Die eerste paar kleine blaartjies van 'n rokketslaaiplant is 'n baie gesonde happie – en soveel te meer so as dié jonge plante onder besonderse intense lig gekweek word, vertel dr Bianke Loedolff, 'n plantnavorser van die Universiteit Stellenbosch (US).
Dr Loedolff bestudeer natuurlike maniere om voedselplante te biofortifiseer of 'n hupstoot te gee sodat hulle as funksionele kossoorte gebruik kan word wat bykomende voedings- en gesondheidsvoordele bied aan diegene wat dit eet. Sy is 'n navorser van die Instituut vir Plantbiotegnologie in die US Fakulteit AgriWetenskappe se Departement Genetika.
Loedolff stel veral belang in sogenaamde mikro-plante (“micro-greens"). Dit verwys na die eerste twee tot vier ware klein blaartjies wat uit 'n ontwikkelende plantjie groei. Haar navorsing oor mini-rokketblare is onlangs gepubliseer in die vaktydskrif Functional Foods in Health and Disease. Sy het dit voltooi saam met US-kollegas dr Marietjie Stander, dr Shaun Peters, prof Jens Kossmann en 'n onlangse BSc Hons-student Jolene Brooks.
Loedolff het besluit om rokket te ondersoek omdat vorige studies gewys hoeveel voedingswaarde daar in hierdie slaaiblare met hul kenmerkende pepersmaak is. Min werk hieroor is egter al op die jonger weergawes van hierdie plante gedoen.
Deur haar navorsing het Loedolff 'n bestaande metode aangepas wat intense beligting gebruik om rokketblare suksesvol te biofortifiseer, en die maksimum voedingswaarde daaruit te put. Sy glo hierdie metode kan maklik aangepas word vir gebruik in kweekhuise en selfs by die huis.
Die bonusse wat in plante verpak is
Terwyl plante groei bou 'n verskeidenheid biologiese verbindings wat fitochemikalieë genoem word in hul blare op. Dit is meestal voedingsryk. Navorsing het gewys dat die eerste handvol blaartjies van 'n plant die meeste gesondheidswaarde het, omdat daar soveel meer fitochemikalieë in hulle versamel as deel van die plant se natuurlike beskermingsmeganismes.
“In die meeste plante kan die eerste jong blaartjies wat groei tot tien keer meer fitochemikalieë en voedingswaarde as die latere volwasse blare hê," vertel Loedolff.
Plante ervaar dikwels stres wanneer hulle te min water kry, of aan te veel sonlig of minerale blootgestel word. Ter beskerming stel hulle dan ook meer fotochemikalieë vry. Navorsers gebruik nou dieselfde tegnieke in 'n poging om die voedselbedryf te help om op natuurlike maniere plantgroei te stimuleer en te biofortifiseer.
Die bestaande studie
Loedolff het rokketsaad by 'n plaaslike kwekery gekoop en twee verskillende groepe begin groei by die Instituut vir Plantbiotegnologie se kweekhuis op die Matie-kampus.
Die eerste groep saailinge is gegroei onder toestande soortgelyk aan wat binnenshuise plante wat geen direkte sonlig kry nie ervaar. Die ander groep het onder spesiale gloeilampe gestaan. Dié het drie keer meer lig gegee – soortgelyk aan wat 'n plant wat heeldag in direkte sonlig op 'n vensterbank staan ervaar.
Die eerste blaartjies is toe gepluk en geanaliseer om vas te stel watter verbindings met moontlike gesondheidsvoordele daarin opgebou het. Al die verbindings wat in vorige studies op volwasse rokketblare waargeneem is, is ook in die jong blare wat onder meer intense beligting gegroei het gevind, en dan teen heelwat hoër konsentrasies. Daarby is verskeie verbindings (soos resveratrol, catechin, epicatechin, en kaempferol) geïdentifiseer wat nog nie voorheen in rokketblare waargeneem is nie.
“Mens kry resveratrol onder meer in druiwedoppe, en dit kan help om die hart te beskerm," vertel Loedolff.
Die eerste paar blaartjies afkomstig van die plante wat onder normale ligtoestande gegroei is, was groen, maar die ander groep s'n was donkerrooi tot pers. Volgens Loedolff is dit weens die opbou van anti-oksidantryke fitochemikalieë. Die biogefortifiseerde mikro-plantjies in groep twee het byna drie keer meer antioksidante (insluitend vitamien C) opgebou het as die ander.
“Danksy hierdie tegniek kon ons die kleine plantjies in funksionele kossoorte omskep wat selfs meer gesondheidsvoordele inhou," vertel Loedolff. “Hierdie resultate wys dat mini-rokketblare heelwat voordele vir verbruikers kan inhou."
Volgens Loedolff is dit heeltemal moontlik om die meeste van hierdie gesonde voedingstowwe in te kry as deel van 'n dieet waarin volwasse groentes soos broccoli, krulkool (“kale") en Brusselse spruite baie gereeld geëet word. “As mens die meer voedingsryke mini-weergawes hiervan eet, hoef mens egter nie so baie daarvan inneem om dieselfde voordele te kry nie," reken Loedolff.
Loedolff reken dat mense heel maklik hul eie slaaiblare op soortgelyke wyse tuis sal kan groei, afhangend of hulle gepaste gloeilampe kan kry en die elektrisiteitskoste daarvan kan dra. Dit kan ook werk om plante op 'n plek te groei waar hulle voortdurend sonlig kry.
“Die biofortifisering van verskillende soorte mikro-plantjies tot funksionele kossoorte behoort deel te word van die arsenaal waarmee ons die voorkoms van nie-oordraagbare siektes probeer beveg," reken Loedolff, wat tans besig is om die effek van verskillende verbindings in mini-rokketblare te ondersoek op siekteselle, soos kankerselle.
Het jy geweet?
* Rokket se oorsprong is die Mediterreense streek.
* Die slaaiblare is bekend vir hulle peperige aroma en skerp smaak.
* Dié smaak word toegeskryf aan die teenwoordigheid van die verbinding glukosinolaat in die blare.
* Dit word dikwels rou geëet in 'n slaai of bo-op 'n pizza.
Wat is die verskil tussen mikro-plante en spruite?
Mikro-plante (“micro-greens") is die eerste paar klein ware blaartjies wat uit 'n plant groei. Aan die ander kant is spruite sade was besig is om te ontkiem.
Verwysing: Bianke Loedolff, Jolene Brooks, Marietjie Stander, Shaun Peters, and Jens Kossmann (2017). High light bio-fortification stimulates de novo synthesis of resveratrol in Diplotaxis tenuifolia (wild rocket) micro-greens Functional Foods in Health and Disease