Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Projek Zero verwelkom nuwelinge en vier vordering
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 19/03/2018

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het nie net 'n derde kohort Projek Zero-beurshouers in 2018 verwelkom nie, maar vier ook die vordering van die beurshouers wat hul reis in 2016 en 2017 begin het.

Projek Zero-beurse, tesame met die Universiteit se werwing- en merietebeurse, dek die student se volle universiteitsrekening. Die beurse word op grond van akademiese meriete toegeken en omtrent 50% van die ontvangers kom uit 'n hulpbron-arm agtergrond.  

“Julle is die room van die oes en ons is baie trots op julle," het prof. Johan Malan, waarnemende Dekaan van die Fakulteit, aan studente gesê by 'n spesiale geleentheid wat vroeër in Maart gehou is.

Die 2018-kohort bestaan uit 20 eerstejaarstudente, terwyl daar 19 tweedejaar- en 15 derdejaarstudente is. Drie studente uit die oorspronklike 2016-kohort het die Projek Zero-inisiatief verlaat nadat hulle ander beurskontrakte onderteken het.

Die top- Projek Zero-presteerders uit die 2016-inname (nou derde jaar) en die 2017-inname (nou tweede jaar) het by dié geleentheid erkenning gekry. Hulle is Kamir Arjun (Rekeningkunde), Panashe Hakutangwi (Aktuariële Wetenskap), Jeremy Gounden (Rekeningkunde) en Wesley Manotwana (Aktuariële Wetenskap).

Dié studente waardeer die feit dat hulle nie 'n finansiële las hoef te dra nie en dat hulle op hul studies kan fokus.

“Die beurs het my in staat gestel om vir 'n vaardigheid wat in aanvraag is, te studeer sonder om my oor studenteskuld te bekommer. Behalwe dit, het die beurs my studies deur middel van die module-mentorskapprogram gesteun, wat my in staat gestel het om 'n mentor te vind om my deur die uitdagings wat ek in dié kursus die hoof moes bied, te begelei," het Kamir gesê.

“Ek glo daaraan om my lewe voluit te leef en terselfdertyd seker te maak dat ek 'n goed gebalanseerde individu bly. Ek stel deurentyd doelwitte vir myself en werk hard om hulle te bereik. Ek wil onder meer my Rekeningkunde-graad cum laude verwerf, 'n MBA aan die Harvard Besigheidskool voltooi en die Comrades-marathon hardloop. Ek wil ook graag iets aan die gemeenskap teruggee deur my tyd en vaardighede aan eienaars van jong ondernemings te bied en hulle te help om 'n volhoubare besigheid te bou."

Jeremy het baie geëerd gevoel toe hy die nuus ontvang het dat 'n Projek Zero-beurs aan hom toegeken is.

“Die beurs het allereers 'n enorme finansiële impak op my onderrig-, akkommodasie- en 'n oorvloed ander uitgawes rakende my studies, en stel my sodoende in staat om op my graad te fokus sonder vrees vir finansiële probleme, terwyl dit ook as motivering dien om die beste moontlike punte te behaal."

Sy doel is om as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer en te sien waarheen die wêreld hom neem.

“Ons lewe in 'n omgewing wat voortdurend verander, met verskeie moontlikhede wat 'n mens as 'n geoktrooieerde rekenmeester kan nastreef."

Panashe het nooit verwag om 'n volle beurs van een van die top-universiteite in die land te ontvang nie.

“Ná die skok het 'n oorweldigende vreugde gevolg – 'n groot vasberadenheid om te verseker dat my matriekresultate op die boonste kerf is, en sedert ek by die universiteit aangekom het, 'n selfs groter vasberadenheid om my absolute beste te doen en nié hierdie geleentheid te mors nie. Dit het die finansiële las op my ouers verlig en laat my toe om op my akademie, leierskapvaardighede en fisieke welwees te fokus.

“Die beste deel van studentwees op Stellenbosch is die besef dat ek nie net hier is om 'n graad te kry nie. Ek is hier om te groei, vriende te maak en van die beste jare van my lewe te ervaar."

Wesley, wat sy skoolloopbaan aan die Mphela A Marumo Sekondêre Skool In Limpopo voltooi het, beskryf die dag waarop hy gehoor het dat 'n Projek Zero-beurs aan hom toegeken is, as die beste dag van sy lewe.

"Ek kon dit eers nie glo nie. Ek het gevoel asof God my aanmoedig om my "groot" drome na te streef deur finansiële struikelblokke te verwyder."

Sy droom is om eendag iets terug te gee aan sy gemeenskap.

"Ek wil leerders in my omgewing laat besef hoeveel potensiaal hulle het, aangesien baie van hulle nie besef tot watter mate onderwys hulle lewe kan verbeter nie."

  • ​Geen bydraes is te klein nie en geld kan geoormerk word vir die Projek Zero-inisiatief. Kontak die fakulteitsbestuurder, MJ Brooks, by +27 (0)21 808 2078 of mjbrooks@sun.ac.za if as jy graag wil bydra.