Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Programhernuwing aan die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Claudia Swart
Gepubliseer: 08/06/2016

Programhernuwing aan die Universiteit Stellenbosch


Agtergrond

 

Die Viserektor: Leer en Onderrig (L&O), prof Arnold Schoonwinkel, het aangedui dat holistiese programme een van die sleutelstrategieë vir sy verantwoordelikheidsentrum (VS) in 2017 is. Dit vloei voort uit ʼn opkomende US-strategie vir programontwikkeling en uit geïntegreerde-L&O-planne vanuit die omgewings wat by die Institusionele Beplanningsforum se byeenkomste en aan die Senaat en die Raad voorgelê is. ʼn Praktykgemeenskap is in 2016 gestig om alle visedekane vir onderrig te betrek, sowel as senior personeellede wat vir programbestuur verantwoordelik is. Gereelde gesprekke is gevoer oor hoe om in 2017 tot aksie oor te gaan.

Hoe om tot aksie oor te gaan: Prof Gilly Salmon-werksessie

 

Die programhernuwingsproses is ʼn holistiese institusionele projek waarvan die eerste jaar daarop gemik is om een program as kandidaat vir hernuwing per fakulteit uit te wys , en om ʼn padkaart vir programhernuwing binne fakulteite op te stel met verskillende vlakke van hernuwing per program.

Die volgende inligting is van die visedekane gevra: ʼn kandidaatprogram, ʼn spanleier wat die hernuwingsproses sal stuur, ʼn lys spanlede, ʼn tydlyn en watter hulpbronne benodig kon word. Om sake in beweging te bring, het prof Gilly Salmon (Adjunk-Visekanselier: Opvoedingsinnovasie, Universiteit van Wes-Australië) van 16 tot 18 Mei vanjaar ʼn werksessie by Devonvale naby Stellenbosch gelei waar op aspekte van die ontwerp van programme sowel as modules gefokus is. Verteenwoordigers uit al tien fakulteite het die werksessie bygewoon.

 

Tydens die sessies het die programspanne, wat uit fakulteitslede en professionele akademiesesteunpersoneel saamgestel is, in groepies ('selle') gefokus op hulle kandidaatprogram sowel as twee of drie sleutelmodules in die betrokke program. Die deelnemers het prof Salmon se Carpe Diem-metodologie aangeleer as een moontlike benadering, en gaan vervolgens die proses in hulle onderskeie fakulteite herhaal met die res van die modules in die gekose program sowel as met ander programme.

Volgens die fakulteite self is tyd een van die vernaamste faktore wat grondige programvernuwing verhinder, maar prof Salmon se metodologie is juis hiervoor getoets en daar is bewys dat dit binne ʼn kort tydperk resultate oplewer.

Hoe om die institusionele fokus te behou en goeie praktyk uit te ruil

 

Die visedekane sal voortgaan om gereeld vir interfakultêre gesprekke bymekaar te kom met die oogmerk om kritiese vrae te stel en goeie praktyk uit te ruil. Hierdie gespreksforums sluit ook die groter projekspan in, onder andere verteenwoordigers uit die VS van die Vise-Rektor: O&L, soos die Senior Direkteur: Leer- en Onderrigverryking; personeel uit die Sentrum vir Onderrig en Leer, die Sentrum vir Leertegnologieë en die Taalsentrum; die Senior Direkteur: Institusionele Navorsing en Beplanning, en personeel uit Akademiese Beplanning en Gehalteversekering. Die oorkoepelende temas van die projek, wat deur die voorafgaande dinksentrums bepaal is, sal as deel van ʼn oorkoepelende driejaarprojek op fakulteits- sowel as institusionele vlak aan die orde kom. Die projekplan sal verfyn word namate die fakulteite en steunspanne ervaring oor die kandidaatprogramme opbou en hulle programhernuwingspadkaarte bywerk.