Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch verklaring oor geslaggebaseerde geweld
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 04/05/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) is saam met Universiteite Suid-Afrika (USAf) en al die ander hoëronderwysinstellings (HOI’s) verontwaardig oor die algemene en geslagsgeweld in ons land en gemeenskappe en op ons kampusse. USAf het vandeesweek ʼn verklaring uitgereik waarin hy die moord op ʼn vroulike student by een van sy lidmaat-instellings veroordeel, wat blyk om geslaggebaseerde geweld te wees.

Ons hoëronderwysspasies is mikrokosmosse van ons breër samelewing, met die wreedheid en geweld wat deel is van sosiale verwantskappe, wat oorspoel tot in ons studentegemeenskappe. Die US is duidelik bewus van ons rol om ons studente toe te rus om geslagsgeweld te herken en daarteen op te tree.

Ons studenteondersteuning- en ontwikkelingsinisiatiewe is daarop gerig om ons studente agente vir verandering te maak – nie net sodat ons studente kan toerus om magsmisbruik, geslagsgeweld en manifestasies van verkragtingskultuur te herken nie, maar ook sodat hulle kan optree teen die strukture en stelsels in ons samelewing wat dit in plek hou.

Die US se strategiese posisionering is veranker in die skep en instandhouding van ʼn omgewing van inklusiwiteit, transformasie, innovasie en diversiteit, en om uitnemendheid te handhaaf met ʼn fokus op die toekoms. Een van die uitdagings is om ongeregtighede en diskriminasie uit ons hoëronderwysstelsel te verwyder en om menseregte en demokrasie op ons kampusse te versterk. Lees asseblief die Beleid op Onregverdige Diskriminasie en Teistering

Ons gaan ʼn ambisieuse opleidings- en bewusmakingsprogram van stapel stuur wat alle studente en personeel sal toerus met vaardighede om te reageer op die praktyke, houdings en oortuigings rakende verkragtingskultuur en geslagsgeweld in ons samelewing en dit te verander.

Ons steun die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie in hul hartseer oor hierdie insident en vat hande met alle HOI’s in Suid-Afrika om ʼn verskil te maak.
 
Groete
 Prof Arnold Schoonwinkel
Viserektor: Leer en Onderrig
​​