Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Die US Woordfees 2018 se waterbesparingsplan
Outeur: Woordfees
Gepubliseer: 23/02/2018

Vir die Woordfeesbestuur was twee dinge met die beplanning van die 2018-fees duidelik: Stellenbosch kan nie 'n fees hou wat die streek se waterkrisis vererger nie, maar die dorp kan ook nie bekostig om nie vanjaar 'n Woordfees aan te bied nie – die ekonomiese skade sal net te groot wees. Die Woordfees verskaf werk aan meer as 600 mense gedurende die fees en dit sluit nie eers al die musikante en kunstenaars in wat optree nie. Die verlies van die plaaslike gasvryheidsbedryf sal enorm wees.

 

Die Woordfees 2018 het daarom in oorleg met die Universiteit Stellenbosch die volgende watermaatreëls getref:

 

  • Watervrye chemiese toilette sal by alle venues geïmplementeer word.
  • Munisipale toilette sal slegs vir noodgevalle beskikbaar wees.
  • Alle krane in badkamers sal toegedraai word en waterlose handwasmiddels sal beskikbaar wees.
  • Die paar noodkrane wat wel oop is, sal van waterbesparende “eco nozzles" (waterdrukregulerende sproeikoppe) voorsien word wat sewe keer minder water gebruik as 'n gewone kraan. 
  • Geen ys sal, so ver moontlik, gebruik word om drank te verkoel nie.
  • Geen waterhouers sal gebruik word om feestente te anker en stabiliseer nie.
  • Skoonmaakspanne sal waterbotteltjies wat halfgedrink op die feesterrein agtergelaat word, insamel vir hergebruik in die fees se gryswaterstelsel.
  • Emmers sal beskikbaar wees om water op te vang in die enkele venues waar storte beskikbaar is.

 

Die Universiteit Stellenbosch ondersteun die fees se waterplan deur finansiële bystand met die oorskakeling na chemiese toilette te verleen. Die US skenk ook boorgatwater wat gesuiwer en gebottel word. Die fees sal bottels van hierdie water aan feesgangers verkoop wat verniet hervul kan word by verskeie punte in die feeskern-area. Die Universiteit het daarbenewens onderneem om 'n groot hoeveelheid van sy eie boorgatwater terug in die munisipale waterstelsel te stort.

 

Die US Woordfees rig daarbenewens versoeke aan alle gastehuise en hotelle wat feesakkommodasie verskaf om:

 

  • proppe uit baddens te verwyder en die watertoevoer daarheen af te sny.
  • waterlose handwasmiddels te verskaf.
  • emmers in storte te gebruik.

Feesgangers word gevra om:

 

  • genoeg klere in te pak sodat hulle gedurende die fees wasgoed hoef te was nie.
  • hul eie handdoeke na gastehuise of hotelle saam te bring en weer terug huis toe te neem.
  • in gastehuise of hotelle te vra dat hul beddegoed nie onnodig geruil word gedurende hul verblyf nie.
  • die waterlose chemiese toilette te gebruik.
  • die waterlose handwasmiddels te gebruik wat op die feesgronde te koop is.
  • bewus te wees van hul watergebruik oral waar hulle in die dorp beweeg en om enige lekkasies aan te meld by Catherine Channing: 084 220 4006.

Feesgangers wat met 'n motor van buite die droogtegeteisterde streek kom, word vriendelik gevra om asseblief:

  • twee 5 l-waterbottels saambring om mee gesig te was en tande te borsel.
  • indien moontlik, 'n houer water uit hul streek saam te bring wat ons kan absorbeer in die fees se gryswaterstel. Daar sal 'n versamelpunt wees by die Plataan, agter die US Museum in Van Ryneveldstraat, om sulke waterskenkings af te laai. 

Alle stalletjies word versoek om so ver moontlik hul eie water gedurende die fees te voorsien.