Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Naude dien op Ministeriële Komitee oor Mortaliteit en Morbiditeit in Kinders
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 03/07/2018

Ongeveer 40 uit elke 1000 babas wat lewendig gebore word in Suid-Afrika, sal voor hul eerste verjaarsdag sterf. En tot soveel as 33 kinders per 1000 lewendgeboortes sal doodgaan voor hul vyfde verjaarsdag.

“Suid-Afrika tel onder die boonste derde van lande met die hoogste babasterftekoers in die wêreld en alhoewel ons sterftesyfer van kinders onder vyf jaar afgeneem het, is dit steeds te hoog," sê dr Celeste Naude, 'n senior navorser by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Naude, 'n geregistreerde dieetkundige en navorser by die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS) aan die US, is aangestel om vir 'n tweede termyn van drie jaar op die Ministeriële Komitee oor Mortaliteit en Morbiditeit in Kinders Onder Vyf Jaar (CoMMiC) te dien. Haar eerste aanstelling was in 2015.

CoMMiC is in 2008 gestig en dit is een van drie nasionale komitees wat moedersterftes, perinatale sterftes en kindersterftes in Suid-Afrika monitor en daaroor verslag doen. Die doel van die komitee is om 'n oorsig te bied van die neigings, oorsake en bykomende faktore wat verband hou met die sterftes en siektes van moeders en kinders, en om aanbevelings te maak om dié sterftes te verminder.

Volgens Naude, wat in 2016 ook as die mede-direkteur van Cochrane Voeding aangestel is, toon oudits van kindersterftes dat byna 'n derde (30.9%) van kinders wat in Suid-Afrika sterf aan ernstige wanvoeding ly. Haar rol is om 'n bydrae te lewer tot besprekings en besluitnemingsprosesse, veral oor kwessies wat op voeding betrekking het, en om CoMMiC se aanbevelings aan die relevante belanghebbendes te kommunikeer.

“Kinders is een van die mees kwesbare groepe in ons samelewing en dis 'n professionele en persoonlike voorreg om saam met besluitnemers te werk en deurlopend meer te leer oor die faktore wat die verbetering van kindervoeding en die voorkoming van sterftes aanhelp en teëwerk," sê sy.

“Voeding is nie net 'n diens wat gelewer moet word nie, maar ook die eindresultaat van ontwikkelingsprosesse in ons samelewing en 'n basiese mensereg. Dit is noodsaaklik om jou volle intellektuele en fisieke potensiaal te bereik," voeg sy by.

Sy sê CoMMiC ondersteun ministeriële besluitneming. “Beleidvormers en die bestuurders van gesondheidsorgdienste benodig akkurate en volledige inligting oor kindersterftes, soos syfers, oorsake en moontlike oplossings, om hulle te help om beter besluite te neem wanneer hulle gesondheidsuitkomste en gesondheidsdienslewering beplan en monitor. CoMMiC lewer 'n bydrae deur data te ondersoek en deur ingeligte aanbevelings aan die Minister van Gesondheid te maak." Dit is in ooreenstemming met Suid-Afrika se verbintenis tot die globale Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD's), soos deur die Verenigde Nasies (VN) uiteengesit, om die sterftesyfer van kinders onder vyf jaar tot ten minste 25 per 1000 lewendgeboortes te verminder.

“Te veel kinders in Suid-Afrika sterf steeds as gevolg van voorkombare oorsake, en swak voeding is een van die sleuteloorsake," sê Naude.

Sy sê haar betrokkenheid by aktiwiteite soos CoMMiC verbeter haar begrip van die komplekse koppelvlak tussen beleid en navorsing, wat haar help om robuuste en relevante navorsing te doen in sleutelgebiede wat kindergesondheid beïnvloed.

“Voeding is nie net noodsaaklik om te oorleef nie, maar ook om te floreer."