Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste kohort Lisa Maskell-genote van Nagraadse Skool ontvang hulle PhD's
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 23/03/2018

Die eerste vyf Lisa Maskell-genote van die Nagraadse Skool vir Lettere en Sosiale Wetenskappe het Donderdag, 22 Maart, hulle PhD-grade ontvang. Die Lisa Maskell-genootskappe word deur die Gerda Henkel-stigting in Duitsland toegeken.

Die genootskapsprogram is in 2014 aangevoor om saam te val met die 100ste verjaardag van Lisa Maskell, die stigter van die Gerda Henkel-stigting. Die program ondersteun jong geesteswetenskaplikes van Afrika en Suidoos-Asië, en is die grootste internasionale steunprogram vir doktorale studente in die geskiedenis van die stigting.

​In Afrika koördineer die Nagraadse Skool vir Lettere en Sosiale Wetenskappe van die Universiteit Stellenbosch en die Kollege vir Geestes- en Sosiale Wetenskappe van Makerere-universiteit in Kampala, Uganda, die genootskapsprogram namens die Gerda Henkel-stigting. Doktorale kandidate ontvang 'n drie jaar lange PhD-beurstoekenning by een van hierdie nagraadse skole, en kandidate van alle lande suid van die Sahara kan aansoek doen. Albei universiteite maak deel uit van PANGeA (die Vennootskap vir Afrika se Volgende Generasie Akademici), 'n samewerkende netwerk van toonaangewende Afrika-universiteite wat navorsingsvermoë en -vertroue bou om Afrika-uitdagings met Afrika-kundigheid die hoof te bied. Die lede van die netwerk is die Universiteit van Botswana, die Universiteit van Dar es Salaam in Tanzanië, die Universiteit van Ghana, Makerere-universiteit, die Universiteit van Malawi, die Universiteit van Nairobi in Kenia, die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Yaoundé I in Kameroen.

“Ons is baie trots op ons eerste kohort genote, wat besonder hard gewerk het om hulle grade te verwerf. Boonop het hulle dit binne 'n korter tydperk as baie van ons Europese PhD-studente gedoen – nóg 'n duidelike aanduiding dat die Nagraadse Skool op Stellenbosch 'n goed georganiseerde en hoogs doeltreffende instelling vir hoër onderwys in Afrika is. Ons hoop ons borgskap vir die Universiteit Stellenbosch en vir die Nagraadse Skool by Makerere-universiteit in Kampala, Uganda, sal op lang termyn 'n beskeie bydrae lewer tot uitstekende akademiese prestasies deur Afrikane in Afrika. En ek's oortuig daarvan dat van hierdie skrander jong mans en vroue eendag leiersposte sal beklee – hetsy in die akademie, die regering, die sakesektor of nieregeringsorganisasies – en sodoende 'n belangrike rol sal vervul in die toekomstige ontwikkeling van die samelewing in hulle geboortelande en verder," het dr Michael Hanssler, die voorsitter van die uitvoerende raad van die stigting, gesê.

​Dr Cindy Steenekamp, raadsvoorsitter van die Nagraadse Skool, het gesê die vennootskap met Gerda Henkel het die Nagraadse Skool die afgelope vyf jaar baie van sy doelwitte help bereik.

​“Dit is vir ons 'n voorreg om saam te werk met skenkers wat ons visie vir die hoër onderwys in Afrika deel. Baie projekte misluk omdat skenkers se verwagtinge nie strook met die werklikheid van die projekte wat hulle ondersteun nie. Die Gerda Henkel-stigting deel ons visie en ondersteun ons akademiese projek sonder om voorskriftelik te wees of ons bedrywighede te probeer reël. Hulle erken die bestaande kundigheid en beduidende sukses van die Nagraadse Skool, respekteer die vennootskappe wat ons met die res van Afrika opgebou het, en ondersteun en onderskraag daardie inisiatiewe," het Steenekamp gesê.

Doktorale beurse soos die drie jaar lange voltydse beurs van die Nagraadse Skool is besonder duur.

“Skenkers belê 'n groot klomp geld in 'n intellektuele hulpbron wat eers ná drie jaar 'n opbrengs begin toon. Om met 'n stigting saam te werk wat die geduld het om te wag dat hulle belegging mettertyd groei en vrugte afwerp sodat ons 'n sinvolle bydrae tot die lettere, geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe op die vasteland kan lewer, is noodsaaklik vir ons volgehoue sukses," het Steenekamp bygevoeg.

Boonop het die stigting se steun die Nagraadse Skool internasionale blootstelling gegee en geleenthede vir verdere borgskappe geskep.

