Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Energie-navorsingsprogram slaag met vlieënde vaandels
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 17/05/2018

Die Energie-navorsingsprogram*, gefinansier deur die Nasionale Departement Wetenskap en Tegnologie en geadministreer deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS), en gedryf deur die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES), het sy onlangse vyfjaarlikse oorsig met vlieënde vaandels geslaag.

Die Energie-navorsingsprogram is gebaseer op 'n Naaf-en-Speekmodel. CRSES, wat in die Fakulteit Ingenieurswese van die Universiteit Stellenbosch (US) gehuisves word, dien sedert sy ontstaan in 2006 as die Naaf van die model. Die drie Speke is Son-termies (verbonde aan die US en die Universiteit van Pretoria), Fotovoltaïes (verbonde aan die Universiteit van Fort Hare en Nelson Mandela Universiteit) en Windenergie (verbonde aan die US en die Universiteit van Kaapstad).

Die evalueringspaneel se drie kundiges, prof Henrik Lund (Aalborg Universiteit, Denemarke), dr Christos Markides (Imperial College London, VK) en prof Cristina Trois (Universiteit van KwaZulu-Natal, Suid-Afrika), het 'n omvattende verslag voorberei op grond van meer as 20 onderhoude wat met meer as 60 belanghebbendes (studente, personeel, alumni, industrie, staatsamptenare, ens.) oor vier dae gevoer is.

Prof Sampson Mamphweli, Direkteur van CRSES sedert Julie 2017, sê: "In die oorsigverslag het 'n paar positiewe aspekte sterk na vore gekom. Die drie aspekte is:

1. Die paneel het gevoel dat die hele Energie-navorsingsprogram op die vlak van internasionale standaard presteer;

2. Die befondsing wat die Energie-navorsingsprogram van die Departement Wetenskap en Tegnologie (DWT) via die NNS ontvang, is nie noodwendig voldoende nie. Die program het egter steeds beter gevaar as sommige goed-befondsde programme;

3. Die paneel het aanbeveel dat die DWT moet voortgaan om die die program te ondersteun, maar verskeie partye wat by die program betrokke is, moet probeer om addisionele befondsing uit verskeie bronne te verkry, insluitende internasionale donateurs."

Prof Mamphweli sê voorts: "Ons is baie gelukkig met die uitslag. Een ding wat bemoedigend is, is dat die DWT op grond van hierdie verslag informeel aangedui het dat hulle die program vir die volgende vyf jaar sal befonds. Hulle oorweeg boonop om hul befondsing te verhoog."

* Die hooffokus van die Energie-navorsingsrprogram is om navorsing aan universiteite te befonds wat in nege tematiese navorsingsrigtings gerig is, naamlik:

1. Skoner fossielbrandstofontwikkeling, insluitende skoon steenkool tegnologie;

2. Hernubare energie (bio-energie insluitende biobrandstowwe, sonkrag, windenergie, ens.);

3. Die impak van energie op die omgewing;

4. Energie vir sosio-ekonomiese ontwikkeling;

5. Beplanning en modellering van energiestelsels;

6. Optimering van energie-infrastruktuur;

7. Doeltreffendheid van energie en die bestuur van aanvraag;

8. Navorsing ten opsigte van energiebeleid; en

9. Alternatiewe energie.

Foto:

Van links: Dr Bernard Bekker (mededirekteur, CRSES) en prof Sampson Mamphweli (direkteur, CRSES).