Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Passie vir atletiek dryf Janke oor alle struikelblokke
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 05/04/2018

Passie. Dit is wat Janke van Wyk (21), 'n Matie-atleet en onderwysstudent in haar derde jaar, dryf om tot 18 uur 'n week te oefen.

Dié voorbereiding het onlangs vrugte afgewerp toe Janke haar hoogste prestasie nóg in haar atletiekloopbaan behaal het deur 'n silwermedalje in die 100m hekkies by die onlangse SA senior atletiekkampioenskap te wen.

“Ek is baie tevrede en trots op myself. Ek het baie ure geoefen en hard gewerk," sê sy.

Sy het reeds in die laerskool begin hekkies hardloop en het in graad 9, toe sy 'n leerder aan die Hoërskool Stellenberg was, aan nasionale kompetisies begin deelneem.

“Die hekkiesitem is opwindend en uitdagend. Om spoed en tegniek vir hierdie item te kombineer, is nie altyd so maklik nie, maar dis baie lekker."

Janke oefen tot drie uur per dag, ses dae per week.

“Atletiek is my passie. As sport in jou bloed is, is dit in jou bloed. Dit was nooit vir my 'n opsie om atletiek op te gee toe ek universiteit toe gekom het nie."

Die gevoel van bevrediging wat sy aan die einde van 'n wedloop ervaar, is haar motivering om daarmee deur te druk.

“Al gaan elke wedloop nie noodwendig na wense nie, weet ek dat ek in elke oefening my beste gee, en dit is juis waaroor dit gaan. Dit is nooit vir my 'n las om te oefen nie."

Sy geniet die Varsity Atletiek-byeenkomste, waar sy in Maart silwer en brons gewen het, ook baie.

“Ek is ongelooflik bly dat hierdie geleentheid vir atlete geskep is. Atletiek is 'n baie eensame sport, maar by hierdie byeenkoms neem jy deel as 'n lid van jou span. Dit maak dit nog lekkerder."

Janke sal graag eendag vir Suid-Afrika op die atletiekbaan wil vertoonwoordig. Sy sien ook daarna uit om haar as onderwyseres te kwalifiseer en haar passie vir atletiek as 'n afrigter te bly uitleef.

Dié inwoner van Monica-vrouekoshuis moes leer om 'n balans tussen haar studies en haar sport te vind.

“Deur die loop van die dag woon ek klas by, in die middae ná klas is dit reguit oefening toe en in die aand is ek agter die boeke. Dit was moeilik aan die begin van my studies, omdat ek baie reis. Ek het geleer om vooruit te werk en op vliegtuie te leer. Omdat ek 'n roetine gevind het, is dit nie meer 'n probleem nie. En sonder atletiek, sou ek nie die mens en atleet wat ek vandag is, geword het nie."