Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dusi-deelnemers gereed vir aksie
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 14/02/2018

Elf lede van die Maties-kanoklub sal van 15-17 Februarie aan die Dusi-kanomarathon, 'n wedvaart wat oor sowat 120 km tussen Pietermaritzburg en Durban in KwaZulu-Natal strek, deelneem. 

Onder hulle sal die broers Alan (21) en Andrew (24) Houston en die susters Jordan (22) en Cana (19) Peek wees.

Albei hierdie spanne het op 13 Januarie uitstekend gevaar in die Umzinyathi 50 Miler-wedvaart, met die Houston-broers wat algeheel tweede in die manskategorie geëindig het en die Peek-susters wat die eerste plek in die vrouekategorie losgeroei het.

'n Week later, by die N3TC Drak-uitdaging, het Alan die o.23-kroon vir mans verower, terwyl Cana tweede geëindig het in die resies vir vroue o.23.

Cana studeer vir 'n graad in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), terwyl Jordan in 2017 haar BA honneursgraad in Geografie en Omgewingstudie aan die US verwerf het. Alan en Andrew studeer aan IMM se Nagraadse Bestuurskool in Stellenbosch, maar is albei lede van die Maties-kanoklub.

Die Peeks het begin roei as hoërskoolleerders in Epworth in KwaZulu-Natal.

Vir Cana is die beste deel van die Maties-kanoklub die weeklikse sosiale resies op Dinsdae en die vriendskappe wat sy gesmee het.

Jordan beskryf die Maties-kanoklub as baie divers.

“Elke lid bring iets anders na die klub wat dit baie uniek en spesiaal maak," sê sy.

“Ek was nog altyd baie lief vir watersport en die natuur. Om te roei is 'n manier vir my om in die buitelug te wees en plekke uit 'n ander perspektief te sien. Ek geniet regtig hoe deelname aan hierdie sport jou die geleentheid gee om vriende te maak met mense met dieselfde belangstellings. Kanovaart daag jou ook voortdurend uit, veral wanneer jy teen 'n sterk en talentvolle veld roeiers meeding."

Alan sê dit is 'n wonderlike ervaring om deel van die Maties-kanoklub te wees.

“Daar heers 'n gemoedelike gees by die klub en dit is baie maklik om by die klub aan te sluit met almal wat so gretig en gewillig is om te help. Daar heers van die beste kamaraderie wat ek nog ooit ervaar het met opwindende en prettige geleenthede."

Ander lede van die Maties-kanoklub wat aan die Dusi gaan deelneem, is Mike Jamieson, Guy Musto, Brandon Macleod, Evan Knight, Holly Edmonds, Sarah Harries en Kerry-Ann Lyne.

Volg die Maties-kanoklub op Facebook, Instagram en Twitter, of kontak klubvoorsitter Evan Knight by evanericknight@gmail.com vir meer inligting.

Almal is welkom en nou vorige ondervinding is nodig nie.