Aansoeke is nou oop vir deelname aan die tweede Deep Learning Indaba wat van 9 tot 14 September 2018 by Stellenbosch Universiteit plaasvind. Dit is 'n unieke pan-Afrika opleidingsgeleentheid wat deur Google DeepMind ondersteun word.
Die doel van die Indaba, slegs die tweede van sy soort om in Afrika plaas te vind, is om die basiese vaardighede vir masjienleer in Afrika te vestig, en om navorsers in Afrika se deelname in dié vakgebied aan te moedig. Tot op datum was Afrika onderverteenwoordig in terme van bywoning en deelname aan die internasionaal leidinggewende masjienleer konferensies.
“Dit is krities vir die toekomstige verloop van masjienleer en kunsmatige intelligensie, vir die tipe van spanne wat ons saamstel, en die probleme wat ons aanspreek, dat hierdie wanbalans aangespreek word," sê Shakir Mohamed, 'n Suid-Afrikaanse navorser by DeepMind.
Dr Willie Brink, 'n toegepaste wiskundige by die US en een van die organiseerders, sê die Indaba sal die vorm aanneem van 'n Lenteskool, met gevorderde lesings deur wêreldbekende spesialiste, praktiese sessies en netwerkgeleenthede. Enige studente, postdoktorale genote, navorsers, en professionele mense in die praktyk vanaf Afrika en die res van die wêreld kan aansoek doen.
“Ons is veral op soek na individue met 'n passie vir masjienleer, en vir wie dit 'n saak van erns is om masjienleer in Afrika te versterk. Verlede jaar was daar bykans 300 deelnemers. Ons hoop om die bywoningsgetal vanjaar te verdubbel," voeg hy by.
Die lys van sprekers sluit in die legendariese Jeff Dean van Google, Moustapha Cisse van Facebook, Katja Hofmann van Microsoft, en Nando de Freitas van DeepMind.
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 April 2018. Daar is geen registrasiefooi vir studente nie. Studente kan ook aansoek doen vir geldelike ondersteuning om vervoer- en verblyfkostes te dek.
Klik hier vir meer inligting of om aansoek te doen - http://www.deeplearningindaba.com/apply.html
Navrae:
Dr Willie Brink
Departement Wiskundige Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch
T: 027 _21 808 4218
E: wbrink@sun.ac.za