Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-navorsers onthul deurslaggewende werk oor die bestuur van TB, MIV
Outeur: Kim Cloete
Gepubliseer: 10/04/2018

​Vier navorsers van die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch het onlangs hul PhD's verwerf nadat hulle navorsing gedoen het wat waardevolle lesse oor die bestuur van TB en MIV in Suid-Afrika inhou.

Sue-Ann Meehan se navorsing het gespruit uit haar omvattende ervaring oor die opstelling van mobiele MIV-toetsklinieke, waar groot getalle mans - bemoedigend genoeg - vir MIV getoets is. Meehan se navorsing het getoon dat mans meer as die helfte van die meer as 180 000 mense uitgemaak het wat die DTTS se mobiele toetssentrums besoek het. Doelgemaakte tente en karavane is by taxistaanplekke en ander maklik toeganklike openbare ruimtes in en om Kaapstad opgerig. Wagtye was aansienlik korter by die mobiele eenhede as by klinieke en talle mense wat positief vir MIV getoets het, is met klinieke in verbinding geplaas om met hul behandeling te begin.

“Almal besoek nie klinieke nie, derhalwe het gemeenskapsgebaseerde MIV-toetsdienste ʼn deurslaggewende rol te speel in die opsporing en diagnosering van diegene wat met MIV leef," sê Meehan.

In die navorsing vir sy PhD het Peter Bock, medeleier van ʼn globale studie oor MIV-voorkoming, bevind dat die verskaffing van antiretrovirale behandeling (ART) aan mense met hoë CD4-tellings ʼn verlaging van 63% in die voorkoms van TB meegebring het. Maar hy het ook bevind dat ʼn groot persentasie van mense wat ART ontvang het toe hul CD4-tellings hoog was, nie aangehou het om ART te gebruik nie.

“Ek hoop om betekenisvolle werk oor MIV te kan voortsit. As my navorsing tot plaaslike én globale pogings teen MIV kan bydra, sal dit regtig vir my waardevol wees. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om op die gebied van MIV-behandeling te werk, want dit kan positiewe en grondverskuiwende gesondheidsvoordele vir mense in gemeenskappe inhou," het Bock gesê.

Rory Dunbar het ʼn operasionele model ontwikkel om te verduidelik hoekom GeneXpert ­– ʼn nuwe molekulêre diagnostiese TB-toets – 157% meer kos, maar nie tot ʼn toename in die diagnosering van TB-gevalle gelei het nie. Die aanbeveling op grond van sy navorsing is dat die verbetering van stelsels by klinieke en die verlaging van die toetskoste sal verseker dat die toets meer bekostigbaar sal wees en meer TB-gevalle gediagnoseer sal word.

Dunbar het gesê die afgelope jare was moeilik, maar het die moeite geloon.

​​“Ek het lang ure geswoeg om my PhD te verwerf, maar ek onthou altyd die groter prentjie – dat ek werk om mense se gesondheid en lewensomstandighede te verbeter. Ek hoop my navorsing sal beleidmakers en die Departement van Gesondheid help om met beter strategieë vorendag te kom en in die toekoms diagnostiek vir TB in werking te stel."

Florian Marx se wiskundige modelleringswerk het op die bespeuring en die voorkoming van TB-oordrag onder voormalige TB-pasiënte gefokus. Sy navorsing het getoon dat gefokusde intervensies om TB onder voormalige TB-pasiënte te bespeur en te voorkom, die oordrag van TB in die hele plaaslike bevolking aansienlik kan verlaag.

Mariana Kruger, uitvoerende hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid van die FGGW, het gesê die vier navorsers het ongelooflike werk gedoen.

“Die kennis wat hierdie vier navorsers gegenereer het, sal openbare gesondheidsbeleid en -programme tot groot voordeel strek."

Volgens Kruger is dit uiters betekenisvol dat vier navorsers van dieselfde navorsingsentrum tegelyk PhD-grade verwerf het. Sy het dit as ʼn groot hupstoot vir die DTTS en die Fakulteit bestempel. Sy het voorts erkenning gegee aan die voormalige Direkteur van die DTTC, Nulda Beyers, wat al vier die graduandi se toesighouer was.

“Nulda het ontsaglik baie werk ingesit. Dis ʼn reusetaak om tegelyk oor vier PhD's toesig te hou en boonop te sorg dat hulle almal tegelyk afgehandel word."

Beyers het gesê dit was ʼn voorreg om met elkeen van die gegradueerdes te werk.

“Dis fantasties om te sien hoe hulle as jong wetenskaplikes ontwikkel het, hoe hulle deur wetenskap kan redeneer en, baie belangrik, hoe hulle as mense ontwikkel het. ʼn PhD is nie ʼn doktorsgraad in die wetenskap nie. Dis ʼn doktorsgraad in filosofie. Dit gaan derhalwe eintlik oor die lewe."

Beyers het die hoop uitgespreek dat die voordele en uitdagings wat deur hierdie navorsing uitgelig word, ʼn prioriteit vir programimplementeerders van die Departement van Gesondheid sal wees.

“Hierdie navorsing kan help om die bestuur van TB en MIV te rig. Ons het baie goeie beleide in Suid-Afrika, maar hierdie navorsing sal toon hoe hierdie beleide in werking gestel kan word om die diagnosering en behandeling van TB en MIV te bevoordeel."

Kruger en Beyers het die US geprys vir die geldelike steun aan Dunbar, ʼn kwadrupleeg, om saam met ʼn assistent na nasionale en internasionale vergaderings te reis. Die universiteit het die DTTS-kantore ook rolstoelvriendelik ingerig en ʼn tuin vir Dunbar se dienshond, Vaughn, geskep.

“Ek is geweldig trots om geassosieer te word met ʼn universiteit wat nie net oor gelykheid vir gestremde kollegas praat nie, maar dit ook uitleef," het Beyers op die gradueringsplegtigheid in Maart gesê.

Die vier graduandi het gesê hulle sien uit na ʼn paar vry aande en naweke noudat hulle hul PhD-studies voltooi het, maar dat hulle sal aanhou om oor die afgelope paar jaar na te dink.

“Die DTTS bied ʼn wonderlike, ondersteunende omgewing vir ʼn PhD. Die reis was ʼn mengsel van meer hoogte- as laagtepunte, ʼn enorme hoeveelheid harde werk en deursettingsvermoë … en baie sjokolade," het Meehan gesê.

Onderskrif: Lede van die DTTS wat onlangs hul PhD grade verwerf het saam met hul toesighouer, prof Nulda Beyers.