Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties HP stel Sporttegnologie- en Oefeninginnovasiebestuurder aan
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 28/05/2018

​Die doel is om aandag te gee aan die groeiende behoefte in die tersiêre sportomgewing om innoverende maniere te vind om die oefenpotensiaal van studente-atlete, wat eerstens studente en tweedens atlete is, te maksimeer.

Grant van Velden, wat al die afgelope 10 jaar as 'n sportwetenskaplike en -tegnoloog met Maties-spanne werk, is in dié posisie aangestel.                  

"Ek is passievol oor Maties Sport en hou daarvan om te sien dat ons spanne goed doen en ons atlete floreer, op en van die veld af," sê Grant.           

“Die sportafrigtingomgewing by 'n universiteit is uniek en ons moet innoverende maniere vind om die oefenpotensiaal van ons studente-atlete te maksimeer. As gevolg van hul akademiese verpligtinge het ons beperkte tyd tot ons beskikking en daarom moet ons die tyd wat ons wel het om hulle af te rig, doeltreffend benut.

“Ons het ook nie 'n onbeperkte begroting nie. My verantwoordelikheid is om kreatiewe maniere te vind om die tegnologie wat ons het, te gebruik en ondersoek in te stel na hoe ons dit selfs méér doeltreffend kan benut, sodat dit deur meer spanne of meer dikwels gebruik word.

“Dit is ook noodsaaklik om op hoogte te bly van wat internasionaal en plaaslik op die gebied van sporttegnologie gebeur," voeg Grant by.

Die gewildste tegnologiese ondersteuningsopsies wat tans deur Maties Sport-atlete gebruik word, is:

  1. Die VX Sport GPS-stelsel (met hartklopmonitors) wat gebruik word om te meet hoe hard studente-atlete speel of oefen, wat afrigters dan in staat stel om studente-atlete se oefenlas doeltreffend te bestuur;
  2. Die Fusion Sport Slimspoedstelsel wat help met oefening vir reaktiewe ratsheid en besluitneming, so wel as spoedtoetse;
  3. Die GymAware-stelsel wat akkuraat kan meet hoe hard atlete in die gimnasium oefen en dit moontlik maak om die las na gelang van die atleet se oefenpotensiaal op die dag aan te pas.

“Die terugvoering en inkoop deur die afrigters en studente-atlete is fantasties," sê Grant.

Die innoverende gebruik van tegnologie is maar een van verskeie aspekte wat deel vorm van die Maties HP-program. Ander elemente sluit in die PACER-program ('n Engelse akroniem vir Persistence, Authenticity, Commitment, Empathy en Resilience), die beseringskliniek by die US se gesondheidsdienste en toegang tot die Maties HP-gimnasium.      

“Ek glo Maties Sport bied die mees omvattende HP-program op tersiêre vlak in Suid-Afrika aan. Ons stel standaarde wat waarskynlik nog nie voorheen gestel is nie.    

“Ek is baie opgewonde oor hierdie geleentheid en sien uit daarna om 'n rol te speel om ons HP-spanne en studente-atlete vorentoe te neem," sluit Grant af.