Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mediese student seëvier ook oor veldwedlope
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 12/06/2018

Hoe meer jy doen, hoe meer kan jy doen. Vra net vir Annamart Laubscher, finalejaar mediese student en top-veldwedloopatleet.

Sedert 2013, toe Annamart aan dié sport begin deelneem het, het sy al 'n indrukkende 21 eersteplekke behaal in 'n verskeidenheid veldwedloopbyeenkomste regoor die land, ondermeer in die 2017 Ultra Trail Cape Town, 'n tawwe 35km oor Tafelberg. “Ek het nie verwag om te wen nie. Ek wou net die omgewing geniet," vertel sy.

Op skool was Annamart 'n kranige twee- en driekampatleet en het sy Suid-Afrika 'n paar maal in dié sportkategorieë internasionaal verteenwoordig. Toe sy in 2013 as mediese student by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aansluit, het sy egter besef dit sou moeilik wees om al drie sportsoorte (swem, fietsry en hardloop) voluit te beoefen. “Boonop is dit gevaarlik om in Parow fiets te ry, en ek het toe besluit om op my hardloop te fokus." Sy is mal oor die natuur en het ook vantevore bergfiets gery, so dit is dus geen wonder dat sy haar uiteindelik in veldhardloop bevind het nie.

Ongelukkig het twee beserings Laubscher se wedloopplanne vir 2018 gepootjie. “Die sport is effens gevaarlik. Soms moet mens liewer versigtig wees in plaas daarvan om net hals-oor-kop by 'n berg af te klouter," waarsku sy. Sy het eers op haar knieg geval, “wat toe 'n hele paar steke benodig het", en kort daarna haar enkel geswik. “Dit het my forseer om vir ʼn tydjie uit te sit."

Volgens Laubscher het dié sportsoort die afgelope paar jaar aansienlik gegroei, veral onder vroue. “Dit was redelik klein toe ek begin het. Min mense het daarvan geweet en daar was net een of twee byeenkomste in 'n maand. Daar was ook heelwat meer mans."

Intussen het veldwedlope meer aandag begin lok, en is daar nou bykans elke naweek meer as een byeenkoms om van te kies. “Ek dink daar is 'n paar redes hiervoor," bespiegel Laubscher, “soos die lus om 'n gesonde leefstyl te beoefen, 'n lus om nuwe plekke te ontdek, 'n behoefte om mense te ontmoet wat ook lief is vir die natuur en avontuur, óf dalk net omdat mense fiksheidspunte vir jou mediese skema bymekaar wil maak!"

Sy sê die aantal vrouedeelnemers het ook toegeneem. “Van hulle is baie sterk en ek het respek vir veral dié wat in die langer items deelneem. Ek beoog om eendag saam met hulle te kan hardloop!"

Laubscher is een van 18 mediese studente wat gekies het om hul praktiese ervaring by die Worcester Provinsiale Hospitaal te doen, in plaas van by Tygerberg Akademiese Hospitaal. Behalwe dat sy glo daar is meer geleenthede in Worcester omdat daar minder studente op 'n kliniese rotasie werk, dink sy ook dis belangrik om die opleiding van dokters in landelike gebiede te ondersteun. “'n Mens kry meer insig oor die algehele gesondheid van 'n pasiënt, en hoe behandeling vir elke pasiënt geïndividualiseer moet word om suksesvol te wees," verduidelik sy. “Hopelik beteken dit ook meer dokters sal terugkeer na sulke gebiede as hulle klaar studeer het."

Soos alle mediese studente is haar skedule besig en is dit soms moeilik om by alles uit te kom. “Ek het egter van die begin af besluit dat my akademie en loopbaan altyd my eerste prioriteit sal wees." Haar geheim vir tydsbestuur is om 'n program op te stel met alles wat gedoen moet word vir daardie dag. “Doen dan die dinge wat die belangrikste is eerste, en kyk dan of daar tyd is vir die res." Laubscher beskou sport en ander stokperdjies as dinge wat 'n mens help om goeie tydsbestuur uit te oefen, want dis maklik om tyd te “mors". Sy sê dit verg wel moeite en energie, selfs al beskou sy haar hardloop as 'n bron van ontspanning. “Na 'n lang dag in die hospitaal is dit soms moeilik om jouself te motiveer om te gaan draf." Haar raad? Moenie te veel daaroor dink nie en neem net die eerste paar treë. “Daarna word dit makliker om jou liggaam te oortuig om aan te hou."

Sy is nog nie seker waarin sy wil spesialiseer eendag nie, maar sê sy sal daarvan hou om 'n paar jaar ervaring in die buiteland op te doen, dalk 'n paar berge daar te klim, en terug te keer om in 'n kleiner hospitaal in Suid-Afrika te werk. In terme van haar hardlooploopbaan is 'n Comrades-ultramarathon, 'n Iron Man-driekamp en ander ultra-veldwedlope op haar lysie van mylpale wat sy wil bereik.

Laubscher moedig enigiemand wat belangstel in veldhardloop aan om dit te probeer. “Al wat dit verg is 'n lus vir die buitelewe, wilskrag en 'n algemene motivering om 'n gesonde lewe te lei."

*Besoek www.trailrunning.co.za vir 'n volledige lys van veldwedloopbyeenkomste.