Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USOpedag
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 05/03/2018

#USOpedag

Die Universiteit Stellenbosch (US) het tydens sy jaarlikse Opedag op Saterdag, 24 Februarie 2018, sy deure vir voornemende studente uit alle dele van Suid-Afrika oopgegooi. Graad 11- en graad 12-leerders het die geleentheid gekry om meer uit te vind oor die kursusse wat die Universiteit aanbied.

Stellenbosch was in rep en roer met jongmense wat uit elke windrigting op die Kampus toegesak het om hulle kennis van die Universiteit te verbreed. Onder die voornemende studente was Amy Low, Kirsten Regenass en Jani Low wat al die pad van Jeffreysbaai af gekom het om die US se Opedag 2018 by te woon. “Niks sou ons hier kon weghou nie! Ek wil graag die Fakulteit Regsgeleerdheid besoek en meer leer oor als waarmee ek volgende jaar te doene gaan kry," sê Kirsten.

Die Maties Opedag was 'n ideale geleentheid vir leerders om waardevolle inligting oor die aangebode programme, loopbaankeuses, beurse en lenings, studiegelde, akkommodasie, sportgeleenthede, studenteverenigings, studentelewe, en nog vele meer te bekom.

IMG_8534.jpg
Inligtingstalletjies, gesprekke met fakulteitspersoneel oor die onderskeie studievelde en fakulteitsaanbiedings is van 09:00 tot 16:00 gratis vir almal aangebied.

Die agtienjarige Micalab Lawrence van die PW Botha Kollege op George het gesê, “Ek's hier om by die Departement Joernalistiek te kom inloer, want ek het gehoor die Universiteit Stellenbosch is een van die beste plekke in die Wes-Kaap wat joernalistiek aanbied."

Kayleigh Roux (16) van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes het gesê sy woon die Opedag by omdat sy meer oor die sielkundekursusse wil uitvind. “Die inligtingstalletjies was baie nuttig en het aan al my verwagtings voldoen."

Voornemende studente kon deur die dag met die Rektor en Visekanselier prof Wim de Villiers gesels, en het kans gekry om te luister terwyl hy 'n paar van die notas met toekomsdrome lees wat van die leerders op die US se droommuur buite die Neelsie gelos het.