Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong en innoverende PhD-student herdefinieer die akademiese wêreld
Outeur: Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie/Rozanne Engel
Gepubliseer: 27/06/2018

“Daar is vir ons elkeen 'n plek in die son om sukses te behaal en ons doelwitte te verwesenlik. Ons handhaaf elkeen 'n unieke pas na sukses; beweeg daarom teen jou eie spoed."

Dit is die raad wat Johané Nienkemper-Swanepoel vir vandag se jongmense het. Op die jong ouderdom van 28 jaar voltooi Johané tans haar PhD in Wiskundige Statistiek terwyl sy voltyds aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Genetika doseer.

Volgens Johané is dit aan haar geloof en die ondersteuning van haar man, familie en mentors te danke dat sy soveel in só 'n kort tyd kon vermag.

“Ek dink mentorskap is baie belangrik. Ek is bevoorreg om toegewyde studieleiers te hê wat my deur die hindernisse en deugde van 'n navorsingsloopbaan met raad en daad begelei. Ek het ook 'n besonderse ondersteuningsnetwerk in my gesin. My ma was nog altyd passievol oor navorsing en het haar PhD voltooi in die jaar toe sy 50 geword het. Daarom verstaan sy die PhD-pad."

Johané kom uit 'n gesin van kliniese praktisyns. Haar pa en suster is al twee mediese dokters, terwyl haar ma 'n arbeidsterapeut is. Toe sy jonger was, het Johané ook daaraan gedink om 'n dokter te word, maar haar liefde vir syfers het geseëvier. “My werklike passie vir wiskunde het in die hoërskool ontstaan, hoofsaaklik as gevolg van 'n briljante onderwyser wat my uitgedaag en gemotiveer het. Onderwysers kry die geleentheid om die denkers van die toekoms te vorm en te inspireer, en hulle het 'n kritiese rol te speel deur geleenthede vir groei te skep."

Johané het haar voorgraadse studie, honneurs- en meestersgraad aan die Universiteit van die Vrystaat (UVS) deurloop. Terwyl sy haar studie in Wiskundige Statistiek aan die UVS voltooi het, het sy ook heelwat ander akademiese en buitekurrikulêre doelwitte bereik. In 2011 was sy die jongste persoon wat 'n referaat by die Suid-Afrikaanse Statistiese Vereniging se jaarlikse konferensie gelewer het. Sy het die Senaatsmedalje vir die beste honneursstudent aan die UVS in 2012 ontvang. Meer onlangs, in 2017, het die Internasionale Federasie van Klassifikasieverenigings haar geloof as 'n uitsonderlike jong navorser onder die ouderdom van 30.

“Ek was bevoorreg om 'n aantal internasionale konferensies te kon bywoon waar ek leiers in my navorsingsveld ontmoet het. Netwerkgeleenthede in die akademiese wêreld is van deurslaggewende belang in jou ontwikkeling as navorser." Johané beklemtoon die belang daarvan om vir finansiële hulp vir akademiese aktiwiteite aansoek te doen. “Moenie jouself onderskat nie, moenie bang wees om vir geleenthede aansoek te doen nie. Jy weet nooit wat kan gebeur nie en die netwerkgeleenthede wat jy by internasionale konferensies opdoen, is van onskatbare waarde."

Johané se PhD-navorsing fokus op die visualisering en hantering van onvolledige meervariant-data. Ontbrekende waarnemings is algemeen in die meeste dissiplines waar data versamel word. Sy gebruik haar vaardighede in statistiek, toegepaste wiskunde en rekenaarprogrammering vir haar navorsing wat daarop gemik is om inligtingverlies te help verminder.

Buiten haar akademiese prestasies is Johané ook 'n begaafde uitvoerende kunstenaar. In 2000 het sy ses medaljes by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles, in die VS, vir klopdans verower. Aan die UVS was sy haar koshuis se kulturele verteenwoordiger en deel van Amaranth Echo, die a cappella-groep vir vroue. In 2009 het die groep aan die internasionale Varsity Vocals-kompetisie deelgeneem en dit in 2011 met die vrystelling van 'n CD opgevolg.

Volgens Johané lyk dit of daar toenemende belangstelling in die veld van dataontleding en statistiek is. “Ek dink mense is meer bewus van data en die belang van betroubare statistiek." In 2012 het die Harvard Business Review datawetenskap as die “sexiest" beroepsveld uitgesonder, wat dié skaars vaardigheid in die kollig geplaas het. Johané meld dat daar in vergelyking met haar voorgraadse jare 'n beter verhouding vroue-tot-manstudente met 'n belangstelling in syfers (en veral analitiek) is, met 'n gelyke verteenwoordiging van beide geslagte.

Ter afsluiting van die onderhoud haal sy JW Tukey, 'n Amerikaanse wiskundige, aan: “Die beste van 'n beroep as statistikus is dat jy in al die ander se agterplaas kan speel."

In die toekoms wil ek graag by meer projekte betrokke raak en my ontbrekendedata-tegnieke in verskillende multidissiplinêre velde vestig," voeg sy by.

 

Johané Nienkemper-Swanepoel voltooi haar PhD onder die studieleiding van proff Niël le Roux en Sugnet Lubbe van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap aan die US.​​


Foto deur Stefan Els.