Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika se kleinste saalneusvlermuis trek die skaal op vyf gram
Outeur: Wiida Fouriue-Basson
Gepubliseer: 16/05/2018

Met 'n liggaamsgewig van slegs vyf gram, is die nuutontdekte dwergvlermuis van Gorongosa Nasionale Park in Mosambiek nou amptelik Afrika se kleinste saalneusvlermuis.

Volgens 'n artikel wat onlangs in die Zoological Journal of the Linnean Society gepubliseer is, blyk dit dat Rinolophus gorongosae slegs binne die grense van die Gorongosa Nasionale Park in Mosambiek en moontlik ook op die nabygeleë berg, Inago, voorkom. 

'n Span navorsers, gelei deur professor Peter Taylor van die Universiteit van Venda, het hierdie ontdekking gemaak nadat hulle verskeie vlermuise uit twee grotte in Mosambiek gevang het. Hierdie veldwerk is onderneem deur dr Samantha Stoffberg van die DWT/NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Indringerbiologie by die Universiteit Stellenbosch, tesame met dr Steven Goodman van die Field Museum of Natural History in Chicago, en Corrie Schoeman van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Alhoewel hierdie dwergvlermuis met die eerste oogopslag baie trek na Swinny se saalneusvlermuis wat in Suid-Afrika voorkom, het hulle egter 'n unieke roepfrekwensie, DNS-samestelling en 'n hele rits morfologiese eienskappe. Dít is vasgestel nadat moderne tegnieke soos molekulê DNS-analise ingespan is en morfologiese studies van die skedel, neusflap en penisbeen gedoen is. En siende dat hierdie nuutontdekte dwergvlermuis slegs vyf gram weeg, is hierdie Mosambiekse inwoner nou amptelik Afrika se kleinste saalneusvlermuis.

Volgens Taylor lig hul studie se bevindings die belangrike rol uit wat antieke bergvormingprosesse gespeel het in die spesiasie van saalneusvlermuise: “Dit hou belangrike implikasies vir bewaring in, aangesien dit die feit blootlê dat spesies kleiner verspreidingsgebiede het as wat voorheen aanvaar is, en dat huidige bedreigings van berghabitatte soos bosaanplantings, onbeheerde brande, indringerplante en klimaatsverandering die risiko vir die uitsterwing van hierdie kwesbare spesies drasties verhoog."

Die studie, “Integrative taxonomy resolves three new cryptic species of small southern African horseshoe bats (Rhinolophus)", is op 24 April 2018 in die Zoological Journal of the Linnean Society gepubliseer.

Professor Taylor beklee die Suid-Afrikaans Navorsingsleerstoel (SARChI) in Biodiversiteit en Verandering in the Vhembe Biosfeer Reservaat by die Skool vir Wiskundige en Natuurwetenskappe by die Universiteit van Venda. Die leerstoel word gedeel met die Universiteit Stellenbosch. Taylor se navorsing fokus op indringerbiologie, en veral die verspreiding van soönotiese siektes en geïntegreerde bestuur van indringer rot en muis spesies.

Op die foto, verskillende aansigte van die nuutbeskryfde Gorongosa saalneusvlermuis. Kopiereg: Piotr Naskrecki.

Medianavrae

Professor Peter Taylor

Universiteit van Venda / Universiteit Stellenbosch​

Tel: + 27 83 792 4810
E-pos: peter.taylor@univen.ac.za  / peter.taylor.univen@gmail.com