Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Brons vir die Span van Maties!
Outeur: Pierre Ackerman
Gepubliseer: 03/07/2018

'n Span van 6 senior studente van Dept Bosbou en Houtkunde het kragte saamgespan en weer eens die Universiteit van Stellenbosch verteenwoordig by die Internasionale Houtverskaffing Spel.  Afgesien van baie taai kompetisie met 6 ervare spanne van regoor die wêreld, het die Maties daarin geslaag om 'n baie welverdiende derde plek los te slaan.  Inteendeel, sou slegs 2 punte uit ongeveer 500 aan hulle 'n tweede plek verseker het, so naelskraap was dit.

Die spel, wat die operasionele stappe van 'n waardeketting in die bosbou bedryf simuleer, is in 2000 geskep. Die hele proses - vanaf plantasie tot eindproduk - is lank en kompleks. Elke rolspeler is onafhanklik in hul besluitnemingsproses, wat tot gevolg kan hê dat verskeie prosesse nie voldoende gesinchroniseer is nie. Kommunikasie is n belangrike hulpmiddel tydens die bestuur van die waardeketting, aangesien onvoldoende en verkeerde inligting probleme met verskaffing en kliënttevredenheid tot gevolg kan hê.  Die Spel simuleer die dinamika van die hele waardeketting,  asook die belangrikheid van doeltreffende kommunikasie en die verskaffing van korrekte inligting in die netwerk.

Die spel word gespeel met 'n maksimum van 7 spelers, elk verantwoordelik vir die bestuur van een van die besigheidsprosesse in die netwerk.  Elke rondte in die spel verteenwoordig een week en 'n spel strek vir 25 to 50 weke.  Die skakels in die waardeketting word voorgestel deur die verskillende besigheidsprosesse in die vervaardiging van die eindproduk. Die span se doel is dan om die voorraadkoste en agterstallige bestellings van elke skakel, wat deur die uiteenlopende aard van die bedryf veroorsaak word, te verminder.

Universiteite wat ook verteenwoordig was in die jaar se spele was Landbou Universiteit van Swede, Universiteit van Laval (x2 spanne), Universiteit van Helsinki en die Universiteit van Zayed in die Verenigde Arabiese State.  Ons dank aan Prof Ackerman en die komitee wat alles georganiseer het asook Jacques Malan wat instrumenteel was in die ontwikkeling van die span se strategie.

Foto: Gefokus op die Spel – Die Maties span: (VLNR) Zimbili Sibiya, Ashlee Prins, Jacques Malan (kaptein), Marius Terblanche, Hugo Lambrecht, Prof. Pierre Ackerman en Mnr. Simon Ackerman. Afwesig: Trevor van Groeningen and Ben van Heerden