Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waterkrisis: Maak die meeste van elke druppel water
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 31/01/2018

“Bespaar water!” was die dringende beroep wat die Universiteit Stellenbosch (US) se Fasiliteitebestuur tydens ʼn onlangse droogtereaksie-inligtingsessie op studente en personeellede van die Tygerberg-kampus gedoen het.

Om aan die Vlak 6B-waterbeperkings te voldoen wat vanaf 1 Februarie vir die Stad Kaapstad geld – en om boetes te vermy – moet die Tygerberg-kampus, waar die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gesetel is, sy waterverbruik met 45% verminder – van 550 kiloliter tot 300 kiloliter per dag.

Die US stel tans ʼn omvattende droogtereaksieplan in werking om Dag Zero, wat na raming binne twee maande gaan aanbreek, af te weer.

John de Wet, die US se Eiendomsdienstebestuurder, het tydens die inligtingsessie verduidelik dat etlike waterbesnoeiings- en hergebruikinisiatiewe reeds op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse in werking is. Hierdie inisiatiewe, wat deur die Rektoraat goedgekeur is, sluit die ontwikkeling van strategieë vir die vermindering van waterverbruik in, asook om huidige waterbronne te optimaliseer en alternatiewe bronne te bekom.

Die Tygerberg-kampus huisves sowat 4 500 geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente en is die werkplek van 1 600 akademiese en administratiewe werknemers.

“Almal op die Tygerberg-kampus gebruik tesame ongeveer 550 kiloliter water per dag. Ons moet dit tot 300 kiloliter per dag verminder, wat aan die Stad Kaapstad se 45%-waterbesparingsvereiste vir besighede sal voldoen,” het De Wet gesê.

Tygerberg-studente en -werknemers is aangespoor om al die moontlike te doen om hul daaglikse verbruik oor die volgende weke heelwat te verminder. Die FGGW-bestuurspan het reeds ʼn aansienlike hoeveelheid hulpbronne en tyd aan waterbesparingspogings op dié kampus bestee. Onmiddellike ingrypings sluit in die opsporing van lekkasies, gereelde vergaderings met loodgieters om stukkende of lekkende pype te herstel en die inwerkingstelling van verdere doeltreffendheidsmaatreëls soos die vervanging van toiletvolumekrane, doeltreffende wasmasjiene en watervrye urinale.

Die US se bestuurspan, sy fasiliteitespan en eksterne ingenieursvennote het reeds die verkrygingsproses begin vir dienste om die hergebruik van water (deur die installering van ʼn gryswaterstelsel) en die verkryging van alternatiewe waterbronne op die Tygerberg-kampus moontlik te maak. Die ingenieursmaatskappy Hatch sal die US en die FGGW met die inwerkingstelling van ʼn klomp van die droogtereaksieprojekte help.

Ter aanvulling van die kampus se watervoorraad is vier boorgate reeds gesink en sal nog een in die komende weke gesink word. ʼn Waterfiltreringstelsel, wat na verwagting teen einde Maart geïnstalleer sal wees, sal gebruik word om die water te behandel sodat dit drinkbaar is.

Indien Dag Zero aanbreek en watervoorsiening deur die Stad Kaapstad afgesny word, sal die FGGW water van ʼn ondergrondse reservoir bekom, of van die swembad op die kampus wat met grondwater uit die boorgate aangevul sal word. Indien nodig, sal water afkomstig van eksterne bronne met tenks aangery word.  

Kliek hier om na ‘n kort potgooi oor die droogtereaksieplan vir die Tygerberg-kampus te luister.