“Omdat ons 'n langtermyn- finansiële verbintenis bekom het van 'n filantropiese organisasie van die Gerda Henkel-stigting se formaat, is ander skenkers nou ook bereid om betrokke te raak en met ons saam te werk. Sonder die stigting se voortgesette steun sou baie van hierdie geleenthede nie moontlik gewees het nie."

Die studente wat by die genootskappe baat gevind het, is dr Sibongile Mpofu, wat in Desember 2017 gegradueer het, en drs Hezron Kangalawe, Serah Kasembeli, Neema Laizer en Herbert Ndomba, wat almal hulle doktorsgrade by gister se gradeplegtigheid ontvang het.

Baie van die gegradueerdes meen hulle sou nie sonder die genootskap 'n PhD behaal het nie, want finansies was 'n probleem.

“As 'n ouer, sou ek nie my salaris kon prysgee nie, want ek moes steeds vir my kinders sorg. So, hoewel die beurs nie in ál die behoeftes voorsien het nie, het dit wel die finansiële druk verlig," het dr Mpofu van die Nasionale Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie in Zimbabwe gesê.

Dr Kangalawe van die Universiteit van Dar es Salaam het bygevoeg: “Finansieel het hierdie genootskap my op vele maniere gehelp, onder meer deur die klasgeld te betaal wat ek nie op my eie óf deur my universiteit sou kon bybring nie. Ek het partymaal 'n gedeelte van my beurs opsygesit vir reiskoste sodat ek aan die einde van die jaar in Dar es Salaam kon gaan kuier. Sonder hierdie genootskap sou dit in ieder geval veel langer geduur het om my PhD te verwerf."

“As dit nie vir hierdie genootskap was nie, sou ek nie die geleentheid gehad het om my PhD aan die Nagraadse Skool van die Universiteit Stellenbosch te verwerf nie. Die genootskap het vir belangrike dele van my doktorale opleiding, soos klasgeld en stipendiums, betaal, en die oorblywende aspekte, soos vliegkaartjies en navorsingsgeld, kon ek deur my werkgewer bekom," het dr Ndomba, ook van die Universiteit van Dar es Salaam, gesê.

Daarbenewens het party studente gekies om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer vanweë die uitnemende reputasie van die Nagraadse Skool, en die doeltreffende studieleiding van sy akademiese personeel.

“Die Universiteit Stellenbosch is 'n erkende en gerekende instelling, en die beskikbaarheid van beurse het my net verder aangemoedig om hier aansoek te doen. In my navorsing oor waar daar die meeste kundigheid op my vakgebied is, het ek gou besef die Universiteit Stellenbosch is die regte keuse vir my. Ek het van die voorste kenners op die gebied as mentors gehad, en is deur seminare aan navorsingsbedrywighede blootgestel – dit alles het beslis tot my sukses bygedra," het dr Mpofu gesê.

Een ding staan vas: Met hulle doktorsgrade agter hulle naam, het die Lisa Maskell-genote soveel meer geleenthede tot hulle beskikking.

“Die genootskap het my lewe ingrypend verander. Ek het deur my drie jaar lange doktorale opleiding baat gevind by verskeie nagraadse opleidingsessies, werksessies, seminare, veldnavorsing en die skryf van verslae. Hierdie opleidingsgeleenthede het my toegerus as 'n jong beroepsvakkundige, -navorser en -akademikus van Afrika. Vandag is ek die heel eerste PhD-gegradueerde van die dorp Ndongosi in die Ruvuma-streek in die suide van Tanzanië – 'n dorp wat in die vroeë jare sestig, net na ons onafhanklikwording, gevorm is – en 'n dosent aan die Universiteit van Dar es Salaam," het dr Ndomba gesê.

“Ek doen graag 'n beroep op ons skenkers om aan te hou om dié program te ondersteun, want sodoende rus hulle nie net 'n jong Afrika-generasie toe om onkunde, armoede en siekte op die vasteland te bestry nie, maar help hulle ons ook die internasionale doelwitte van volhoubare ontwikkeling bereik," het hy bygevoeg.

Foto: Die eerste kohort Lisa Maskell-genote wat hulle grade deur die Nagraadse Skool vir Lettere en Sosiale Wetenskappe voltooi het, het Woensdag gegradueer. Hier is hulle saam met verteenwoordigers van die Gerda Henkel-stigting, wat die Lisa Maskell-genootskappe toeken. Van links na regs is dr Michael Hanssler (Voorsitter van die Uitvoerende Raad van die Gerda Henkel-stigting) , dr Serah Kasembeli, dr Herbert Ndomba, dr Hezron Kangalawe, Mnr Jens Christian Schneider (Projekbestuurder van die Lisa Maskell-genootskappe)​ and Dr Neema Laizer. (Anton Jordaan, SSFD)