Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afwentelmaatskappy maak merk in mediese bedryf
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 26/06/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) se tegnologie-oordrag maatskappy Innovus het oor die jare gehelp om verskeie afwentelmaatskappye op die been te bring. Een só ʼn besigheid is die Stellenbosch Nanofiber Company (SNC) wat in 2011 gestig is. Korporatiewe Kommunikasie het met US-alumnus en stigter Dr Eugene Smit gesels.

Kan jy ons meer oor SNC vertel?

SNC is 'n materiaal-wetenskap maatskappy wat gebou is rondom 'n gepatenteerde tegnologie vir die massa-elektrospinproduksie van polimeernanovesels op kommersiële vlak. Hierdie tegnologie is oorspronklik as deel van my PhD-studie aan die US ontwikkel.

Elektrospinvesels het 'n baie spesifieke groot oppervlakte en ʼn natuurlike voorkoms. Hulle is veral nuttig in baie verskillende areas, insluitend skoonheidsmiddels, liggewig-saamgestelde materiale (bv in motorbou- en lugruim-toepassings), energie-materiale soos elektrodes en katalisators vir brandstofselle en batterye, en verskeie mediese toepassings, insluitend stellasies vir weefselingenieurswese, kwaliteit-wondbedekkings en materiale vir die lewering van geneesmiddels.

By SNC ontsluit ons die enorme potensiaal van elektrospinvesels deur gevorderde materiale in hierdie verskillende toepassingsareas te ontwikkel en op kommersiële skaal te vervaardig. Ons help maatskappye en navorsingsgroepe om vinniger te bemark deur hul elektrospinvesel-uitvindings vanaf ʼn vroeë konsepstadium tot ʼn volledig, tegnies-geldige en kommersieel haalbare status te neem.

Hoekom het jy hierdie maatskappy begin?

As uitvinder en wetenskaplike wou ek nog altyd nuttige produkte en tegnologieë ontwikkel. Ek glo 'n goeie manier om te bepaal of jou tegnologie werklik voordelig is vir ander mense, is om te wys dat daar mense is wie bereid is om te betaal vir wat jy het uitgevind het. In hierdie spesifieke geval het die tegnologie vir die massaproduksie van elektrospinvesels soveel verskillende moontlike aanwendings en dus is die maatskappy gestig om hierdie enorme potensiaal te onsluit en die wêreld 'n beter plek gemaak.

Julle spesialiseer in die vervaardiging van gevorderde biomediese nanovesels. Is daar spesifieke redes hiervoor?

Ons uiteindelike doel is om produkte te vervaardig in baie van die areas waar elektrospinvesels gebruik kan word. As jong maatskappy was dit egter 'n uitdaging om te besluit waar om te begin. Nadat ons geleenthede in verskeie markte geëvalueer het, het ons die biomediese ruimte geïdentifiseer as een waar daar regtig die behoefte was vir ons unieke vermoëns om elektrospinvesels op groot skaal te produseer.

Ons elektrospinvesels het ʼn baie soortgelyk struktuur as die ekstrasellulêre matriks rondom die selle in ons weefsels. As jy selle vat en op elektrospin-sintetiese vesels sit, voel hulle redelik tuis en kan hulle dus meer natuurlik voortgaan. Dit lei, onder meer, tot wonde en weefsels wat vinniger en met minder letsels genees.

Die wyse waarop ons hierdie vesels spin bied die geleentheid om die volgende generasie kwaliteit- wondbedekking, weefselingenieurswese-stellasies vir kunsmatige organe, en gekombineerde mediese toestelle wat ʼn toestand op dieselfde tyd fisies en farmaseuties kan behandel.

Wat is van die produkte wat julle sedert 2011 ontwikkel het?

Ons het aan verskeie mediese produkte gewerk, insluitend inspuitbare materiaal vir die beheerde vrystelling van medisyne om littekens in chirurgiese wonde te verminder; en weefselingenieurswese-stellasies vir, onder meer, die herstel van kraakbeen, vel en been. Ons is veral trots op twee spesifieke produkte naamliks FiberScaff-RPE® en NanoTrix®:

  • FiberScaff-RPE® is 'n weefselingenieurswese-stellasie wat gebruik word om retinale pigment epithelium (RPE)  ̶  die dun lagie selle agter die retina in die oog  ̶  in ʼn laboratorium te kweek. Hierdie stellasies word by die Nasionale Ooginstituut van die Nasionale Instituut vir Gesondheid in die VSA gebruik om 'n terapie te ontwikkel vir die behandeling van RPE waarin 'n pasiënt se eie bloedselle gebruik om stamselle te skep wat dan in weefsel vir die vervanging van RPE verwerk word. FiberScaff RPE® funksioneer as ʼn stellasie vir die kweek van hierdie selle en stel die dokter in staat om die nuut gekweekte RPE-weefsel in die oog oor te plant. Die stellasie disintegreer en verdwyn heeltemal en laat net die nuwe weefsel agter. Die stellasies sal later in Fase 1 kliniese toetse vir hierdie terapie gebruik word.
  • NanoTrix® is 'n trotse Suid-Afrikaanse produk wat ons saam met Southern Medical Group of Companies in Gauteng ontwikkel het. Ons vervaardig dit nou vir dié maatskappy. Dit is 'n tydelike velvervangingsbedekking vir tweedegraadse brandwonde en die ongelooflike resultate wat verkry is met hierdie produk, het daartoe gelei dat dit sterk gesteun geword deur belangrike meningvormers op die gebied van die behandeling van brandwonde in Suid-Afrika. Dit word by verskeie hospitale in Suid-Afrika gebruik, insluitend die Rooikruis-kinderhospitaal (Eenheid vir Brandwonde) in Kaapstad. NanoTrix® is tans slegs in Suid-Afrika kommersieel beskikbaar, maar ons werk saam met ons kliënt, Southern Medical, en ondersteun hulle in die proses om regulatoriese goedkeuring te verkry ten einde hierdie produk in ander streke, waaronder die Europese Unie en die VSA, te verkoop.

Wat was van die maatskappy se ander suksesse die afgelope klompie jare?

Ons het in bietjie meer as twee en ʼn half jaar ons elektrospin-tegnologie vanaf 'n klein laboratorium-beproefde konsep geneem tot ʼn masjien wat op industriële vlak geloods kon word. Verder het ons ons gehaltebestuurstelsels op so ʼn wyse uitgebou en gesertifiseer dat dit in lyn is met internasionale standaarde vir goeie vervaardigingspraktyke vir mediese toestelle. Ons het ook 'n wonderlike Suid-Afrikaanse span gebou wat steeds vir die wêreld wys dat Suid-Afrika aan die voorpunt van materiaalwetenskap kan meeding, en beduidende bydraes hiertoe kan maak.

Watter industrieë baat die meeste by die werk wat julle doen?

Tans is die meeste van dit wat ons doen op mediese gebied van toepassing, maar ons is ook aktief in die ontwikkeling van keramiek-nanovesels vir saamgestelde en katalitiese toepassings en die ontwikkeling van nuwe produkte vir die kosmetiese bedryf.

  • Foto: Dr Eugene Smit (middelste ry, eerste van links) saam met die res van sy span. Die lede in die voorste ry hou ʼn laken van elektrospin-nanovesels vas wat in slegs twee minute geproduseer is.