Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se kuberkrakerspan wen groot
Outeur: Media and communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 01/03/2018

Die BitPhase-span van die US se Afdeling Rekenaarwetenskap het die eerste Cybersecurity Challenge wat gedurende die CHPC (Centre for High Performance Computing) se jaarlikse konferensie aangebied is, gewen. Dié konferensie het vanaf 3 tot 6 Desember 2017 in Pretoria plaasgevind.

Eerstejaar rekenaarwetenskapstudente Luke Joshua, Joseph Rautenbach, Jonathan Botha en MSc-student Nicolaas Weideman het sewe ander spanne die onderspit laat delf gedurende dié uitmergelende kompetisie wat vier dae lank geduur het.

Die kompetisie is georganiseer deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingsnetwerk (SANReN) as deel van hul inisiatief om belangstelling in inligting en kubersekuriteit binne rekenaarnetwerke aan te moedig. Studente word gekonfronteer met uitdagings wat scenarios in die werklikheid uitbeeld.

Gedurende die eerste rondte van die kompetisie in Oktober verlede jaar het meer as 'n honderd studente vanoor die hele land deelgeneem. Hulle moes oplossings vind deur wagwoorde te ontsyfer, webwerwe se sekuriteit op te skerp en swak sekuriteitsleutels op te spoor. Slegs agt spanne van vier lede elk het tot die finale rondte in Desember deurgedring.

Die hoofuitdaging het uit verskeie kubersekuriteit scenarios bestaan en die spanne moes 'n stelsel aanval ten einde sy swakhede uit te buit: “Die idee van die kompetisie is dat ons meer leer oor hoe om 'n stelsel te beskerm deur dit eers aan te val," verduidelik Botha.

Die spanne moes ook hul eie stelsels teen aanvalle vanaf die ander spanne afweer.

Vir hul wenpoging het die spanlede van BitPhase elk 'n goue medalje en 'n volledige Raspbeerry Pi-stel met 'n kamera-module ontvang.

Span Blitzkrieg, ook van die US, het vierde gekom in die hoofuitdaging.

Op die foto bo, van links na regs, Nicolaas Weideman, Joseph Rautenbach, Jonathan Botha en Luke Joshua.