Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ranglyste ignoreer plaaslike omstandighede van universiteite, meen kenners
Outeur: Alec Basson [Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie]
Gepubliseer: 08/02/2018

Die legitimiteit van wêreldranglyste vir universiteite word dikwels bevraagteken omdat hulle nie die plaaslike kontekste van hoër onderwysinstellings, veral dié in ontwikkelende lande, in ag neem nie.

Dít was die strekking van 'n paneelbespreking van die Wetenskapsakademie van Suid-Afrika (ASSAf) wat Woensdag (7 Februarie 2018) by die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gehou is. Die bespreking het gefokus op die tema University Rankings: Helpful or harmful? en is deur prof Jonathan Jansen van die US se Departement Opvoedingsbeleidstudie gemodereer. Dit was die eerste van 'n reeks gesprekke wat regoor die land sal plaasvind.

Die ASSAf-paneelbesprekings bring kundiges in 'n spesifieke veld byeen om te praat op 'n belangrike samelewingskwessie wat die refleksie van die beste denkers oor die spesifieke onderwerp vereis.

In ʼn poging om ʼn gebalanseerde siening van ranglyste te bied, het Prof Robert Tijssen van die Universiteit van Leiden gesê dat ten spyte van die groot verskeidenheid ranglyste en die robuustheid van die stelsel, daar nog baie ruimte vir verbetering is.

“Sommige prestasie-aanwysers is sydig, sommige is minder relevant en ander is dubbelsinnig. Ons het nie 'n duidelike idee van wat hulle verteenwoordig nie. Daar is geen rasionaal agter die stelsel om sekere aanwysers te weeg nie en die keuse van aanwysers is ondeursigtig."

“Dit is 'n groot tekortkoming."

Tijssen het gesê dit is belangrik om duidelik te maak waarom sekere prestasie-aanwysers gekies word en ander geïgnoreer word.

“Ek voel daar word nie genoeg gedoen om diegene wat ranglyste gebruik in te lig en bewus te maak van die voordele en beperkings van ranglyste nie."

Prof Lis Lange van die Universiteit van Kaapstad het sekere voordele van ranglyste uitgelig en gesê hulle gee studente meer keuses in terme van waar hulle wil studeer en verskaf ook inligting oor hoe 'n land in terme van internasionale mededingendheid vaar.

“Die ander ding wat hulle doen, is om in ʼn sekere sin 'n mate van druk op individuele hoër onderwysinstellings te plaas om hul strategie te wysig. Ranglyste verander ook die manier waarop universiteite bestuur word."

Sy het egter daarop gewys dat een van die onbedoelde gevolge van ranglyste is dat die idee om onder die top 100 te wees, universiteite se strategie word.

“Die hele wese van ʼn universiteit word gereduseer tot ʼn posisie onder die top 100 en dit het baie ernstige implikasies. Ranglyste word die goue maatstaf."

Wat die relevansie van ranglyste vir Afrika betref, het prof Nico Cloete van die Centre for Higher Education Trust and Higher Education Research and Advocacy Network in Africa gesê ranglyste is te ver verwyder van dit waarop instellings op die vasteland behoort te fokus.

“Ons het 'n strategie nodig om instellings te ontwikkel wat navorsing en kennis kan produseer. Baie van die ranglyste help nie hiermee nie."

Prof Zeblon Vilakazi van die Universiteit van die Witwatersrand het gesê hy het sy bedenkinge oor ranglyste.

  • Die US was die afgelope klompie jare gereeld onder die beste universiteite op gesaghebbende wêreldranglyste vir universiteite soos die Times Higher Education-, Quacquarelli Symonds (QS)-, en Leidense ranglys.

Foto: Profs Nico Cloete, Zeblon Vilakazi, Robert Tijssen, Jonathan Jansen en Lis Lange na afloop van die paneelbespreking.