Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW open ʼn 'biblioteek van die toekoms'
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 25/05/2018

​​“Dit voel soos ʼn spasie vol suksesstories wat wag om te gebeur. Dankie dat julle dit vir ons geskep het." ʼn Student aan die Universiteit Stellenbosch het hierdie opmerking oor die nuwe Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-biblioteek gemaak, en is oorvertel deur Ilana van Niekerk, die voorsitter van die Tygerberg Akademiese Belangeraad,  tydens die opening van hierdie moderne nuwe biblioteek by die universiteit se Tygerberg-kampus.

Van Niekerk, wat namens die Tygerbergse studente gepraat het, het haar opregte dank uitgespreek aan die universiteitsraad en ander belanghebbendes betrokke by die befondsing, ontwerp en ontwikkeling van die biblioteek. “Dankie dat julle aan ons studente en ons sukses gedink het met die ontwikkeling van dié projek. Ons sal dit koester en dit gebruik om ons beste te lewer," het Van Niekerk gesê.

Die 3 000m2-biblioteek is heeltemal herbou en is nou ʼn ultramoderne fasiliteit met innoverende ruimtes vir medewerkende leer en navorsing, en spog met die allernuutste videokonferensie- en e-klaskamergeriewe.

“Ons praat gereeld oor Stellenbosch as ʼn wêreldklas universiteit. ʼn Deel van wat dit wêreldklas maak is wêreldklasgeriewe – en dit is wat ons hier sien," het prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, by die openingsgeleentheid gesê.

“Dit is ʼn wonderlike oomblik," het Cloete gesê. “Jy begin met ʼn droom en dan eindig jy met ʼn ruimte soos hierdie. En jy kan dit in die universiteit se eeufeesjaar vier. Dis eenvoudig wonderlik."

US Rektor en Visekansellier, prof Wim de Villiers, het ook die nuwe biblioteek se lof besing. “Is dit nie fantasties om hierdie vriendelike, vars spasie gevul met lig en kleur te hê nie? ʼn Moderne, toekomsgerigte plek wat die nuwe generasie biblioteekverbruikers bedien met die nuutste tegnologie en geleenthede vir interaktiewe, medewerkende leer en navorsing," het De Villiers gesê.

Volgens hom strook dit met internasionale tendense en kontemporêre denke rondom die plek van die biblioteek in die 21ste eeu. “Jeffrey Schnapp van Harvard sê: 'Ons is geneig om aan biblioteke te dink as kolleksies, maar die biblioteke van die toekoms sal meer gaan oor konneksies'. Dit verbind mense aan die groot wolk van inligting wat ons omring in die digitale era, maar smee ook bande tussen mense," het De Villiers gesê.

Hierdie eienskap van die nuwe Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-biblioteek is in ooreenstemming met een van die temas van die universiteit se nuwe Strategiese Raamwerk, naamlik medewerkende onderrig en leer wat verbintenisse bevorder, het De Villiers gesê. “Die doelwit van die medewerkende benadering is om leer-gemeenskappe te skep waar studente, personeel en alumni betekenisvolle leer kan ervaar."

ʼn Geelhoutboom is in ʼn binnehof in die middel van die biblioteek geplant, en gee gestalte aan die filosofie dat ʼn biblioteek simbolies en figuurlik die hartklop van ʼn universiteit is. Dit simboliseer die saad van kennis en kreatiewe denke wat in die biblioteek geplant is, en voed die groei van die kampusgemeenskap.

Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het vir Roelof Rabe Argitekte geluk gewens met die suksesvolle ontwerp en ontwikkeling van die nuwe biblioteek. Hy het vir Linda Bellairs en Yusuf Ras (die voormalige en huidige hoofde van die Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-biblioteek) bedank dat hulle hierdie ambisieuse projek deurgesien het tot die einde. Hy het ook die Rektor se Bestuurspan en die Universiteitsraad geprys vir hul toekomsgerigtheid in terme van die finansiële ondersteuning wat hulle aan die projek gebied het.

Onderskrif: Mnre Yusuf Ras en Eben Mouton, proff Eugene Cloete, Wim de Villiers en Jimmy Volmink, en me Ellen Tise en mnr Roelof Rabe.