Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
NASA stuur helikopter Mars toe
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 04/06/2018

Die ruimte-agentskap NASA beplan om in 2020 'n klein helikopter na Mars te stuur in die voortgesette soeke na lewe op die rooi planet.

Só het dr Japie van Zyl van NASA se Jet Propulsion Laboratory by die Kaliforniese Instituut van Tegnologie,  op Maandag (4 Junie 2018) gesê.

Van Zyl, een van die wêreld se voorste ruimtewetenskaplikes, het ʼn lesing by die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) gelewer. Hy is 'n alumnus van die US en het ook 'n eredoktorsgraad van die universiteit ontvang. Van Zyl het in 2012 'n leidende rol gespeel in die suksesvolle Curiosity-sending na Mars.

Hy het verduidelik hoe die proses sal werk en gesê die helikopter sal onder die Mars 2020-tuig gemonteer word. Die tuig moet nog ʼn naam kry.

“Sodra die tuig op Mars land, sal dit na 'n gelyke oppervlak ry en die helikopter ongeveer 100 meter weg neersit. Die helikopter sal 'n selfoonkamera hê wat foto's van Mars sal neem. Dié foto's sal deur die tuig afgelaai word." Die helikopter sal vir 90 sekondes per dag in gebruik wees, het Van Zyl bygevoeg.JapieVZyl.JPG

Hy het gesê dit sal later moontlik wees om teen kranse af te beweeg en data in te samel.

Benewens die helikopter, sal die Mars 2020-tuig ook dikker en duursame wiele en 'n mikrofoon hê.

“Die tuig sal ook nader land aan waar ons wil wees omdat die gery ʼn bietjie stadig is  ̶  50 tot 100 meter per dag. As jy die ry uitskakel, kan jy baie meer op die wetenskaplike kant fokus."

Van Zyl het bygevoeg dat die nuwe tuig in staat sal wees om rotsmonters te versamlel, hulle in die buise te plaas en op Mars se oppervlak te laat, sodat toekomstige tuie hulle kan optel en na die aarde terug kan bring.

Hy het daarop gewys dat die Mars 2020-sending daarop gemik is om te kyk of die planeet bewoonbaar is en om areas te identifiseer waar mikrobiese lewe vroeër moontlik was.

“Ons kyk na 'n plek wat lyk soos ʼn antieke warmbad, want dit is tipies plekke waar jy mikrobiese lewe vind."

“Ons gaan kyk na die wetenskaplike tekens van moontlike mikrobiese lewe wat voorheen in daardie omgewings teenwoordig was. Hierdie keer is ons instrumente ontwerp om na tekens van lewe in die verlede te kyk en die oorblyfsels wat deur mikrobiese lewe in rotse agtergelaat is op te spoor."

“Ons bou instrumente om suurstof uit die lug te maak deur basies die koolstofdioksied, wat 97 of 98% van Mars se atmosfeer uitmaak, te gebruik. Ons neem die eerste stap om mense voor te berei vir ʼn reis na Mars."

Van Zyl het ook melding gemaak van die Insight-sending na Mars om uit te vind hoe die binnekant van Mars lyk en of dit steeds 'n vloeibare kern het.

“Daar is heelwat water op Mars," het hy gesê.

  • Hooffoto: Die planeet Mars (Krediet: Pixabay).
  • Foto: Prof Herman Steyn van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en dr Japie van Zyl (regs) by die lesing. Fotograaf: Rozanne Engel.