Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SciMathUS-studente moet nou ‘die kleed van sukses aantrek’
Outeur: Asiphe Nombewu/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 06/02/2018

​​​“Smyt die kleed van mislukking eenkant toe en trek die sukseskleed aan, want jy word nou 'n tweede geleentheid gebied om beter met jou studies te vaar."

Dít was die boodskap van me Nokwanda Siyengo, Direkteur van SciMathUS, toe sy Maandag (5 Februarie) ouers en studente met die openingsplegtigheid van SciMathUS toegespreek het.

Siyengo het gesê: “Uit 700 studente wat aansoek gedoen het om in dié program opgeneem te word, is net 107 gekeur, dus meen ek julle behoort trots te wees dat julle al so ver gevorder het."

Die SciMathUS-program vorm deel van 'n verskeidenheid eenhede binne die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, spesifiek die US Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP). Dié program bied jaarliks aan honderd leerders, wat reeds Graad 12 geslaag, maar nie vir hoër onderwys gekwalifiseer het nie, 'n tweede geleentheid om hulle NSS-uitslae in spesifieke vakke te verbeter wat hulle in staat sal stel om vir universiteisprogramme heraansoek te doen.

Dr Trevor van Louw, SUNSEP se Direkteur, het gesê dié program is 'n sukses as gevolg van die harde werk en toewyding van personeel en studente.

Franzelle Adriaanse van Eersterivier het gesê haar dogter, Logan (18), was nog altyd 'n top student in haar skool en het sy bygevoeg: "Ek het geen twyfel dat sy van vanjaar 'n sukses sal maak nie en iedere geleentheid wat haar aangebied word, sal gebruik.

“Ek is nog nooit van my dogter geskei nie, maar na alles wat ek vandag aangehoor het, is ek gerus met die wete dat sy in goeie en bekwame hande is.  Hulle het met vele kinders in die verlede sukses gehad en sal vir seker dieselfde vir my dogter doen."

Studente Tshepiso Maseko, Mohale Rabapane en Boitshepo Nchabeleng het van so ver soos Mpumalanga, Gauteng en Limpopo onderskeidelik gereis om deel van die program te wees.

Tshepiso Maseko, van Nelspruit, Mpumalanga, het gesê: “Ek is so effe op my senuwees, maar ek sal alles soos dit kom, hanteer; afgesien daarvan dat ek in my studies suksesvol wil wees, is ek ook opgewonde oor die feit dat ek met 'n verskeidenheid mense gaan meng en hulle kultuur gaan leer ken, asook die verskillende wyses waarop hul dinge doen.  Ek beplan om na die jaar in hierdie program medies aan te pak."

Studente word ook die geleentheid gebied om hulle NSS-punte in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe te verbeter.  Hulle kan ook Rekeningkunde en Inleiding tot die Ekonomie aanpak.

Soos in vorige jare, het die 2017-inname in dié jaar se NSS-eksamen puik gevaar – agt onderskeidings is in Wiskunde behaal en 23 in Fisiese Wetenskappe. In die groep van 93 studente, het 83 meer as 60% in Wiskunde behaal, en 55 studente in Fisiese Wetenskappe het meer as 60% behaal.

Sedert dié program in 2001 die eerste keer aangebied is, het meer as 1 100 studente dit suksesvol afgelê.