Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alberto ontvang eerste Meestersgraad in Ramprisiko-wetenskap en -ontwikkeling
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 22/03/2018

Alberto Francioli, 'n personeellid van die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikoreduksie (RADAR) aan die Universiteit Stellenbosch (US), het Donderdag (22 Maart 2018) die eerste Meestergraad in Ramprisiko-Wetenskap en ‑ontwikkeling (Disaster Risk Science and Development) aan die US verwerf. Francioli, ook 'n vrywillige brandweerman, het sy graad by die by vyfde gradeplegtigheidseremonie van die US se Maart-gradeplegtigheid ontvang. Sy studieleier was dr Robin Pharoah van RADAR.

Francioli se studie het prober om om die energiebronne wat deur lae-inkomste huishoudings in die Lwandle-, Nomzamo- en Asanda areas in Somerset-Wes en Strand gebruik word, te identifiseer. Hy wou veral uitvind of inwoners voortgaan om gereeld gevaarlike nie-elektriese bronne soos kerse, paraffien en selfs brandhout gebruik ten spyte daarvan dat hulle toegang het tot elektrisiteit.

As deel van sy navorsing het Francioli probeer om die energiebronne wat deur lae-inkomste huishoudings in die Lwandle-, Nomzamo- en Asanda areas in Somerset-Wes en Strand gebruik word, te identifiseer. Hy wou veral uitvind of inwoners voortgaan om gereeld gevaarlike nie-elektriese bronne soos kerse, paraffien en selfs brandhout gebruik ten spyte daarvan dat hulle toegang het tot elektrisiteit.

Francioli sê die doel was om die faktore te bepaal wat hierdie keuses beïnvloed, die implikasies wat hierdie energiekeuses vir brandrisiko's het, asook die maatreëls wat huishoudings gebruik om die risiko vir brande te verminder.

Hy het fokusgroepsessies met inwoners gehou en ook 'n huishoudelike opname gebruik om inligting oor strategieë vir huishoudelike energieverbruik, persepsies oor veiligheid en toeganklikheid van energiebronne en ervarings van energieverwante brande van inwoners in verskillende wonings te versamel.

Francioli wys daarop dat ongeveer 67,2% van huishoudings afwisselend van elektrisiteit en paraffien gebruik maak om hul daaglikse energiebehoeftes te bevredig. Dit staan as energy stacking bekend.

“ ʼn Potensiële gevolg hiervan is dat die meerderheid huishoudings steeds die risiko van 'n brand wat deur nie-elektriese energiebronne veroorsaak word in die gesig staar."

“Dit is dus geen verrassing nie dat brande in gebiede soos Lwandle, Nomzamo en Asanda toegeskryf word aan die gebruik van onveilige en potensieel gevaarlike vorms van energie soos kerse vir beligting, paraffien vir kook en kookwater, en brandhout vir verwarming."

“Daar word dikwels voorgeskryf dat om brande in lae-inkomste-woongebiede te beperk, mense se toegang tot elektrisiteit verhoog moet word."

Francioli se navorsing het ook bevind dat meer brande in wonings deur elektrisiteit veroorsaak word veral in formele huishoudings en plakkershutte op eiendomme.

“Brande in informele nedersettings het n geweldige impak op lae-inkomste gesinne en lei tot grootskaalse ontwrigting."

Francioli sê sommige huishoudings in hierdie informele nedersettings gebruik paraffien en hout omdat elektrisiteit eenvoudig te duur is.

“Hoewel elektrisiteit die energiebron is wat die meeste gebruik word, kan huishoudings dit nie ten volle benut nie weens finansiële beperkings of probleme rakende fisiese toeganklikheid en die kwaliteit van elektriese verbindings."

“Soms is dit vir baie groot huishoudings goedkoper om paraffien te gebruik om te kook en warm te bly in die winter."

Francioli wys daarop dat hoewel baie huishoudings gereeld aan baie potensieel gevaarlike elektriese en nie-elektriese energiebronne blootgestel is, hulle sekere maatreëls instel om sulke blootstelling   te verminder en die risiko van brande te verlaag.

“Dit sluit onder meer in om nie te veel elektriese toestelle gelyktydig te gebruik nie ten einde oorlading van elektriese verbindings te verhoed (bv. oorverhitting of vonke wat vlambare materiale in die omtrek kan laat ontvlam); seker te maak paraffien en kerse word nie naby ander vlambare materiale gebruik nie en gereeld dopgehou; jong kinders weg te hou van nie-elektriese bronne (ingeval hulle dit omstamp of daarmee speel) en hulle te leer oor die gevare hiervan en hoe om dit veilig en korrek te gebruik; en konstant op die uitkyk te wees vir tekens van vuur or vure wat dalk in die eie woning of bure se woning mag ontstaan."

Oor die waarde van sy graad, sê Francioli ramprisiko is 'n uiters belangrike veld.

“Dit is 'n belangrike en multidissiplinêre vakgebied wat toegepas kan word op landbou, infrastruktuur, vervoer, stedelike beplanning, self ekonomie en sielkunde en verskeie ander moontlikhede. Hopelik sal meer mense hiervan te hore kom en in ramprisiko as 'n vak begin belangstel omdat dit met ons beveiliging teen moontlike toekomstige rampe te make het."

Francioli sê hy beplan om sy bevindinge in akademiese vaktydskrifte te publiseer.

Foto: Alberto Francioli met sy graad.

Fotograaf: Anton Jordaan

  • ​RADAR is in 2013 by die US gestig en het voortgebou op 17 jaar van toegepaste ramprisiko-navorsing deur sy voorganger, die Disaster Mitigation for Sustainable Livelihoods-programme (DiMP). RADAR se navorsing, onderrig, beleidsvoorspraak en gemeenskapsuitreikingspogings beklemtoon stedelike risiko's, sowel as hidrometeorologiese bedreigings en brande. RADAR is ook deel van ʼn konsortium van 12 universiteit regoor Afrika, Periperi U (Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risk), wat fokus op die bevordering van navorsing en kapasiteitsbou deur middel van akademiese programme in ramprisiko.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Alberto Francioli

Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikoreduksie (RADAR)

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 9401

Sel: 084 208 1870

E-pos: albertofrancioli@sun.ac.za

                    UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za