Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verwelkoming van studente aan die Militêre Akademie op Saldanha
Outeur: Sandra Mulder/Corporate Communication Division
Gepubliseer: 25/01/2018

Die Militêre Akademie op Saldanha het Woensdagmiddag met trots en grasie 253 studente, waarvan 95 nuwelinge is, in die graadprogram van 2018, wat deur die Departement van Verdediging (DvV) en die Fakulteit Krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) gefasiliteer word, verwelkom.

Hierdie studente is tydens 'n openingsplegtigheid op die Saldanha-kampus in die teenwoordigheid van verskeie hooggeplaaste akademici en militêre personeel, wat by hulle opleidings- en leerprogram betrokke is, welkom geheet.

Die plegtigheid is voorafgegaan deur 'n Bevelsoorhandigingsparade waar die kommandant, genl.maj. Laurence Mbatha, amptelik bevel aan aan brig.genl. Gerald Pharo oorhandig het.  Laasvermelde is nou amptelik die nuwe Kommandant van die Militêre Akademie en hy en die Dekaan van die Fakulteit Krygskunde aan die Akademie, prof Sam Tshehla,  sal voortaan skouer aan skouer saamwerk.

 


​Genl. Pharo het na afloop van die parade gesê hy is ten volle daartoe verbind om te verseker dat die studente van die Akademie die beste opleiding en onderwys sal ontvang.

Prof Nico Koopman, Visierektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, wat namens die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, opgetree het, was by die amptelike opening die sleutelspreker.  Hy het 'n beroep op studente gedoen om hulle te beywer om “etiese leiers" te word, en hy het die akroniem HHH ingespan om te verduidelik hoe sulke leiers gekweek word.

Die eerste H staan vir Habitat.  Koopman het gesê dit sal hulle strewe moet wees om Suid-Afrika soos 'n habitat te maak waar almal in vrede, vryheid, geregtigheid, billikheid en met waardigheid kan leef. Tweedens is dit nodig dat hulle na die deugde (Habitus) kyk waarvolgens hulle leef.  “Leef met wysheid, moed, geloof, hoop, liefde, geregtigheid, matigheid en tree tussenbeide wanneer dit nodig word.  Laat jou optrede (Handlung) die habitat dien," was Koopman se bemoedigende woorde. (Kyk na die video van prof Koopman terwyl hy sy toespraak lewer deur hier te klik.)

Die studente is personeellede van die DvV en is by die militêre eenhede van die Suid-Afrikaanse Leër, Lugmag, Vloot en die Militêre Gesondheidsdienste gekeur om aan die graadprogram aan die Militêre Akademie deel te hê.  Die kwalifikasies wat hulle hoop om te verwerf, sal hulle bemagtig en help om leiers in hul spesifieke veld in die militêre korps te word.

Prof Tshehla het in 'n onderhoud met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie gesê dit is die Militêre Akademie se visie om sy inname van studente te vergroot en hy mik daarna om binne enkele jare 'n duisend studente jaarliks te kan akkommodeer.

Die Militêre Akademie bied 'n unieke werksooreenkoms tussen die DvV en die US.  Tshehla het gesê 'n nuwe Memorandum van Ooreenkoms (MOA), wat verlede jaar tussen die DvV en die US onderteken is, verseker die voortbestaan van die gedeelde opleiding. Dié ooreenkoms met die US is die eerste keer meer as 60 jaar gelede onderteken en dit funksioneer nog uitstekend, het Tshehla gesê.

Hy het vervolg: “Uitdagings rakende die akademie en militêre opleiding bestaan wel, maar kan bestuur word. Noue samewerking tussen die Kommandant en die Dekaan verseker dat die studente se opleiding altyd bo-aan die prioriteitslys staan."

Die uittredende Kommandant, genl.maj. Mbatha, het vroeër tydens die parade gesê die DvV en die US se verbintenis is stewig en word, trouens, nog hegter, veral in die lig van die hernude ondertekening van die Memorandum van Ooreenkoms.

Genl. Mbatha het bygevoeg: “Dit was 'n voorreg om as Kommandant van die Akademie te dien.  Tydens ons verbintenis was daar uitdagings, maar dié is te bowe gekom deur die belange van die Akademie altyd eerste te plaas.  Die mylpale wat ons bereik het, sou nie sonder die US, die Nasionale Weermag en die ondersteuning van lede van die Akademie moontlik gewees het nie."

 

 Military academy.jpgMilitary parade.jpg

 Mbatha vs Pharoo.jpgTshehla, Koopman Pharoo.JPG