Die SciMathUS-program (Wetenskap en Wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch) het weer eens suksesvolle resultate by vanjaar se gradeplegtigheid opgelewer.
Die program, wat deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogiek (SUNSEP) aangebied word, gee studente uit agtergeblewe opvoedkundige agtergronde oor die hele land 'n tweede kans om vir hoër onderwys te kwalifiseer. Ná voltooiing van die SciMathUS-program besluit sommiges selfs om hulle tersiêre opleiding aan die Universiteit Stellenbosch (US) te deurloop.
By die Maart-gradeplegtigheid sal 16 voormalige SciMathUS-studente uit verskeie fakulteite, waaronder die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, die Fakulteit Natuurwetenskappe en die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, hulle graad ontvang. Sedert die instelling van die program in 2005, is 323 grade aan voormalige SciMathUS-studente toegeken.
Vanjaar het die volgende studente grade by die Maart-gradeplegtigheid ontvang:
- Charlton Roux BComHons
- Rowan Mathews BComHons
- Steven O'Ehley BComHons
- Lungiswa Tolobisa BComHons
- Vuyolwethu Mngeni BCom (Ekonomiese Wetenskappe)
- Fundeka Ndyoki MSc (Voedselwetenskap)
- Jillian Mary Kuluse BScBosb
- Anthono Kayster BScAgric
- Allistair November BEd (Algemene Opvoeding)
- Charné Ross BSc (Menslike Lewenswetenskappe)
- Joanne Levendal BA (Geesteswetenskappe)
- Siphiwo Zidubule BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie)
- Reece Murray BSc (Rekenaarwetenskap)
- Mnqweno Mvundlela BComHons
- Alupheli Ndudula BRek
- DS Dukhan Nagraadse Diploma in Leierskapontwikkeling
Volgens dr Trevor Louw, Direkteur van SUNSEP, is die sukses van die SciMathUS-studente 'n bewys van die harde werk wat elke personeellid by die program in die studente belê. “Dit is 'n absolute plesier om ons studente op hierdie vlak te sien presteer. Hulle het bewys dis moontlik om die uitdagings te oorkom waarmee baie jongmense in ons samelewing te doen kry. Die groot ding by SciMathUS was nog altyd toegang tot 'n tweede geleentheid op tersiêre onderwys. Dit is selfs beter wanneer daardie toegang tot sukses lei."
Die meeste van die 16 studente wat afstudeer, voel baie dankbaar oor die SciMathUS-program en die geleenthede wat daaruit voortvloei. “SciMathUS was die beste ding wat ek vir myself kon doen. Om hierdie kursus te kan volg, laat jou gedrewe en gemotiveerd voel. Tydens die program moes ons ons verbind tot iets wat ons in die toekoms kon help. Die program het nie alleen gehelp om my punte te verbeter nie, maar dit het in werklikheid my perspektief op die lewe verander," sê Charné Ross.
Lungiswa Tolobisa sê die SciMathUS-program het haar gehelp om meer bewus te raak van terugploeg en om 'n verskil in ander voornemende US-studente se lewe te maak. Terwyl sy haar grade aan die US voltooi het, het sy met administratiewe werk vir voornemende SciMathUS-studente gehelp en was sy 'n inwonende mentor by die Boland Kollege in Stellenbosch, waar baie van die SciMathUS-studente woon wanneer hulle die program deurloop. “Daar is baie dinge wat mens tydens die program leer, maar wat jy nie altyd waardeer totdat jy sekere dinge ervaar en dan daardie lesse kan toepas nie. Ek wou dié ervarings met nuwe studente in die program deel en hulle hopelik help om ook hulle doelwitte aan die US te bereik."
Volgens Reece Murray, wat in Maart sy graad behaal, kon hy vanweë die SciMathUS-program in sy gunsteling-rigting studeer. “Ek het nog altyd daarvan gehou om met rekenaars te werk en die voltooiing van hierdie program het my lewe verander. Die SciMathUS-program was baie ondersteunend en ons het regtig die beste onderwysers gehad. Hulle het ons gedurig aangemoedig en deur die hele kursus druk op ons geplaas. Dit het my in staat gestel om 'n graad te voltooi waaroor ek mal is, en ek kon my ma trots maak deur die tweede persoon in ons gesin te word wat universiteit toe kon gaan. Ek hoop om eendag terug te keer na die US en verder te studeer, en dalk kan ek nog in die toekoms my eie sagtewarebesigheid begin," sê Reece.
Sedert die instelling van die SciMathUS-program in 2001 het meer as 1 000 studente die program suksesvol deurloop. Die program fokus hoofsaaklik op hulpverlening aan matriekleerders om hulle Wiskunde- en Wetenskappunte in die Nasionale Senior Sertifikaat te verbeter. Die program bied ook Rekeningkunde en Inleiding tot Ekonomie aan.
Studente draf weekliks van 08:00 tot 16:30 klas in SciMathUS.
• Matrikulante kan met Adele Poole by 021 808 3032 of apoole@sun.ac.za in verbinding tree vir meer inligting oor die program.
•Vir meer inligting oor die program, skakel asseblief met die Programbestuurder Nokwanda Siyengo by 021 808 2356.