Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie op pad na Denemarke vir driekamp-wêreldkampioenskap
Outeur: Jetline action photos
Gepubliseer: 18/06/2018

Matiestudent Taryn-Maie Wille is gekies om Suid-Afrika in Julie by die 2018 ITU Velddriekampkampioenskap (Cross Triathlon World Championships) te verteenwoordig.​​

Sy sal in die o/23-kategorie deelneem.

Dit sal die tweede keer wees wat Taryn-Maie, 'n tweedejaarstudent in Bewaringsekologie, oorsee deelneem. Sy het haar internasionale loopbaan verlede jaar by die 2017 ITU Multisport Wêreldkampioenskapfees in Penticton, Kanada, afgeskop.

“Ek voel baie geëerd en opgewonde om Suid-Afrika te verteenwoordig. My doelwit is om my beste te lewer en hopelik 'n paar beste tye te behaal."

Sy sal ook graag meer Suid-Afrikaanse vroue aan driekamp, en spesifiek velddriekamp, wil bekendstel. Velddriekamp bestaan gewoonlik uit 1 km swem, 20-30km bergfietsry en 6-10km veldwedloop.

Die feit dat sy aan velddriekamp deelneem, het bygedra tot Taryn-Maie se waardering vir die natuur en sy hoop om eendag haar sport te kan gebruik om geld in te samel vir bewaring.

“My doelwit is om een van die beste bewaringskundiges te wees in watter rigting ek ook al ingaan, en om die omgewing op soveel maniere moontlik te help."

As 'n studente-atleet, moet Taryn-Maie haar oefenprogram by haar akademiese skedule aanpas.

“Ek probeer my studies en oefenprogram balanseer. Ek pas my oefensessies in voor en ná lesings en selfs tussen-in as ek tyd het, anders oor naweke. Ek oefen meestal alleen omdat ek dit verkies om my intensiteit te baseer op dit wat vir my reg voel, eerder as om by ander mense aan te pas. Ek doen wel 'n paar lang fietsritte of hardloopsessies saam met vriende.

“Die feit dat ek my ouers trots maak en daardie onbeskryflike gevoel wanneer jy jou beste gee terwyl jy iets doen waarvoor jy lief is, motiveer my om aan te hou," sê sy.

Taryn-Maie is 'n lid van die Maties-fietsryklub.