Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voed eers die liggaam – dan die verstand
Outeur: Cheryl Benadie
Gepubliseer: 28/06/2018

Met my eerste pos in die bevorderingsafdeling van 'n Johannesburgse universiteit het die moontlikhede van “bevordering" my opgewonde gemaak. Die proses om vasberade vorentoe te beweeg gee immers die toon aan vir die universiteitslewe, want dit lei tot nuwe idees en koester talent.

Die hoop en verwagting van jong Suid-Afrikaners wat deur die universiteitshekke stap en uiteindelik gradueer met 'n sleutel om nuwe geleenthede te ontsluit, is tasbaar en aansteeklik.

En dis 'n ervaring wat ek nooit geken het nie.

As 'n eerstegenerasieberoepspersoon (die eerste in my naaste familie met 'n witboordjiewerk), was daar nie geld vir my om die universiteitskursus te gaan volg waarvoor ek aanvaar is nie. Niks is gesê of bespreek nie – ná matriek het ek maar net geweet ek moet begin werk.

Ek hét van beurse gehoor, maar nie een van my ouers het matriek voltooi nie, en daar was niemand om my deur die navraag- of aansoekproses te lei nie. As my baas se man (in my eerste pos as 'n joernalis op 17-jarige ouderdom) my nie van korrespondensiestudie vertel het nie, het dit waarskynlik nog baie langer geduur voordat ek sou uitpluis hoe ek verder kon studeer.

Weens my onstuimige huislike omgewing as kind was ek 'n bang en onseker volwassene.

Hoewel die verlore geleentheid om 'n voltydse tersiêre opvoeding te kry my steeds hartseer maak, weet 'n deel van my ook dat ek dit heel moontlik nie sou kon deurvoer nie, gedagtig aan my gebrekkige ondersteuningsnetwerk.

Om nou te doen wat ek doen – om jongmense in staat te stel om deur te druk en die wedloop te voltooi wat ek nooit kon nie – voel soos poëtiese geregtigheid. Elke keer as ek sien hoe presteer een van die beursstudente of studente-interns met wie ek gewerk het, voel ek soos 'n trotse ousus. Hulle het 'n spesiale plek in my hart.

Agter die mediagordyn van #FeesMustFall, agter die skerms op kampusse landwyd, is jongmense wat net iets goeds van hulle lewens wil maak. Die wortel van woede is vrees – die vrees om soveel in die stryd te werp en angswekkende persoonlike uitdagings te trotseer, net om te sien hoe die moontlikheid van nuwe geleenthede deur jou vingers glip weens 'n gebrek aan geld, is byna te veel om te verduur.

Die aankondiging van fooivrye onderwys is 'n groot verligting – maar die stryd is nog nie gewonne nie. Finansieringstekorte beteken studente loop gevaar om moontlik sonder kos te sit weens die perke op kostoelaes. Hoe woon jy klas by op 'n leë maag, met jou kop wat jou drome probeer voed, maar jou gees voel verpletter?

Ons praat nie hier van studente wat “te trots is om hulp te vra nie". Dit is studente wat maar net soos almal anders wil wees – wat smag na 'n normale roetine van eet, klas bywoon, hard studeer en kuier saam met hulle portuur, oor en oor, elke dag. Sodra daardie patroon onderbreek word, word dit al hoe moeiliker om koers te hou, wat nog te sê by te bly by die res.

Die toekomstige arbeidsmag word op universiteit gevorm en hulle ervaring terwyl hulle studeer, bepaal onbewustelik hulle opvatting van die wêreld. Indien die innerlike oortuiging “Ek is stoksielalleen en niemand gee genoeg om om my te help nie" posvat terwyl hulle gedurende hulle studentedae probeer oorleef, dra hulle onbewustelik daardie denkwyse na die werkplek oor, wat hulle oorgang na 'n suksesvolle beroepslewe belemmer.

So, hoe skep ons 'n nuwe toekoms?

Die toekoms waarop ons wag, is nie een of ander vae werklikheid daar buite nie – dit is óns verantwoordelikheid om te skep. Die statuur en akademiese reputasie van die Universiteit Stellenbosch (US) lok van die briljantste jong intellekte in die land, gretig om hulle potensiaal te verwesenlik en te begin werk om ons wêreld te verbeter.

Terwyl ons nou die eeufeesvieringe van Nelson Mandela én die US oordink, rus daar 'n morele plig op ons om jongmense se gees te bou eerder as te belemmer. Waarom moet studente skaam wees omdat hulle honger is as hulle aan 'n deernisvolle universiteit studeer wat 'n werklike oplossing vir hulle probleme wil bied?

Ek was nog nooit in my lewe sonder kos nie – maar dít hoef nie deel te word van my storie om te weet hoe so iemand voel nie. Ek weet hoe voel afsondering en skaamte, en dis genoeg vir my.

Wat sal jóú so ver kry om ons te help #Move4Food?

CB.jpgCheryl Benadie

Bestuurder: Donateursbetrekkinge



​​