Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee nuwe vise-dekane aangestel in Fakulteit AgriWetenskappe
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 27/03/2018

Voedselveiligheid en die genetika van lewende hawe is die onderskeie fokusgebiede van  twee nuwe vise-dekane wat onlangs by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe aangestel is.

Prof. Kennedy Dzama, 'n bekroonde genetikus wat fokus op lewende hawe, is aangestel as die nuwe vise-dekaan verantwoordelik vir navorsing, innovasie en nagraadse studies in die fakulteit.

Prof. Dzama het sy doktorsgraad in diereteling en genetika aan die Universiteit van Texas A&M in Amerika verwerf. Hy was voorheen verbonde aan universiteite in Afrika suid van die Sahara. Prof. Dzama is die afgelope 12 jaar verbonde aan die US en is sedert 2012 die voorsitter van die Departement Veekundige Wetenskappe. Hy is ook aan die stuur van die departement se portefeulje vir diereteling en -genetika. Sy navorsing fokus hoofsaaklik op genomiese evaluering van Afrika se dierehulpbronne. Deesdae doen hy veral navorsing op die genetika van vee wat weerstandigheid teen parasiete toon.

Prof. Dzama sien uit na die uitdagings van hierdie splinternuwe pos in die fakulteit. “Ek wil onder meer fokus daarop om die gehalte van ons onderrig te verbeter en om nouer met die (landbou)sektor saam te werk. behoort 'n groter rol te speel buite ons land se grense, veral in Afrika."

Op sy beurt is Prof Pieter Gouws aangestel as vise-dekaan verantwoordelik vir onderwys en onderrig in die fakulteit. Prof. Gouws, verbonde aan die Departement Voedselwetenskap, was voorheen aan die stuur van die Universiteit van Wes-Kaapland se Departement Biotegnologie. Hy gebruik biotegnologie-tegnieke om te help verseker dat kosprodukte geskik is vir menslike gebruik. Prof. Gouws word beskou as 'n kenner op die gebied van voedselveiligheid en listeriose.

Oor sy aanstelling sê Prof. Gouws: “Die veranderende konteks en nuwe uitdagings in die hoër onderwyssektor en ons samelewing noodsaak ons om anders oor onderwys en onderrig te dink." Hy meen die fakulteit moet 'n akademiese kultuur nastreef waarbinne onderwys en onderrig vervleg word. “Ons behoort programme aan te bied wat vernuwend, uitdagend en multidissiplinêr van aard is asook op studente se leerprosesse fokus," sê hy.

Oor die komende paar jaar wil Prof. Gouws buigbare assessering benut om meer onderrigtyd te skep. Hy wil geleenthede bied vir studente om vir ekstra vakke buite hul studieveld in te skryf en die aantal krediete wat jaarliks per kursus verwerf moet word, verminder. Prof. Gouws wil hom ook beywer daarvoor dat kritiese denke, etiese oorwegings en kommunikasie-vaardighede by die leerplan ingesluit word.