Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huisartse lewer beduidende bydrae tot gesondheidsorg
Outeur: Alec Basson [Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie]
Gepubliseer: 26/01/2018

Suid-Afrika se huisartse mag dalk in die minderheid wees, maar hulle lewer ʼn beduidende bydrae tot gesondheidsorg in die land. Hulle help om die distriksgesondheidstelsel te versterk en die gesondheid en welwees van miljone mense wat nie mediese versekering kan bekostig nie te verbeter.

Dít is een van die vernaamste bevindinge van 'n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Huisartse help om die viervoudige las van MIV/Vigs en tuberkulose; moeder- en kindergesondheidsprobleme; nie-oordraagbare siektes sowel as trauma en geweldverwante beserings onder baie Suid-Afrikaners te verlig," sê dr Klaus von Pressentin, 'n huisarts van Mosselbaai.

Von Pressentin het onlangs sy doktorsgraad in Huisartskunde aan die US onder leiding van prof Bob Mash van die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe verwerf. Die studie het huisartse se bydrae tot Suid-Afrika se distriksgesondheidstelsel geëvalueer.

Huisartse is algemene deskundiges (oftewel expert generalists) met nagraadse opleiding in Huisartskunde. Algemene deskundiges pas hul kennis van verskillende velde op hul eie spesialiteitsarea toe. Daar is tans 950 huisartse by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe geregistreer is, maar nie almal werk in die publiek sektor (distriksgesondheidstelsel) nie. In die begin van 2015 was daar 209 huisartse in die distriksgesondheidstelsel.

As deel van die studie het Von Pressentin die impak van 52 huisartse in sewe provinsies (Wes-Kaap, Noord-Kaap, Gauteng, Noordwes, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga) geëvalueer. Hy het ook gekyk na hoe hulle help om die distriksgesondheidstelsel te versterk. Om dit te bepaal, het hy 542 van die huisartse se kollegas gevra om ʼn 360-grade opname oor hul impak te voltooi.  K von Pessentin001.jpg

Verder het hy onderhoude met 21 distriksbestuurders in die sewe provinsies gevoer oor die impak van al die huisartse in hul distrikte. Von Pressentin het ook 30 distriksgesondheidsfasiliteite waar huisartse werksaam was met 30 daarsonder vergelyk en die korrelasies tussen die voorsiening van huisartse in elke distrik en belangrike prestasie-aanwysers vir die gesondheidstelsel, belangrike kliniese prosesse en gesondheidsuitkomste geëvalueer.

Von Pressentin sê huisartse help versterk die distriksgesondheidstelsel deur ses belangrike rolle te vervul wat mekaar aanvul tydens die huisarts se daaglikse aktiwiteite (interaksie met pasiënte, kollegas, bestuurders en studente).

“Hulle sorg vir pasiënte; ondersteun ander gesondheidspraktisyns; mentor en lei minder gekwalifiseerde klinici op; bied kliniese opleiding aan mediese studente, klinies-geassosieerde studente, interns of registrateurs; verbeter die gehalte van kliniese dienste binne hul subdistrik en fasiliteit; en bevorder gemeenskapsgeoriënteerde primêre gesondheidsorg."

“Kollegas van huisartse het aangedui dat hul impak oor hierdie ses rolle heen hoër was in vergelyking met ander dokters by dieselfde fasiliteit."

“Distriksbestuurders het die belangrikheid van al ses rolle van die huisarts bevestig en het beide direk en indirek aangedui hoe huisartse die funksionering van die gesondheidstelsels en kliniese uitkomste help verbeter. Huisartse is ook as belangrike kliniese leiers in die distriksgesondheidsorg- span gesien."

“Die terugvoer van distriksbestuurders het ook beklemtoon dat huisartse se vermoë om as leiers op te tree en hul kollegas te beïnvloed 'n belangrike faktor is in die bepaling van hul impak op die gesondheidsuitkomste in die gemeenskap wat hulle dien."

Von Pressentin voeg by dat distrikshospitale waar huisartse werksaam was beter uitkomste gehad het in terme van die funksionering van die gesondheidstelsel en kliniese prosesse. Hy wys egter daarop dat dit nie in gemeenskapsgesondheidsentrums die geval was nie.

“Laasgenoemde bevinding was verrassend en strydig met die wêreldwye literatuur wat aangedui het dat huisartse in ʼn ideale posisie is om primêre gesondheidsorg in die algemeen te verbeter en om spesifiek die kontinuïteit en koördinering van sorg te verbeter."

Von Pressentin sê dit kan wees omdat huisartse ontplooi is waar die behoefte die grootste was en dat hul opleiding hulle beter voorberei het vir distrikshospitale in teenstelling met gemeenskapsgesondheidsentrums. Dit is ook moontlik dat hul invloed groter was binne die bestuurstruktuur by distrikshospitale as in primêre gesondheidsorg, voeg hy by.

Nie genoeg huisartse nie

Von Pressentin sê die studie beklemtoon die behoefte aan meer huisartse bykomend tot dié wat reeds help om gesondheidsorg te verbeter. Dit is veral belangrik in die lig van Suid-Afrika se gesondheidsuitdagings.

“Ons moet aan meer goed opgeleide huisartse in die land se distriksgesondheidstelsel werk verskaf  omdat daar tans te min is. Dit is ten spyte daarvan dat sleutelbevindings wys huisartse het ʼn positiewe invloed op die stelsel."

“Dit is belangrik om meer poste vir huisartse in beide die metropolitaanse en landelike distrikte te skep, asook in beide distrikshospitale en gemeenskapsgesondheidsentrums."

Von Pressentin sê die skep van meer poste vir huisartse sal help om die implementering van huisartskunde in die distriksgesondheidstelsel te ondersteun, veral in gebiede met geen of afgesonderde huisartse.

“Internasionale navorsing het getoon dat gesondheidstelsels sterker is as hulle die primêre gesondheidsorgbenadering volg en huisartse in hul primêre sorgspanne insluit."

Hy sê die rolle van huisartse moet duidelik gemaak word en hulle moet ondersteun word om dit te vervul.

“Distriksbestuurders was dit eens dat huisartse, hul spanlede (insluitend senior kollegas, ander spesialiste, plaaslike en distriksbestuurders), sowel as koördineerders van akademiese opleiding moet deelneem aan deurlopende gesprekke oor rolverduideliking, mentorondersteuning (senior huisartse) en die groei wat in rolle plaasvind (van klinikus/konsultant tot leier en opleier in kliniese bestuur)."

Von Pressentin meen daar is steeds onsekerheid oor beleid en verskillende interpretasies rakende die beste wyses om huisartse aan te stel.

Hy sê huisartskunde is 'n relatief jong dissipline en daarom moet meer navorsing gedoen word om die leiers van die Departement van Gesondheid, hoër onderwysinstellings en die instansie vir die lisensiëring van nasionale gesondheidsberoepe te oortuig om in huisartse te belê.

Von Pressentin sê hy hoop sy navorsing sal as katalisator kan dien vir toekomstige studies en help om samewerking tussen navorsers te versterk en huisartskunde in Suid-Afrika te ontwikkel.

  • Hooffoto: Krediet: Pixabay
  • Foto 1: Dr Klaus von Pressentin

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Klaus B Von Pressentin

Huisarts

Mosselbaai-subdistrik

Wes-Kaapse Departement van Gesondheid

Tel: 071 401 6868

E-pos: klausvonp@gmail.com

                               UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za