër is die kans vir 'n doodgeboorte.

  • 'n Vorige doodgeboorte – 'n vrou wat voorheen 'n doodgebore baba gehad het, loop 'n hoër risiko.

  • Beperkte groei – wanneer die fetus swak groei getoon het, was daar 'n hoër kans vir 'n doodgeboorte.

“Dit is noodsaaklik om die nadelige gevolge van drank en tabak, en veral die gesamentlike uitwerking daarvan, deurlopend onder die aandag van die publiek en gesondheidswerkers te bring. 'n Voortydige geboorte plaas 'n swaar las op 'n kind se vroeë en latere lewe. 'n Afname in die getal voortydige geboortes in 'n gemeenskap met 'n baie hoë voorkoms (13.8% in die studie) sal wesentlike kostebesparings teweegbring, soos minder neonatale intensiewesorg en latere ontwikkelingsprobleme wat met voortydige geboortes verband hou," sê Odendaal.

Onderskrif: Prof Hein Odendaal het die Suid-Afrikaanse afdeling van die Safe Passage-studie gelei.

Foto: Damien Schumann