Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
"Eerste generasie ervaring" lok talle topleerders
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 24/05/2018

Universiteite kan nogal skrikwekkend wees vir leerders wat nie ondervinding van akademiese of tersiêre instellings het nie. Op 10 Mei het die Fakulteit Ingenieurswese topleerders in Graad 11 en 12 verwelkom wie se ouers nie die geleentheid gehad het om by 'n universiteit te studeer nie. Tydens hierdie geleentheid, wat die Eerste Generasie Ervaring genoem word, kon leerders die opwindende atmosfeer van die kampus ervaar, van die ses Ingenieursprogramme hoor en selfs die dekaan ontmoet.

Hierdie opwindende nuwe uitreik is deur August Engelbrecht uitgedink. Hy is verantwoordelik vir die werwing en retensie van studente by die Fakulteit Ingenieurswese. Waar kom sy blink idee vandaan? Mnr Engelbrecht verduidelik: "Deelname aan Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings is steeds laag in vergelyking met meer vooruitstrewende ekonomieë. Ons behoort universiteitsopleiding, veral in die bruin- en swart gemeenskappe in die Wes-Kaap, te bevorder. Aangesien baie ouers van toppresterende leerders nie tersiêre opleiding, in byvoorbeeld Ingenieurswese, ervaar het nie, is daar 'n tekort aan rolmodelle vir die jonger generasie. Gevolglik is Ingenieurswese nie 'n voorkeurberoep onder die jeug in sekere gemeenskappe nie. Verder is Universiteit Stellenbosch nie welbekend in hierdie gemeenskappe nie.

Hy gaan voort: "Baie leerders in hierdie areas presteer uiters goed op skool ten spyte van uitdagings soos 'n gebrek aan behoorlike infrastruktuur by hul skool. Hulle is dikwels nie bewus dat goeie prestasie in Wiskunde en Wetenskap vele deure na goeie geleenthede vir hulle kan oopmaak nie. In hierdie gemeenskappe is daar baie talent en potensiaal, maar ongelukkig is dit grootliks onontgin."

Hy brei verder uit: "Die wonderlike reaksie van skole en leerders het ons oorweldig! Ons het 134 gretige leerders van 25 skole by ons loodsgeleentheid verwelkom. Alhoewel die meeste leerders van kwantiel 1 tot 3 skole kom, het ons skole van regoor die spektrum genooi. Sommige van die skole wat verteenwoordig was, was: Sentrum vir Wetenskap en Tegnologie (COSAT) in Khayelitsha, Hoërskool Claremont, Hoërskool DF Malan, Kayamandi Sekondêre Skool, Kylemore Sekondêre Skool, Hoërskool Parel Vallei en Paul Roos Gimnasium.

Die dekaan, prof Wikus van Niekerk, het die "Eerste Generasie Leerders" verwelkom met die gedagte wat hulle diep laat dink het: "Ingenieurs is vandag van die mees gerekende professionele persone in die wêreld." Een van Fakulteit se jong dosente, prof Cara Schwarz, het ook die leerders toegespreek. Sy is 'n navorser wat reeds groot erkenning geniet en is 'n skitterende voorbeeld van 'n eerste generasie student wat op universiteit presteer het. Sy het die leerders aangemoedig met die volgende woorde: "Ek was ook 'n eerste generasie student. My droom het 'n werklikheid geword ... moenie ophou om jou drome na te streef nie ..."

Die Fakulteite Ingenieurswese het dr Gillian Arendse, adjunk-direkteur: Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies, genooi as motiveringspreker. Kollegas van die Fakulteite Natuurwetenskappe en AgriWetenskappe het ook 'n spreukbeurt gekry om die leerders te vertel van nóg studigeleenthede in Wetenskap, Ingenieurswese en Tegnologie. Dit is gevolg deur 'n begeleide toer van die kampus, die Neelsiestudentesentrum, koshuise en 'n besoek aan die AmaMaties Hub. (Sien die volledige program hier.)

'n Baie tevrede mnr Engelbrecht sluit af: "Ons volgende stap is om die graad 12's in hierdie groep, wat betyds aansoek doen vir Ingenieurswese en wat voorlopig vir Ingenieurstudie in 2019 aanvaar word, te koester. Ons sal hulle graag nooi om tydens die September skoolvakansie eerstehands 'n klas te kom ervaar. Op die langer duur sal ons ook die Graad 11's wat 'n belangstelling in Ingenieurswese as 'n loopbaan toon, fyn dophou. Ons beplan om volgende jaar wéér 'n soortgelyke funksie aan te bied."

Foto:

August Engelbrecht (die volwassene onder die groep) en die gretige, toppresterende leerders wat die Eerste Generasie Ervaring op 10 Mei by die Fakulteit Ingenieurswese bygewoon het.